sr1003reneburger01
Eie stories

Springbok Schalk se suster Rene: “Ek’s nie ‘n slagoffer”

Haar bruinswart hare blink en daar is ’n vonkel in haar blou oë. Op 22 is René Burger die toonbeeld van jeugdigheid.

“Ek is nou vir die eerste keer weer die ou René,” sê sy. Dié mooi sussie van die Springbok-flank Schalk Burger het twee jaar gelede openhartig vertel hoe sy op ’n nagmerrie-Maandag in Mei 2008 deur drie mans op die parkeerterrein by die Universiteit Stellenbosch se Tygerbergkampus in haar eie motor ontvoer en toe verkrag is.

“Ek het destyds daaroor gepraat, want ek het gevoel dis niks om oor skaam te wees nie. Dit was nie mý skuld nie,”sê sy. “Só baie mense het my in April vanjaar by die KKNK gevra hoe dit nou gaan en of ek nie praatjies wil lewer en ander mense wil bemoedig nie. Ek dink die tyd is reg om te vertel hoe my lewe weer heel geword het.”

René het verlede jaar haar studie as mondhigiënis voltooi en werk nou tydelik as ’n au pair. In Junie begin sy met ’n kursus in verhooggrimering by ’n grimeerskool in Kaapstad.

“Ek was moeg vir al die negatiewe energie en is nou net lus vir mooi dinge.”

Sy glo verkragting moenie ’n taboe-onderwerp wees nie. “Nie almal hoef in die openbaar daaroor te praat

 

Ek het lank daarna, as ek gaan uiteet of in ’n winkel gekom het, gevoel almal staar na my. Ek is nou nog soms oorsensitief. Dis asof ’n mens altyd die etiket van ’n verkragte vrou met jou saamdra.

 

 nie, maar dit is só ’n groot probleem in ons land dat jy nie daaroor kan swyg nie. So baie vroue voel steeds hulle is melaats as hulle verkrag is. Hulle sien net nie kans vir al die polisie-ondervragings, uitkennings en rompslomp wat daarmee gepaardgaan nie. Dis asof die slagoffers knaend hul onskuld moet bewys.Daar was selfs mense wat geglo het ek praat onsin. My saak is nou nog nie opgelos nie.”

Niemand is in hegtenis geneem

Kol. Billy Jones van die SAPD het by navraag bevestig dat die Openbare Vervolgingskantoor besluit het om die saak te sluit en niemand is in hegtenis geneem nie.

“In die begin was dit moeilik dat daar mense was wat my saak bevraagteken het. Ek was depressief en het nie die doel gesien om te lewe nie. Maar soos ek die briewe van ondersteuning begin ontvang het, het ek besef nie alle mense is so nie.

“Baie vroue onttrek selfs op die ou einde hul verkragtingsake, want hulle voel hulle is reeds deur soveel pyn en lyding. Só spring baie verkragters hul straf vry. Dis baie ontstellend.”

Sy wil nie té veel terugdink aan wat gebeur het nie..

“Dis half surrealisties. Asof ek in ’n fliek gespeel het en nie eintlik déél was daarvan nie.Ek het net deur die motions gegaan en was só gefokus op oorlewing dat ek min ander dinge onthou.”

Tog kan sy nie alles uit haar geheue wis nie. Soos die verskriklike vrees wat haar oorweldig het toe die mans haar nét na middagete by haar motor oorval het.

“Hulle het my op die agterste sitplek ingedruk en na ’n verlate en vervalle huis by Klipheuwel buite Stellenbosch geneem. In die motor het hulle my hard op die kop geslaan en ek het ’n ruk lank my bewussyn verloor.

Sy onthou ’n bouval sonder ’n dak, die reuk van sigarette, gate vir “vensters”, die gebarste vloer waardeur gras gegroei het en benoude mensreuke. En dat dit seer was.

“Deur dit alles kon ek my pa se stem in my kop hoor. Dis asof hy vir my gesê het ek moet net aanhou veg en bly lewe. En ek het. Ek het gekrap, gebyt, gestoei. Uiteindelik, toe daar ’n bakkie verby die huis ry en iemand die mans roep en hulle uitgaan, het ek net gehardloop.

Ek het geweet ek moes net beweeg en wégkom. Die sleutels was genadiglik nog in my motor en ek het gery. Nie geweet waarheen nie.

“Toe ek my weer kom kry, was ek by my ouerhuis op ons plaas, Welbedacht, buite Wellington. By my ma, Myra, en my pa, Schalk.”

Dié oud-onderhoofmeisie van Paarl- Gimnasium kon vir baie lank nie glo dít het haar getref nie. “Ek het in ’n liefdevolle huis grootgeword. Bevoorreg. My hele lewe lank het alles net goed verloop. Toe begin die besef tot my deurdring dat slegte dinge met enigiemand kan gebeur. Daar is geen waarborge in die lewe nie.”

Dat sy uit ’n bevoorregte en bekende huis kom – haar pa, ook Schalk, is self ’n Springbok-legende en ’n bekende wynboer – het voor- en nadele gehad ná die verkragting.

“Ek hoef nie na ’n staatshospitaal toe gegaan het om direk ná die verkragting deur ’n dokter ondersoek te word nie. Ek was by ’n private geneesheer op Stellenbosch vir die mediese ondersoek, wat my pa dadelik gereël het. Die polisie het ook na die huis gekom vir my verklaring. Maar dit was ’n hoëprofiel-saak en ek kon nie ‘wegkruip’ nie. Almal het daarvan geweet.Ek het lank daarna, as ek gaan uiteet of in ’n winkel gekom het, gevoel almal staar na my. Ek is nou nog soms oorsensitief. Dis asof ’n mens altyd die etiket van ’n verkragte vrou met jou saamdra.”

