Eie stories

Snotkop oor sy ma: “Sy’t my help opstaan”

“Ek was in ‘n sportgedrewe skool in Johannesburg. Dit was asof ek nie dieselfde as die ander kinders gedink het nie. Ek het gevoel niemand verstaan my nie en gerebelleer. In gr. 9 het ek byna elke vak gedruip. Ek’s uitgevang toe ek gerook het by die skool. Ook toe ek tydens ‘n eksamen iemand help kul het. Ek is geskors en het byna in depressie verval. Ek het nie geweet watter kant toe nie.

My ma het nie met my baklei of gesê ek is nutteloos nie. Sy wou by die kern van die probleem uitkom. Sy ‘t my gevra of ek tyd wil afvat om my kop skoon te kry. Daardie jaar het ek en sy ‘n paar road trips gedoen. Ons is eers Swaziland toe en het ook in SA getoer. Ons het net gesels. Sy’t na my geluister en ek het haar van my drome vertel: Ek wou graag eendag in die vermaakbedryf werk en sal graag na ‘n kunsskool toe wil gaan. Sy’t geensins gedink dis laf nie.

Ek het ingeskryf vir oudisies by Die Kruin (vandag is dit The National School of Arts). Ek het ingekom en uiteindelik vier onderskeidings gekry – drie in kunsvakke en een in Afrikaans. Ek was selfs onderhoofseun!

My ma het my aangespoor om my liedjies op band op te neem en vir platemaatskappye te stuur. Op ‘n dag het ek ‘n oproep gekry en só het my loopbaan begin.

Een van die grootste lesse wat ek by haar geleer het, is dat my mening geld en dit meer spesiaal is om my individualiteit te vier as om deel te wees van ‘n trop skape.