Eie stories

Skep jou eie seremonies – Piet Grobler vertel

So bou ons, soms onbewustelik, elkedag-rituele in ons besige dae in.

Want hierdie klein seremonies wat ons skep, is dikwels nét wat ons nodig het vir vertroosting, koestering, geborgenheid . . . Al besef ons dit nie altyd nie.

Vir Piet Grobler, bekroonde illustreerder van Stellenbosch, wat ook SARIE se rubriek Laaste sê illustreer, beteken rituele ‘n slow down. “Dit dwing jou om dinge wat belangrik is plek en tyd te gee, en die goed te los wat minder belangrik is.”

Hy kry skoon heimwee as hy dink aan die rituele van sy kinderjare, sê Piet, die oudste van vyf kinders wat op ‘n plaas op die Springbokvlakte in die Limpopo-provinsie (die destydse Noord-Transvaal) grootgeword het.

Ek onthou saans se saam buite eet as die weer mooi was. Die grasperk het ‘n walletjie gehad, en ons het altyd op die naat van ons rûe op die walletjie gelê met ons groenmielies en broodjies terwyl ons sterre kyk. My pa, wat bedags baie besig was op die plaas, was dan ook by. Dit was lekker, maar dis eers as jy ouer is dat jy besef hoe kosbaar dit was en wat die waarde daarvan is – hoe dit ‘n kind veilig en geborge laat voel. Dis bakens in jou lewe, goed wat vasstaan.”

Rituele kom en gaan, en hang ook dikwels af van stadiums in jou lewe. Piet en sy vrou, Griet, se bedrywighede is baie gerig op hul dogter, Catherina (5½). Soos hul gereelde etes op die stoep, die Saterdag-uitstappies en spesiale storietyd-rituele. (Met duidelike spesifikasies van Catherina: Piet vertel net

Dis interessant dat selfs doodgewone familiegebruike – soos Sondag om die etenstafel, wat week ná week in skynbaar eentonige reëlmaat herhaal word – eendag, lank nadat die kinders die huis verlaat het, ‘n heerlike herinnering word wat volwasse kinders aan hul gesin van oorsprong bind en aan hulle riglyne gee vir hul eie gesinne.”

Ouers dra dikwels deur rituele daardie dinge oor wat vir hulle belangrik is. Griet moedig só haar voorliefde vir musiek by Catherina aan. Piet, wat vroeër vanjaar by die Universiteit van Pretoria drie uit die vier goue medaljes by die Katrine Harries-toekennings vir kinderboek-illustrasies vir die afgelope agt jaar gewen het, het ‘n lekker tekenritueel saam met sy dogter.

“Dan doen ek glad nie my eie tekenwerk nie, sy duld nie verdeelde aandag nie! Ons teken sáám. Eers besluit ons wat ons gaan teken. Dikwels is dit diere – sy is mal oor diere – gewoonlik met klere aan.

“Soos ons vorder, gee ons oor en weer ons tekeninge vir mekaar aan vir bespreking. Of soms teken ek en sy versier of kleur in. Dis ‘n hele proses.”

Griet het ‘n doktorsgraad in musiek en maak graag musiek saam met haar dogter – als van blokfluit, viool, klavier, sing en liedjies opmaak. Sy het ook grootgeword in ‘n huis met baie spesiale rituele rondom Paasen Kerstyd. Sy het ‘n trommel vol Duitse Kers- en Paasversierings wat sy in dié tye uitpak.

“Die afgelope drie jaar hou Griet elke jaar vir Catherina ‘n Paasteepartytjie. Hulle twee dek saam ‘n pragtige tafeltjie met onder meer Paaseiers, -servette en ander versierings en nooi ‘n paar maatjies om te kom tee drink,” vertel Piet.

Rituele het dikwels ‘n spesiale element, sê Karin. En dít kan enige verhouding verryk.

“Een paartjie wat ek ken, het ‘n streng beleid om nooit op Vrydagaande uit te gaan nie. Dan’s dit tyd vir tot rus kom op die stoep met ‘n glasie wyn. Wanneer jy dikwels in die week skaars tyd kry vir mekaar, is dit wonderlik om te weet jy kan op daardie Vrydagaande staatmaak.”

Karin sê dis ook belangrik om jou eie spesiale seremonies in die week te skep. “Dit kan klein dingetjies wees. Soos om net vir jouself ‘n ordentlike ete voor te berei – dek ‘n mooi plekkie en gaan sit aan om te eet, al is dit by die werk. Of verlustig jou in jou skoonheidsroetine: Dis so versorgend en koesterend – die masker op die gesig, die tone verf . . .”

Want soms gaan ‘n ritueel net oor pure genoegdoening. Annalise sonder tuin natspuit uit as ‘n gunsteling. “My tuintjie is posseëlklein en sonder sprinkelbesproeiing. Ek verkies dit so, want my gemoed het die natlei dikwels nog nodiger as my plante. Ek draai die kraan tot so by twee uur – dan spuit die water teen nét die regte seënsterkte. Nie versukkeld nie, ook nie vernietigend nie. Net reg.

“En dan vat ek die tuin – van die pienk rankrosie uit Citrusdal en die pers Petria in die hoek, verby die lekkerruik Buffelsbaaibossies al langs die sitkamermuur op. Ek staan ‘n rukkie by elke roosboompie, want elkeen van hulle dra die naam van iemand wat ek liefhet. Daarna laaf ek die jasmyn.

“Dan om die hoek: Die heuningblommetjies en heide, die potplante, die suurlemoenboom en Clivias in hul skaduwee. Die tolbos en die nagblomme, die laventel, die daisies en die Christusdoring – al om tot by die pot met die grasuie en die tiemie. Dis sielstyd, bidtyd, dinktyd, droomtyd – alles in een.’n Kosbare uur wat my vasbind aan die aarde én die hemel.”

Meer as genoeg rede om vandag jou eie ritueel te skep.