René het ook vir ’n paar maande ná die voorval haar geloof in God verloor. “Ek was kwaad en verbitterd. My sielkundige het aanbeveel dat ek ’n brief aan my verkragters skryf waarin ek sê hoe ek voel. Ek het sowat vyf maande ná die voorval dié brief geneem na die huis waar ek verkrag is en dit daar verbrand. Ek het vir hulle geskryf ek besef hulle het nie geweet wat hulle doen nie, want enigiemand wat regdenkend is, sal nie so dierlik optree nie. Dis net nie normal om so iets aan iemand te doen nie.”

Op die dag dat sy die brief gaan verbrand het, was sy ongelooflik emosioneel. Haar beste vriendin, Nadia Dannhauser,’n tandheelkunde-student aan Tygerberg, het saamgery.

Ek het toe vir God gevra: Gee vir my ’n teken dat U tog bestaan. Dit was ’n sonskyndag. Op pad terug het dit begin reën.Toe verskyn die pragtigste reënboog. Dít was my teken. Dis asof ek vrede gekry het…”

Haar broers, Schalk (27) en Tiaan (25),’n wynbemarker op hul plaas, het haar ook baie vertroetel. Tiaan het die eerste twee weke elke aand by haar in die kamer geslaap en haar getroos as sy nagmerries gekry het.

“Ek kon nie eintlik té veel voor my pa en broers huil nie. Dit het hulle te veel ontstel. Ek moes sterk wees vir hulle.”

Schalk, wat in daardie stadium ‘n kniebesering gehad en by die huis aangesterk het, het haar een oggend nadat die polisie haar ondervra het en sy byna wou knak, styf vasgehou. Hy was sélf huil-kwaad oor alles waardeur sy moes gaan.

My pa was die praktiese een. Hy het my gehelp om die polisie-dinge af te handel, soos om plekke te gaan uitken. By my ma kon ek net huil. Sy het my altyd verseker ek is nog net so mooi soos altyd en sy is nog net so life vir my. Dit het vir my baie beteken, want jy sukkel maar aanvanklik met jou selfbeeld.”

Sy glo ’n groot rede hoekom so baie vroue nie openlik oor verkragting praat nie is omdat hulle voel dis hul skuld.

“Dis só verkeerd. Ek het hope briewe gekry van vroue wat nog nooit daaroor gepraat het nie en jare met skuld saamleef. Hulle het my bedank dat ek openlik was. Die skrywer van Dis ek, Anna, wat aanvanklik die skuilnaam Elbie Lötter gebruik het vir dié boek oor hoe sy as kind gemolesteer is, het haar tweede boek onder haar eie naam, Anchien Troskie, gepubliseer, blykbaar ook omdat ek openlik oor verkragting gepraat het.

“Nadat René so openhartig was, het ek besef ’n mens hoef nie ’n slagoffer te wees nie, jy kan ’n oorwinnaar wees,”sê Anchien aan SARIE. René vertel ook mans het vir haar briewe geskryf waarin hulle haar geprys het dat sy opgestaan en aangegaan het met die lewe. Dis vir haar belangrik dat vroue moet besef verkragting verander jou nie as mens nie.

Die lewe gaan aan. Jy kan kies hoe jy dit wil aanpak. En die lewe kán weer lekker en goed wees. Jy kán weer ’n normale liefdeslewe hê. Ek het ’n verhouding ná die gebeurtenis gehad en het nou weer iemand spesiaal in die oog. Ek was bang dat mans my ‘anders’gaan behandel, maar dit gebeur nie.

“Daar is dae dat dit my effens ontstel dat mense net aangaan met hul lewe en byna verwag ek moet cope en altyd borrelend wees – want soms is ’n mens maar huilerig. Maar oor die algemeen het ek dit goed verwerk en is ek geensins ’n slagoffer nie.

“Ek het ook nou baie meer begrip vir ander mense en vind dat mense dinge met my deel. Ek luister graag en help waar ek kan. Dit laat my goed voel.” Sy wil begin om gereeld praatjies oor haar nuwe, heel lewe as verkragtingsoorwinnaar te gee. Wie weet, dalk skryf sy nog eendag ’n boek.

“Elna Boesak,’n familievriendin, het vir my die boek I Have Life deur Marianne Thamm gegee. Dis die verhaal van Alison Botha, een van Suid-Afrika se bekendste verkragtingsoorwinnaars van Port Elizabeth. Dit het my baie gemotiveer.Ek het besef daar is soveel om voor te leef.”

Diere verstaan

Wanneer hulle twee gaan ry, praat René ook gereeld met haar perd, Aster, wat van hul Karooplaas naby Victoria-Wes kom.  “Diere gee ‘n mens baie vrede. Hulle verstaan jou pyn.” Haar vriendin Nadia was goud werd.”Sy het soms net geluister en niks gesê nie. My ander vriendinne sou soms oorkom vir ‘n glas wyn of net kom kolwyntjies bak en geen druk op my plaas om te gesels nie. Hulle was ongelooflik goed vir my.”

En dan is daar die wonder van naaldekokers . . . “Dis so simbolies. Dis vir my die mooiste, mooiste goed. So ragfyn. Dis asof hulle in die son sit en lag. Hulle lyk altyd so vry en gelukkig.”