Eie stories

Anette vertel: “Erick se verjaarsdag”

Dit bou al ‘n geruime tyd op. Die gevoel van my bloeddruk wat val en olifant wat op my bors kom sit. En dan weet ek. Dis sulke tyd. Huiltyd. Dit bou op – soos ‘n kastrolletjie warm melk op die stoof. Soos dit warmer raak, begin die melk borrel en uitstyg om oor te kook. Net so. Dis hoe ek voel. As jy die kastrolletjie van die plaat af trek, sak die melk. Maar sodra jy dit weer terugsit, vat die nie lank nie of dit begin weer opkom. Om oor te kook. Tensy jy dit weer afhaal. Ongelukkig kan mens se lewe net operate as jou kastrolletjies op die stoofplate liggies staan en prut – nie oorkook nie, nie vasbrand nie. Net liggies prut. Dan hang ons skaaltjies net level. Ons prut-prut so deur die lewe.    

Daar is heelparty dinge wat die oorkookding trigger. Slegte gebeurtenisse, ‘n datum wat ‘n betekenis het, ‘n herinnering van ‘n kledingstuk, plant, geur. Enige iets. En jy weet nooit wanneer of waar dit gaan kom nie. Dit gebeur net.  

Toe jou verjaarsdag naderkom het ek gedink – dis net ‘n datum. Moenie op datums fokus nie. Dis nie belangrik nie. Maar onbewustelik het my hart al hoe swaarder en swaarder begin word. Tot ek op ‘n stadium baie bewus was daarvan. Elke oggend het dit gevoel of my hart fisies al swaarder word. Ek het geweet. My kastrolletjie gaan oorkook – kom wat wil. Miskien moet ek net probeer beheer wanneer en waar dit gebeur. Dan hoef ek nie my naam krater te maak nie. 

Hoe meer ek myself probeer oortuig dat ek oukei gaan wees, hoe meer besef ek, ek is nie. Ek is geboek vir ‘n baie belangrike besoek van iemand van BMW SA, reeds weke voor die tyd. En alhoewel skrikkerig, is ek heimlik dankbaar daarvoor. Ek gaan nie tyd hê vir tob of te veel dink nie. Maar soos die duiwel dit wil hê – die oggend van die 7de Junie, bel sy persoonlike assistent, vra verskoning en se hy moet dringend terugvlieg Johannesburg toe. Wat nou? My hele dag was beplan rondom hierdie besoek. Ek sit bietjie stil en kom tot verhaal. Ek kan voel hoe die swart kombers liggies om my skouers vou. Bly besig, Annette, bly net besig. Ek besef, dat ek al hoe meer onstabiel raak. Ek kan nie. Nie nou nie en nie hier nie. Ek hou my pose.

Stap na Alex toe. “Ek vat die res van die dag af, Alex,” se ek vir hom. “Onthou net om ‘n paar tjeks vir my te teken” se hy vir my. Ek kan nie gou genoeg by die deur uitkom nie. Toe ek by die huis kom, is nie Des of Theunis daar nie. Ek het my sleutels vir Theunis gegee. Sy sel is af. Ek begin paniekerig voel. Ek moet by die huis inkom. Ek bel Des. Waar is jy? Vra ek. “Nie ver nie, maar ek kan nie nou hier wegkom nie – eers so oor ‘n uur”. O magtag, ek kan nie so lank wag nie. Ek moet nou hier in. Ek ry na hom toe. Hy staan buite en oorhandig die sleutels. Vra niks.

Terwyl ek terugry huis toe, kan ek die trane nie meer keer nie. Ek hoop dat niemand deur die kar se ruite sal sien hoe ek lyk nie. Lelik en pateties, met maskara wat oor my make up stroom. Ek stop sommer by die hek se ingang, en hardloop sodat ek kan by die voordeur in. Maak die deur toe en begin huil. Snik, huil, skree. Totaal histeries en buite beheer. Ek, die control freak totaal buite beheer. My kastrolletjie kook oor en brand aan – alles gelyk. Ek vat sy kissie en sit dit op die koffietafel neer. Ek praat met hom, skel, vloek, gesels, praat mooi.

