Eie stories

Sureta Strydom van Hartbeespoort, skryf:

My Helgaard-mens, engelman, my Liefste

Ek stuur vir jou hierdie brief met ’n Breytenvers se rooiborsduif. Ek wil vir jou die mooi van woorde in jou oggendkoffie roer, sodat jy die dag se dans op jou tong kan proe terwyl jou oë nog nie gekyk het hoe die son sy kwas gesmeer het nie. Ek wil hê dat jy soggens my liefde vir jou in die lakens se lyfhitte sal voel, soos ’n herinnering wat gestalte wil kry, soos ’n droom wat nie neergeskryf wil word nie. Sommer vreeslik vroeg moet jy vóél hoe my liefde jou onder haar vlerk indruk en daar koester soos ’n hen ’n kuiken; selfs nog voordat ons tuinpatryse se skel skree deur die oggend perkoleer en ons wakkerword versteur.

My gunsteling-tyd om ons liefde te koester is skemertyd. Soggens. Voordat die dag ons van mekaar wegvat en ons op verskillende afdraaipaaie na mekaar gaan verlang.

En tog. Dis met verlang, my Lief, dat suiwer romanse uit liefde filtreer en ons met passie mekaar oordink. Dis as jy weg is van my dat my arms onthou hoe jou vashou voel, my vingerpunte die hitte van jou landskap mis, my lippe die kartel van jou naam wil naboots: Helgaard, lyfmater, hartmens. Ek wil dan in die gloed van jou silwer oë staan, die boog van jou neus onthou, die krul van jou mond.

Sewe jaar lank was jy net my mater, my hartsvriend. Onthou jy hoe ons in Oktober aan die Jakaranda-takke gepluk het om daardie deurkomblommetjies op ons koppe te laat val? Hoe ons grootogig met ons nuwe visums Engeland toe is en verlang het na mieliepap, Provita’s, braaivleis op hardekool, die Suiderkruis en ons mense? Onthou jy die KKNK en Beautiful in Beaufort-Wes en Ek was so verskriklik verskriklik lief vir jou …?

Sewe jaar, my Liefsteling. Jakob het vir Ragel sewe jaar gewerk, toe kry hy Lea.

Dit was fantasties om Lea te wees, maar Ragel, ai…..Ragel!

Die verliefdheid het ons bekruip soos daardie luiperd in die wildtuin die poel maanlig in die soeklig bekruip het. Skielik was sy net daar. Haar oë was amber lawa daardie Satara-nag toe sy my siel bekyk het. Langtong het sy die water geruisloos en meedoënloos in haar keel laat invloei asof haar dors in daardie Afrika-savanna nooit gaan les nie – soos my liefde vir jou.

Ons liefde het vir my ’n wit rok aangetrek en ons het voor God gaan belowe om nooit te vergeet nie. Jy het ons in die voete van ’n mak berg kom neersit en hier leef ons in ’n skildery wat elke dag oorgeverf word.

My Engel, met die geboortes van ons drie kinders het ons liefde haar sierlike nek gelig, haar kop triomfantelik agteroorgegooi en met glimmende hare wat wulps oor haar rug tuimel seëvierend aan die sjampanje van voleindiging gedrink. Dit was volbring. Dankie dat jy die mooiste engellyfies uit die hemel gaan pluk en in my arms neergelê het – drie keer. Jy is die pa wat elke kind in sy hartjie teken. Ons is so geseënd om vir jou te hê. Ai, kindervoetjies. Hulle hardloop deur ou liefde en weef mense aanmekaar met ’n gebondenheid wat mý familie van jóú kom maak het. Jy is my gunsteling-familie!

In die onweersdae kom glim ons liefde om ons soos ’n Gods-engel wat gesien wil word. Toe ons babatjie op sewentien weke uit my lyf val, het jý die gebreekte water op die vloer drooggevryf, my rukkende lyf deur die na-nag teen jou bors skuilte gegee en met jou eie hande ’n graffie gegraaf; die grond uit jou naels geskrop asof jy jou eie seer en rou wou wegskrop. Dankie dat ek onder jou vlerk kon inhardloop toe die skaduwee oorvlieg.

How do I love thee? Let me count the ways…’  Ek kan nie. Elke dag staan ek verstom voor die duisend maniere waarop ek jou liefhet.  Jy is my gisters se mooiste onthou omdat jy met vandag se genade bid om my drome vir môre waar te maak. Jy is vir my daardie plek waar woorde al weg is. Daardie plek waar stilte sing en liefde in die hartklop geskryf word. Ek het jou onomkeerbaar lief. My Helgaard met die silwer oë.

Wanneer ek snags teen jou vaskruip en jou arms dadelik my omsirkel, is dit soos die oopslaan van ’n ou gedigteboek. In die bekendheid van die vergeelde, gevatte bladsye lê die gerusstelling; in die afwagting van die smeulende sonnette, die oorbekende metrum en rym, die fyn silwer van die deurdagte woord lê die verrukking. Keer op keer. Dankie, my Liefste, dat ek jou nag ná nag mag oopslaan.

Met al my liefde.

Jou vrou. Minnemens. Hartspunt… vir altyd