Eie stories

Sonet Dippenaar van Hartbeespoort, skryf:

My man, Marius

Ons vier weer een van die dae reg deur die wêreld die dag van die liefde. Vanjaar het ek besluit dat ek my liefde vir jou oor die hele land gaan uitbasuin. Ná al die jare gaan ek nie meer stilbly nie en gaan ek die geheim uitlaat. Baie mense praat agter hul hande as jy verbystap en vermoed dié geheim waarskynlik, maar ek weet jy is mos die engel wat God vir my gestuur het. Ek kan nie ander nie as om God te prys dat Hy jou vir my gemaak het. Dat Hy die dag toe hy jou gemaak het, net aan my gedink het. Dit is so moeilik om nie elke dag soos ʼn geseënde van God te voel met jou in my lewe nie.

Vir 24 jaar is jy my huweliksmaat en lyfmaat, en saam het ons oor die jare in gees en vlees verander en gegroei. Maar ek weet jy weet nie dat ek weet jy  ʼn engel van God is nie. Maar met al jou liefde, rustigheid, kalmte en vrede oor wie jy is en nooit bereid is om met enigiemand mee te ding nie, hoe anders kon jy jou geheim vir ons wegsteek. Jy wat jou nie van stryk laat bring met al my en die kinders se grille en nukke of die dinge van die wêreld wat wipplank ry nie. Jou gemoed skommel nie maklik nie.

Vandat jy in my lewe is, het jy my altyd toegemaak met jou groot velkombers van liefde. Al my onsekerheid en pyn het jy daaronder toegemaak en binne jou warmte kon dit genees. Dit is daar waar ek daagliks die warmte van God kan vind en liefde in alle fasette ervaar en beleef.  Dis onder jou velkombers kombers waar ons mekaar soms met pyn skuur en skaaf en ook waar daar vertroosting en genesing is.

Jou liefde is nie liefde wat my aan bande lê nie, maar liefde wat my vry gemaak het van baie leuens. Jou liefde wat uit die Vader se hart kom, het my in staat gestel om as mens te groei en te ontdek wie God regtig bedoel het ek moet wees. Jy het nooit probeer om my te versmoor onder jou velkombers nie, maar toegelaat dat ek in die warmte van jou kombers kon word wat God vir my beplan het.

Daar is niemand anders as met jou God en met jou wat ek die staptog van die lewe wil aanpak nie. Ja, ons het al baie roetes gestap en daar lê nog baie voor. Maar dit is saam met jou wat ek my rugsak van die lewe wil pak, saam met jou die weer daar buite wil trotseer met reënjas, baadjie en sonbrandroom, en dit is saam met jou wat ek die opdraandes wil aanpak, want saam met jou is die opdraandes baie meer draaglik. Maar bowenal wil ek ook die afdraandes saam met jou geniet.

En vanaand ná ʼn dag van take, verpligtinge, kinders, ja sê vir dinge wat ons dalk voor nee moes gesê het, en nadat ons, ons pille met aanmaak-koeldrank gedrink het en ons brille op die bedkassie gesit het, en ons moeg ná ʼn warm bad in die bed klim, is dit in jou arm waar ek wil bakkie lê. Dit is onder jou velkombers waar ek wil warm word,  krag kry vir nog ’n dag, en gevul kan word met die hemelse liefde van my engel van God.