love_letter_gousblom
Eie stories

Susan Davis van Graaff-Reinet, skryf:

My Engelsman

Jy het langs my kom sit en ná ’n paar ligte geselsies het jy met neergeslane oë gesê: “Me wife left me”, met ’n kort beskrywing van die gebeure van twee jaar gelede wat jou diep geruk het. Met onverwagte en onverklaarbare raakskiet het jou woorde my hart getref. Ek was dadelik vasgegryp in ’n seekatgreep. Ja, dit was liefde met die eerste oogopslag, maar vir mý het dit eerder begin by jou oog-néérslaan, met jou bekentenis “me wife left me”.

Jy is ’n Engelsman, ek ’n Afrikaner. Jy hou van ’n paar drankies op ’n aand, ek is ’n geheelonthouer. Jy is gewoond aan ruwe Britse humor. Ek wil niemand te na kom nie. Jy praat soms lelik. Ek vloek nooit. Maar die seekat is daar, vir albei van ons, en hy klou en klou.

Agttien jaar later is die seekat steeds by ons, ten spyte van lang argumente, alleen-vakansies elk by sy eie familie, stry oor honde, hondekos, die troetel-kaketoe, die waterlei in die tuin en verskille oor televisieprogramme, aande by die klub, stokperdjies, ape in die tuin en skottelgoed afdroog.

Maar die stryery bring nie tweespalt nie, want die seekat hou ons vas. Ons lê snags styf teenmekaar. As al die stryery ons nie kan skei nie, sal niks ooit kan nie, want ons ongelooflike liefde sê: “Dis so lekker om bymekaar te wees!”. Ek is lief vir jou, Engelsman, en ek weet jy is lief vir my.

Jou Afrikaanse vrou