Eie stories

Suzette Ann Brickhill van Witrivier, skryf:

My liefste, liefste Johnno,

Nog net 14 dae, dan vlieg jy terug huis toe van Irak af … vir ewig … vir altyd …  Klink byna soos kinders se sprokiesverhale. Net soos ons huwelik ’n sprokie is. Altyd ware liefde vir ewig en altyd.

As kind het ek altyd in sprokiesverhale geglo … gehoop… gedroom … En toe vind ek dat drome bewaarheid kan word! Of dalk was dit my sterk geloof en my skurwe knieë van al die gebid, wat ’n wonderwerk laat plaasvind het  En dan sê mense nog wonderwerke gebeur nie meer nie!

Ek sit en luister nou jou gunsteling-CD van Gé Korsten: 

“Jy weet dat ek nie sonder jou kan bestaan nie

“Jy weet dat jy ook nie alleen kan bestaan nie

“Dit weet jy goed”

En hoe graag sing jy dit nie altyd vir my as ons die langpad vat nie.  As ek vir ’n oomblik my oë toemaak, sien ek jou gesig voor my. Jou spierwit tande en breë glimlag, die vyf lagplooitjies om jou oë en die kuiltjie in jou wang.

Ag my man, ek verlang sommer net vanaand meer na jou as eergister of gister of vandag.

Ons het altyd gesê ons wil ’n “time machine” ontwerp. Om oue en goue herinneringe terug te bring en te herleef. Om elke keer as ek jou met oë vol trane op die lughawe gegroet het, die tyd vorentoe te draai totdat ek weer met soveel opgewondenheid en ’n maag vol vlinders op die lughawe staan en wag vir die man wat my hart besit.

Ek moet jou iets vertel. Die verskriklikste gevoel is as ek op die kennisgewingbord sien die vliegtuig van Doebai het geland. LANDED! Ek kry skoon ’n angsaanval!  Druk ’n hele pakkie Stimirol in my mond! Besmeer my met lipstiek en bad omtrent in die parfuum!  En dan, om te wag tot die lugwaardinne van Emirates deur die deure kom, en ek net daar opslag daai bol kougom insluk, dan weet ek jy is nie ver agter hulle nie!

Onthou jy nog die preek van Pastoor PW op ons troudag? Hy het vertel dat hy sonder sy vrou soos ’n halwe mens voel. Daardie selfde gevoel het ek begin ervaar hoe langer ons getroud is. Al verskil, ek voel soos ’n kwart mens as jy weg is van my. Soos nou. Ek voel daardie verskriklike leemte in my sonder jou. Iets kort, iets skort – jý.  

Ja Johnno, jy het my winter in somer verander. Jy het my geleer wat die ware sin van liefde beteken. En wat dit beteken om onvoorwaardelik lief te kan hê. En tog het ek altyd gedink ek ken liefde. Maar toe jy in my lewe ingestap het, het ek besef dat ek heeltemal ’n wanbegrip van liefde gehad het.

Johnno, jy is soos suurstof wat ek nodig het om asem te haal. Sonder jou het my lewe geen doel, betekenis of sin nie.

My Liefman, maak jou oë toe en voel my hartklop in jou!

Min dae! Ek wag met soveel opgewondenheid en sakke vol liefde vir jou by die lughawe op Vrydag, 13 Februarie!

O, so terloops: Sal jy dit oorweeg om my Valentyn te wees? Net betyds vir Valentynsdag?

Jou enigste