inge_53_
Eie stories

Sonja Oosthuizen van Middelburg, skryf:

My liewe Teddiebeer,

Ek skryf vandag vir jou hierdie liefdesbrief sodat jy kan weet hoe diep my gevoelens vir jou lê.

Onthou jy die wintersaand in Mei toe jy voor my deur gestaan het, bibberend van die koue? Jy het kom koffie drink, saam met my, my ma en sussie sodat die twee jou kon deurkyk. Sommer van die eerste aand af het ons gekliek. Een kyk in jou donker groenbruin oë en ek het geweet dis jy vir wie ek my hele lewe lank gewag het. Jy was so bedagsaam, gaaf, sensitief en opreg, als wat ’n vrou in ’n man gesoek het, maar …

Poeksie, hoor jy my?

Ons selfone het daarna onophoudelik gelui, oor en weer ge-SMS en ons kon nie wag vir die volgende keer nie. Toe is ons op ons eerste afspraak. Onthou jy? My maag was vol vlinders toe jy met jou rooi sportmotor voor die deur stilgehou, galant uitgespring en my by die voordeur kom haal het, én die motordeur vir my oopgehou het. Die wind in my hare soos jy wegtrek en die knop op my maag van opgewondenheid …

Poeksie, hoor jy my?

Onthou jy ons eerste braaivleis by jou plek? Dit was so koud en ek het ’n hengse serp  om my nek gehad. Onthou jy ons eerste piekniek saam? Ons het kilometers ver gery om die regte “spot” te kry en toe waai die wind ons weg. Onthou jy die aand toe jy vir ons ’n Krismis-bed in jou sitkamer gemaak het en jy duisende kerse uitgepak het?

Poeksie, hoor jy my?

Onthou jy toe jy my aan jou ma gaan voorstel het? Hoe my pienk trui vuil gesmeer het en ek ’n goeie indruk wou skep. Toe kom ek vuil by jou ma aan. Onthou jy toe Lance James my by ’n motorskou gevra het om saam met hom te kom sing? Hoe rooi was ek nie daarna nie!

Poeksie, hoor jy my?

Saam met jou wou ek oud word, my lewe met jou deel. En al was daar silwer in jou donker hare en plooie om jou groen oë, ’n buig in jou stap en ’n ou hand op myne, wou ek my hele lewe met jou deel. Jy is weg, my beminde Teddiebeer. So skielik soos jy in my lewe ingestap het, het jy daar uitgestap. Wie weet waarheen, op soek, op verwagting, eendag kruis my pad dalk weer met joune …

Poeksie, hoor jy my?