Eie stories

Seevoëls gee my vlerke

Die ligstrepe in haar lang blonde hare verklap dit: Samantha Petersen sien baie son. Bo haar kop in die Kaapstadse Waterfront klink die krete van seevoëls op – heeltemal gepas.
Want Samantha is ’n mariene bioloog wat haar hart verloor het op die seevoëls en albatrosse van die koue Antarktika. Sy is projekbestuurder van Birdlife SA en die WWF se program vir verantwoordelike visserye. En in haar hart is daar altyd plek vir die see.

“Die see gee my krag,” sê sy en raak liries. “Die ritme van die golwe gee balans vir liggaam en siel.” G’n wonder sy hou van kajak-ry in die golwe, branderplankry, swem, duik en lang wandelings op die strand saam met haar ingenieur-man, Etienne de Villiers, nie. (Hulle is pas getroud en hy deel haar liefde vir die see.) “Die kragtige, vuurrooi Afrikasonsondergange
herlaai ons batterye.”

Haar missie betrek die hele seelewe. En dit meet sy aan die seevoëls, want sy glo die aantal seevoëls is ’n “sigbare barometer” van die gesondheid van ons mariene lewe. Vir haar is dit ’n eer om betrokke te wees “en ’n klein rol te speel om mariene gesondheid vir die toekoms te bewaar”.

Hoe sal sy haar persoonlikheid beskryf? het die sielkundige gevra voordat sy en ’n navorsingspan in April 2002 na die vulkaniese Marion-eiland vertrek het. ’n Veer, het sy gesê. ’n Veer simboliseer die sterkte van lugreise, die vryheid van vlieg. Maar ook weerloosheid en sensitiwiteit, glo sy. “Ek is dol oor die lewe en glo jy moet jou hart werp in als wat jy doen. Niks wat die moeite werd is, gebeur maklik nie. My ouers het ons kinders geleer om altyd na die groter prentjie te kyk.” As kind was hul huis soos ’n dieretuin. Hamsters, visse, hoenders. En haar skaaphond, Storm, was altyd aan haar sy. Sy het ook twee keer per week perd gery.

Niks wat die moeite werd is gebeur maklik nie

Seevoëls is haar roeping
Samantha werk nou met groot passie aan haar doktorsgraad oor hoe die visbedryf die voortbestaan van die albatros beïnvloed. Die grondslag hiervoor is op Marion-eiland gelê, waar sy dikwels onder baie moeilike omstandighede navorsing gedoen het saam met ses bioloë, drie weertegnici, ’n mediese dokter, ’n dieselwerktuigkundige en ’n radio-tegnikus. “Dit was een van die grootste avonture van my lewe. Ek het ’n week voor die reis gehoor die SA Nasionale Antarktiese Program (Sanap) soek ’n navorser en het dadelik my hele lewe opgepak, sonder om te weet wat op my wag.”

Sy het in 1994 ’n diploma as veeartseny-verpleegster aan Onderstepoort, Pretoria, verwerf. Sy en Storm het saam klas gedraf! “In 1995 het ek drie jaar lank Europa, Amerika, Afrika, Australië en Suidoos-Asië deurkruis en allerlei los werkies gedoen om my horisonne te verbreed . . .” En in 2002 het sy ’n graad in omgewingsbewaring en soölogie deur Unisa verwerf. Daarna het ’n honneursgraad in mariene biologie gevolg.

Haar oomblik van waarheid het gekom toe sy sewe maande by die Suid-Afrikaanse Nasionale Stigting vir die Beskerming van Kusvoëls (Sankub) in Bloubergstrand gewerk het. Derduisende pikkewyne is bedreig nadat die skip MV Treasure in Junie 2000 tussen Robbeneiland en Dasseneiland gesink en olie gestort het. “Ons het sommige dae tot twintig uur lank gewerk om hulle te red. Wat ’n wonderlike gevoel om te help! Ek het my hart op dié diere verloor. Hulle is so nuuskierig en aangepas by hul omgewing. As duiker weet ek wat met ’n mens se liggaam gebeur as jy sowat 15 m diep duik. Húlle duik tot 600 m. Ek het besef: Seevoëls is my ding. Marioneiland was dus deel van my roeping.”

Die lewe op Antarktika

In Antarktika aangekom, het dit haar getref toe die skip weer wegseil – 2 000 km weg van die res van die aarde se miljarde inwoners is nogal erg. Dit was vreemd om agter te bly met net robbe, ses voorafvervaardigde hutte vir die navorsers versprei oor die eiland, 100 km in omtrek, ’n klein hospitaal, ’n goed toegeruste basis, albatrosse en pikkewyne. “Die elemente hou jou geselskap en sulke voëlkolonies is ook nooit stil nie. Sowat 305 dae per jaar waai die wind stormsterk, en die aanvoelbare temperatuur is gewoonlik onder vriespunt.”

 

n Mens leef daar soos dit bedoel was dat die mensdom leef

 

Die hutte is primitief. As die gas vries, maak ’n mens jou kos soms oor kerse “warm”. Water vries in ketels en van bad is daar nie sprake nie, behalwe in die basis. TV-ontvangs bestaan nie, maar hulle het wel RSG opgevang. Die positiewe dinge oorskadu gelukkig die negatiewes, sê Samantha. “’n Mens leef daar soos dit bedoel was dat die mensdom leef. Die nóú tel. Daar’s geen begrip van tyd nie. Geen rye waarin jy wag nie, geen spertye nie. Al is jy ’n miljardêr, is daar niks wat jy kan koop nie.

