rrrrodger_34_
Eie stories

Sunita Keyser van Hertzogville, skryf:

Liewe Koolkop

Ek is bly dat ek in die wydheid van ‘n wakkerlê-nag my hand op jou kan sit en in jou slaap in kan praat: “Luister Kolie, ek hoor die reënpaddatjie roep. Dit gaan kom reën …” Dat jy dan jou groot arm oor my vou en vir my ‘n veilige plekkie maak waar die droogte of niks my vir ‘n rukkie lank kan traak nie.

Dankie dat jy my lank gelede uitgelei het uit ‘n lewe van verstrooidheid en teorie, en my hier in die aarde langs jou kom plant het. Jy het, met almal teenwoordig en onder guitige gelag, verklaar dat jy my vir altyd en altyd lief sal hê … en dit gestand gedoen. Sodat ons twee met die tyd saam, uit hierdie verganklikheid van mot-en-roes iets kon suiwer wat sal bly staan as die vreugdestippels van ons samesyn.

Jy het my jou maat gemaak en my in boerdery ingelei waar ek kaalvoet en ongekompliseerd kan leef en die gee en die neem, die delikate en die ruwe van die natuur kan belewe. By jou het ek geleer om die lawaai van die wêreld te ignoreer en met die groot stilte om my en in my te leef; om getrou te wees aan myself en rustig daarmee aan te stap. Om die aarde, waaruit alles voortkom, in te adem en te luister na die fyn geluide van die veld. Jy het my gewys hoe om kragte aan te wend wat uiteindelik groter as ek sal wees en juis daarom daardie kragte met agting te bejeën. Vir al hierdie dinge respekteer ek jou.

Ek dink aan die sagte grond onder ons voete wanneer ek hardloop om vir jou weg te kruip, tussen rye en rye mielies wat ver verby ons koppe groei. Ek dink aan die saameet uit een kosblik onder die bloekomboom wanneer ons met die beeste werk. En hoe ons elke keer in verwondering staan oor lewe wanneer jy ‘n lam se geboortevlies voor sy neusie weghaal.

Jou plaasbakkie se kajuit is my ander skuiling, ook my “breekwater teen die lewe”. Waar ek jou kan ruik in jou flenter trui wat opgefrommel lê tussen gereedskap en gedoentes en dit my rustig maak. Waar ek ‘n nes kan skrop met koffiebottel en ‘n broodjie en net naby aan jou kan wees.

 Jou kameraadskap meet ek met die maat van goud:

 En dankie dat jy elke môre vroeg

 voordat roes en moes begin

 ‘n duif

 met balsem in sy bekkie bring

om onvermoeid

vir my

‘n houmoed-liedjie

 in die oggendlug te sing…

 … en dat jy alles los en saam met my kom wanneer ek vir jou ‘n vuurvliegie in die gras wil wys; of ‘n piepklein skilpadjie wat ‘n barshou stap of ‘n krimpvarkie wat wurmpies soek langs die dam. En dat jy stop, die kommersiële masjien ignoreer en rustig wag wanneer ‘n ma-tarentaal met haar kuikens oor die grondpad stap. Dat jy jou asem saam met my intrek wanneer die groot volmaan op die naghorison sit. Soms pluk jy ‘n blou of ‘n geel blommetjie in die veld en gee dit net vir my. Dan sê jy niks. Ek sit dit in ‘n glasie water en kyk die hele dag daarna.

Dankie dat jy soms skelm ‘n geldjie in my beursie sit, dat jy vir my ‘n sjokolade van die dorp af bring, my toemaak met ‘n verekombers as ek op die bank aan die slaap raak, sê my kos is lekker al is dit net gewoon, my met jou groot hande help om ‘n turksvydoring te vind.

Ek is bly dat jy my verdra ook op díe dae wanneer die skaduwee in my heers en die onvolmaaktheid in my oorneem. Dat jy nie kwaad geword het nie toe ek ‘n hoenderbeentjie sluk en jy die hele nag in die hospitaal moes regop sit.

Ek onthou ook nog

een ysreën wintersaand

in die skommelstoel

my loopneus ingekruip

teen jou warm blad

jou groot hand

oor my handjie

wieg ons weg van alleenwees

en van ‘n wind wat huil

onthou jy nog

toe jy vra

kan die hemel dan beter

as om mens te wees …

Om saam met jou fiets te kan ry is groot. Vinnig en vinniger langs Buffelsbaai se strand tussen duisende groen slakkies deur wat met fyn spoortjies briek in die sand.

Met dieselfde ritme waarmee ons werk, kan ons ook dans. Jy draai my en gooi my en vang my en stuur my en koester my tot ver weg van hierdie wêreld af.  

Ek eer jou omdat jy soveel kan dra, omdat jy kan aanhou en aanhou en soos olienhout bly staan teen elke verkeerde wind.

Dankie dat jy van my hou en dat ek dit weet. Dit maak my baie sterk.

Liefde,

Spikkel