Eie stories

Shaune Kaiser van Grahamstad, skryf:

My Man

As vaalhaar dogtertjie in die Karoo van my kleintyd sou jy my nooit vang stry het oor die wensbeentjie in die koshuis-hoender wat baie tussen ander kinders tot bloedneuse en verlore melktande gelei het nie. Nee, ek het die verbete gevegte maar so stil-stil betrag en ietwat meewarig, soos die stokou vroutjie wat ek soms was, na binne geglimlag.                                

Die een-keer-ʼn-jaar-kersies op my verjaardagkoek het gebaat vir die meer banale wense van my kinderhart. Jy weet mos, wense soos dat die geniepsige juffrou man sal vat en nooit weer terugkom skool toe nie, of dat die tannie by die dorpsbiblioteek sal vergeet dat jy Alexander en die Toormuis nou al drie maande lank het, maar dit nie oor jou hart kan kry om dit terug te gee nie.

Nee my Lief, my diep geheime hartewens het ek op koue, donkermaan Karoo-nagte aan verskietende sterre met hul ellelange yswit sterte toevertou terwyl hulle geruisloos soos reusagtige engele op ons dorre aarde neergedaal het.

Want sien, voor ek verstaan het van meteoriete en die witwarm vuur van ʼn sterwende ster, terwyl ek nog in kinderlike verbasing soos ʼn Mirõ gestaan het voor die grootsheid van iets wat ek nie nodig gehad het om te verstaan nie, het ek geglo dat die wense wat ons op vallende sterre maak, eendag waar sou word. Mits ons harte suiwer bly.

En skielik eendag, sonder waarskuwing, was daar in my borskas net die dowwe geklop van teleurstelling en verwarring. Waar my hart altyd was, was daar nou ʼn doodskis-kluit. En ek het opgehou wens.

En kan jy glo.

Hier is jy. My eerste pragtige blik op die nuwe dag.

Jy met die sagte grys slape van die wyse man

- en die warboel krulle waaragter die weerlose seuntjie skuil.

Jy wys my albei.

Jy, met jou oë, grys soos die see op ʼn bewolkte dag

- die oë van ʼn ou-ou siel en ʼn ondeunde harlekyn.

Jou blik val sag op my.

Jy, met jou sensitiewe mond wat altyd lag                         

- sonder ʼn tikkie bitterheid oor die swaar slae van die lewe.

Jy praat die waarheid moeiteloos en liefdevol.

Jy, met die laglyntjies rondom jou oë

- wat getuig van humor, altyd gereed en nimmer wreed.

Jy laat my lag.

Jy, met jou onverwags perfekte skulpie-ore

-wat so geduldig luister.

En telkens hoor wat ek nie die moed het om te sê nie.

Jy met jou effe hees stem

- wat nog nooit ʼn noot kon hou nie.

En my nogtans wiegelied wanneer die lewe my klein maak.

Jy met jou welkom kropduif-borskas

- vesting van die suiwerste hart wat ek ken.

En die enigste plek waar my deurmekaar kop ooit tot ruste kom.

Jy, met jou kunstenaarshande

- wat my rug vryf tot ek slaap.

En my heelmaak.

Jy met jou sterk arms

- wat my sus.

Maar my nooit vaspen of wegstoot nie.

Jy, met die sagte ronding van jou boepmagie

- wat groei uit jou geniet van die oorvloed van die lewe.

Jy voed my siel.

Jy met jou gesonde bene

- wat weet van koershou.

En tot my verbasing nooit van my af wegloop nie.

Jy met jou voete so ferm op die aarde

- selfs wanneer jou slimme kop hoog in die wolke ronddwaal.

Jy anker my.

Jy, die koel lappie op my warm voorkop en die knetterende vuurtjie in die bitter koud.

Jy, die een wie se naam deur my bloed stu met elke klop van my dikwels weerbarstige hart.

Jou het ek lief met die hart van die hoopvolle klein dogtertjie op die Karoo se vlakte

- net so lief as wat ek jou het met my skugter letsel-hart.

Want JY my Lief, was nog altyd my wens.

Vir altyd

Jou mens