“Jy sien die seisoene gebeur. ’n Hele 40% van die wêreld se groot albatrosse woon daar. Hul paringsdans in die somer is iets besonders. Eksoties, met uitgesperde vlerke (hulle het ’n vlerkspan van 3½ m). Met ingewikkelde passies sirkel hulle om mekaar, kop omhoog. Hulle lê net een eier elke twee jaar. Dit duur ’n volle jaar vir die eier om uit te broei. En hulle het net een lewensmaat. Hulle sien mekaar nooit tussen parings nie, maar kom mekaar teë binne enkele meters waar die eier gelê is. Wyfies sal tot 6 000 km vlieg om kos vir kuikens te kry. Hulle vlieg in 48 dae om die aarde, met rusposes tussenin,” borrel Samantha.

“Die albatros verteenwoordig die toppunt van vryheid in die natuur. Dink maar aan seevaarders wat haar lof besing en die gedig ‘The Rime of the Ancient Mariner’ deur Samuel
Taylor Coleridge. “Hebsug en luiheid, veral emosionele gemaksug (mense se onvermoë om weg te breek uit geykte denkpatrone), is die mens se grootste tekortkomings.
Dis ook wat tussen die vryheid of die uitwissing van die albatros lê,” glo sy. Mense gee nie om nie. Sy gaan deesdae op vissersbote uit om albatrosse te bestudeer sodat sy mense bewus kan maak dat dié diere beskerm moet word.

Dis nie altyd maklik nie

Volgens Birdlife International (kyk by www.savethealbatross.net) word 300 000 seevoëls jaarliks doodgemaak. Hiervan is 100 000 albatrosse en 20 000 van dié voëls vrek in Suid-Afrikaanse waters. Dit gebeur wanneer hulle die aas van vissersbote in die water probeer eet en dan verdrink. Óf hulle raak verstrengel in die kabel wat die visnet aan die boot verbind. Die oplossing is sogenaamde “mariene voëlverskrikker-kabels” – vislyne of kabels wat bokant die onderste lyne vasgemaak word om die voëls af te skrik. “SA vissersbote word wetlik verplig om sulke kabels te gebruik, maar ongelukkig gebeur dit maar min,” sê Samantha.

Dis seker ’n baie harde, manlike wêreld, of hoe? “Dis nie altyd maklik nie,” erken sy. “Op die visserskepe, waar ek soms ’n paar dae lank bly, is kajuite beknop en dit ruik nie altyd goed nie. Badgeriewe is primitief en kos basies, maar jy leer baie. Vissers kén die see. En dis ’n klein prys om te betaal vir mariene bewaring. Ek is geen tomboy nie, maar ek is aanpasbaar. Ek hou van mooi aantrek en uitgaan!”

Dit het gevoel of iemand my aan die hand vat en reguit, 2 km verder, na die hut lei

Op skool was Samantha dol oor ballet. “Dit leer ’n mens dissipline, goeie postuur, om vas te byt. Ek dans steeds twee keer per week by ’n dansskool op Melkbosstrand om liggaam en siel soepel te hou.” Sy raak telkens verwonderd oor spirituele ervarings in die natuur. “Tydens my navorsing ervaar ek bo-menslike skoonheid. Ek voel naby God. Ek moes een dag teen skemertyd op Marion-eiland my pad huis toe kry. Dit was baie mistig en ek kon nie my hand voor my oë sien nie. Toe verdwaal ek en raak totaal gedisoriënteer. “Dit was gevaarlik omdat ek nie in ’n lawa-kolk wou beland nie. Toe bid ek op my knieë. Dit het gevoel of iemand my aan die hand vat en reguit, 2 km verder, na die hut lei. As ek die nag buite moes bly, sou ek waarskynlik verkluim het.”

Daar is ’n voortdurende band tussen haar en seevoëls. “’n Mens kan hulle vir seker nie vertroetel en streel nie, maar ons verbintenis is dieper. ’n Respek vir hul gehardheid. ’n Albatros-kuiken wat tjirp ná ’n storm laat my sprakeloos. ’n Pikkewyn wat nog kordaat loop nadat sy amper deur olie verswelg is, roer my. En die toewyding van pikkewyn-ma’s wat 1 000 km see-in swem om kos vir hul kuikens te kry . . . wow!”

Eendag tydens haar navorsing het sy op ’n lysie gegly en by ’n albatrosnes met ’n maand oue kuiken in, taamlik hoog bo die grond, beland. Sy het ’n rugsak met kos by haar gehad.
“Soms het ek tot by hul nes geloop en ingeloer.” Skielik het een van die albatrosse op haar rugsak neergedaal. Toe sak nog een op haar skoot neer. “Ek het begin huil. Dit was ’n kosbare oomblik. Om drie van die natuur se grootste wonderwerke so naby aan my te hê, was onbeskryflik.

“Hulle het die kuiken oor my skouer begin voer. Hulle leer ’n mens dat die nes jou veilig laat voel, maar dat dit belangrik is om te weet wanneer om dit te verlaat. Net dan kan jy grense deurbreek en hoogtes bereik. Dis ’n moeilike maar waardevolle lewensles.”
Besoek http://marineprogramme.birdlife.co.za