Eie stories

Sofia Eviesen van Ravensmead (werk tans oorsee) skryf:

Aan my wonderlike man

Ek voel so geseënd oor ons vriendskap. Soos God se Gees kan dit nie ingeperk word deur tyd, ruimte of die fisieke beperkings van die lewe nie. Ek is nog net so verlief op jou soos 18 jaar gelede. Die aanhoor van jou stem gee my steeds skoenlappers in my maag en laat my hart vinniger klop.

Ek geniet jou sms’e terdeë. Die lewe is een lekker, lang avontuur saam met jou. Jy het ’n spesiale plekkie in my hart en jy is altyd in my gedagtes. Ek neem jou oral saam waar ek beweeg. Jy is my inspirasie in die lewe. Dankie vir jou waardering en trots vir die dinge wat ek aanpak. Deur jou ondersteuning en opofferings was ek suksesvol.

Jou eerlikheid, respek, integriteit, vriendskap, standvastigheid en tonne liefde staan uit in ons verhouding.

Ons het van die begin af ons verhouding aan die Genade van Bo oorgelaat. Dit werk al 18 jaar vir ons. Onthou jy nog die kaartjies wat jy vir my gekoop het: 101 verskillende maniere om te sê ‘Ek is lief vir jou’. Dit herinner my elke dag aan jou. Dit laat my spesiaal en waardevol voel. Ek stuur vir jou ’n teddiebeer hier uit die vreemde, want hulle gee die beste drukkies wanneer ek dit nie self kan doen nie.

Ek onthou jou soggens wanneer ek wakker word. As drome deur jou aangeraak kon word, sou ek nooit wou wakker word nie. As dae kon begin met jou glimlag, sou ek nooit geslaap het nie. As almal soos jy kon wees, sou dit hemel op aarde beteken. Ons lewe in ’n besige tyd met baie dinge om te onthou en te doen, maar geen enkele dag is vir my te besig om ‘n 1 000 spesiale gedagtes oor jou te koester nie.

Dankie dat jy die sterre in my heelal is en die wip in my stap. Ek stuur vir jou ’n kussing om mooi drome te droom, ’n omgee-kombers om jou warm te hou deur die nag en ’n gebed om jou te beskerm tot dagbreek.

Ek het soentjies in my handpalms geplaas. Toe die wind waai, het ek my hande oopgemaak. So, as jy uit die bloute aan my dink, het daardie soentjies hul weg na jou gevind. My oë brand sommer net van verlange, maar ek huil nie. Jammer, ek tjank nou, want ek mis jou. Soos 7de Laan se Hilda oor dadelvingers, soos Oubaas oor sy Moekie, soos Francois oor ’n skinderstorie en soos Bart oor sy duiwe. So vrek ek oor jou en ek wil jou altyd my maatjie hou.

Tussen ’n duisend gisters en ’n miljoen môres, is daar net een vandag. Ek sal dit nie laat verbygaan nie sonder om te sê: Dankie dat jy deel van my lewe is. Iemand soos jy is ’n geskenk. Jy het ’n glimlag in my hart geverf met herinneringe wat vir ’n leeftyd daar sal wees.

As ek ’n reënboog kon vang, sou ek dit vir jou doen. Ek wil die mooiheid daarvan met jou deel wanneer jy nie lekker voel nie. Die lewe eindig wanneer jy nie meer droom nie, hoop is verlore as jy nie meer glo nie, liefde vergaan as jy nie meer omgee nie. So, kom ons droom, hoop, glo en gee om vir mekaar. Die lewe is mooi en spesiaal. Ek kan nie my hart stuur nie, kan nie my glimlag faks nie, kan nie my blydskap e-pos nie.

Jy is altyd in my hart en as ek aan jou dink, glimlag ek. Oral op die aarde is stukkies hemel en in my oë is jy definitief  ’n groot deel daarvan.

Jou verlangende vrou