Alles deurmekaar. Maar ek kan voel dat dit beter raak. Ek hoor Theunis inkom. Toe hy my sien, kom sit hy by my. My jong naïewe seunskind, wat skaars drie maande gelede vir sielkundige behandeling moes gaan en op antidepressante moes gaan, sit daar en troos my soos ‘n ou man. Vol wyshede is hy nou die rots en steunpilaar – en ek die kind wat getroos moet word. Hy druk my, soen my enmaak my hare netjies.      

ʼn Kalmte daal oor my. Kom ons vat vir Erick en gaan ry ‘n entjie, se ek. “Cool, kan ons koffie drink en koek ook eet? “Vra hy. Absoluut se ek. Ons het mos ‘n verjaarsdag om te vier. Met Erick in sy kissie onder sy arm, is ons uit by die deur. Gaan laai die sleutel by Des af. Hy sien die kissie op Theunis se skoot, kyk na ons met ‘n vraagteken in sy oë, maar se wyslik op daardie oomblik niks nie. 

Ons vat die pad. Ry sommer Robertson se kant toe. Ek voel lig. My kop is dik, maar ek voel veertjielig. Ons lag en gesels op pad. Toe ons in Spaces se parkeer area stop, kyk ons na mekaar. Wat nou van hom? “Moet ek hom saamvat” vra Theunis. Ons kan hom nie so hier in die kar los nie, se ek. Dis after all sy verjaarsdag. Kom ons vat hom saam. En so stap ons daar in. Ek, Theunis en Erick in sy kissie op die tafel. Dit voel glad nie weird nie. Die gedagte kom by my op dat ander mense mag dink ons is mal. Maar so what? Dit werk vir ons.

Ons drink ons koffie, eet ons tert en dwaal deur die kreatiewe plek. Een van die vrouens merk die kissie op terwyl ek deur die rakke kyk. Gesels met Theunis. Toe ek gaan betaal kom gee sy my ‘n drukkie. Die vrou van die deli vra vir my wie in die kissie is. My seun, se ek. “Hoe is hy dood?” vra sy. Leeus. Net dit. En dan die sin wat ek al die afgelope 7 maande soveel kere gehoor het. “Was dit JOU kind?”

“Ek bid vir jou. Ek het al so baie aan jou gedink al weet jy dit nie”. Dankie prewel ek. Ons moet nou nie dieper in die saak ingaan nie. Ek het al weer ‘n knop in my keel. Toe ons kar toe stap, verkyk ek my aan Theunis. Hy lyk so gemaklik met die kissie onder sy arm. En ons kry al twee die gevoel dat Erick hom daarbo verkneukel in hierdie dag se gebeure.      

Na ‘n besoek aan die kunsgalery en plaasstal (hierdie keer met Erick wat in die kar agterbly), ry ons terug. Rustig, geselserig en met baie lag. Ons besluit dat  hierdie, as ons dit kan regkry om op hierdie datum saam te wees, ‘n jaarlikse  instelling gaan wees. Ons twee wat hom op ‘n outing vat op sy verjaarsdag.  

Net voor ons Worcester inry, besef ek: My kastrolletjie is mooi skoongemaak en prut nou weer rustig op my stoof. Niks van ‘n oorkokery of aanbrandsel nie.

Net rustig.       

  • tessa

    Ai Anette – dis so mooi ten spyte van die hartseer. Mag Heilige Gees jou hart beitel en beitel met Sy Heilige Salf, dat die swart kombers jou ewig verlaat. Mag Theunis geseen word. En jy. Mag Sy Vrede julle verstand te bowe gaan. Ek sê vir jou ‘n gebed. Liefde. x