celia_warner_beach
Eie stories

SA ná 2 jaar oorsee – ‘voel ons was nooit weg nie’

Die weersiens – Amanzimtoti (19 Julie 2010)

 

Die winterlug hang vaal soos vuil spookasem oor Oliver Thambo  en die Jumbo stamp-stamp grasieus neer asof op ‘n teer loopplank.  In twee jaar het tyd en afstand verlange met ‘n harde laag ontkenning verseël. Soos droë vernis beskermend om ons verhard. Ons kyk uit die oë van oorsese besoekers na ons eie land en sien gou dat die sokkerkoors nog lank nie gebreek is nie. Asof die nasie nog net ‘n rukkie langer wil vasklou aan die euforie. So hang die vlaggies steeds, en staan die vuvuzela’s nog rakke vol.

 

Die klein oranje vliegtuig wat ons na Durban vlieg, draai skuins om vir ons daar onder te wys … die see, Sibaja en die blinknuwe King Shaka Zulu-lughawe tussen die suikerrietlande.

 

Ons maters staan met snaakse plakkate en biltong en roep: “Basta met Avis,  spring jul vrouens maar agter in die bakkie saam met die tasse, maar ons het julle kom haal.”

 

Vanaand gaan Herman se vuur weer hoog brand soos elke Vrydagaand, voor en nadat ons weg is. Twee jaar se storiedrade word opgetel om die vuur. Louise trek steeds die skelms vas en koop elke oggend voor werk haar koffie by die garage. Louis het albei sy broers verloor, maar hy het ‘n golfstel geërf, sy nuwe meisie vang saam met hom vis, en die sardyne is op pad. Een van die vriende het geleer dat geld, mooi karre en roem nie geluk kan bring nie, en volgende jaar gaan hy alleen deur Afrika reis om homself te vind.

 

Môreoggend wil ons wakker word om die sonsopkoms oor die see by Warner Beach te sien. Toe ons hier gebly het, het ons dit nooit gedoen nie. Ons het ons babas hul toontjies in die water en sand laat druk, en later jare hulle net by die strand afgelaai met hul branderplanke.

 

My matriekdogter se vriende groet haar ná twee jaar met  “Janine! Janine! Ek het ‘n nuwe kar” in plaas van “Janine! Janine! Hoe lekker om jou weer te sien” soos wat sy verwag het. My oudste se vriende doen moeite om saam met haar te kuier en my hart klop warm toe ek skielik sien hoe sy duidelik kalmer is en vol selfvertroue daar om die tafel tussen haar vriende sit, nie meer ‘n tiener.

   

In die bank loop ons bekendes een vir een raak en hulle deel hul lewens met ons. Gesprekke gaan oor “Die seuntjies is nog nie oor Oupie se dood” en “Ai man, Amalia is op ‘n bootreis. Sy sal so spyt wees sy’t julle gemis” en “Ons wil nou maar Australië toe. My dogter bly mos daar, hier is niks meer vir ons nie, want God het ons seun kom haal.” 

 

Dis die boekklub-reünie en ek kan nie wag nie.  Die PG-bende, wat soos tieners pajamapartytjies kon hou met chips, kerse en St. Anna. Ons kon die hele nag lag, kla, raad gee, geheime deel en huil en lag en lag. Twee jaar later het ons lewens verskillende paadjies geloop, vervreemd, versoen, vertrek, maar somehow het ons elkeen op sy eie manier ons “happy place” gevind. Of het ons? 

 

Donderdag is vir die afgelope tien jaar die vergaderplek vir die locals by die “night market”.  Die oud-leerlinge staan een vir een skamerig nader om hul kleuterskool-juffrou te kom groet. Ek merk met ‘n lekkerkry die afwagting op klein Zak se gesiggie op. Hy staan rusteloos op sy tone en platvoet, op sy tone en platvoet en wag vir ‘n beurt om te groet. Hy het my gemis en ek vir hom. Dan deel die bekendes met ons hul en hul kinders se lewens in detail en vergeet party van hulle om net te vra “hoe bly júlle nou daar?” Hoe anders as my boekklub-vriendin se woorde “en nou is dit al weer verby en ek het nog duisende vrae”.      

 

Dit voel of ons nooit weg was nie, behalwe vir die vreemde mense wat in my huis woon. Ek loop deur die vertrekke vol meubels wat nie myne is nie, en op plekke staan waar ek dit nooit sou laat staan het nie. My stukkende, geskende tuin klap my hard in die gesig, die klap brand so dat die trane loop. Die meisiekinders kom vat my om die lyf asof hul bang is ek gaan omval toe ons sien die geliefde ou frangipani is afgekap en van die kosbare broodbome is weg. Daar’s sand waar die beddings was. Ek stap liewer weg en probeer onthou hoe dit altyd was. Ek mis my hond se pote wat my been seer krap.

 

Johan braai steeds vir gesellighede op die dorp en bederf vir Riaan met ‘n afvalpot. Sy dogtertjie dra nou al lipgloss en ‘n bra! Ons sluip ná die laatnag-kuier skuldig terug na ons basis waar ons tasse is en almal al slaap. Op elkeen se kussing het Elma ‘n lunch bar gelos, nes my ma.

 

Ek moes haar net een keer weer in die oë kyk, die vrou aan wie ek my huis, meubels en kleuterskool toevertrou het voor ons weg is Hong Kong toe. Ek stap in en vra om met Ester (fiktiewe naam) te praat. Sy laat weet sy wil my nie sien nie, maar ek loop sonder toestemming deur na haar. Soos wat ek stap herken ek my tafellappie, my stoel, my goed in die vertrek. Daar staan sy. Sy kyk af en draai om. Haar hande bewe. Ek móét haar sê hoe ongelukkig ek is oor die toestand van my huis en my tuin. Nadat ek ontlaai het, draai ek verbaas om en stap uit. Ek kan nie glo ek was so kalm en sonder emosie nie. Ek het nou laat gaan. Ek het haar vergewe om myself te bevry. En dit voel goed.

 

Tot siens Amanzimtoti. Ons huis is nou in die mark, en ons hervat ons vakansie Kaap toe.

 

Celia Claase, Hong Kong

 

 

  • m v niekerk

    Ja nee ‘n mens kyk regtig met ander oe weer na jou land, en die SA is tog so uniek. Dankie Celia … Wil hoor van die Kaap

  • Riaan

    Daar is geen ander plek op aarde wat ooit jou land se plek kan inneem nie. Ons is deel van die land en sy mense en sal altyd wees.