Eie stories

Tanya van der Westhuizen van Gezina, skryf:

My Liewe Engelsman

Ek sit en skryf hierdie brief met ’n pleister aan die regterwysvinger en dis alles jou skuld. Dit was seer toe ek die gedroogde roos per ongeluk aan die doring raakvat. En terwyl die bloed ’n parmantige druppel op my seer vinger maak, het ek daar gestaan met ’n glimlag om die mond en weer gedink aan ons eerste ontmoeting maande tevore.

“Kan ek jou ontmoet vir koffie?” het jy gevra. Dit was ’n koue wintersaand, maar jou stem was warm, jou Engelse aksent welkom anders.

“Nee, ek drink te veel koffie bedags. Wat van wyn, Vrydagaand?” het ek jou gesiglose stem geantwoord.

Jou lag was warm en eerlik. Kan jy onthou hoe ons die ontmoeting beplan het? Ek sou die meisie met die wit bloes en donkerpers broek wees en jy die man met die lag en die roos.

Ek het lank vir jou gewag. Twee glase sjerrie lank. Die dame aan die tafel oorkant was baie suspisieus, want gedurende die tyd het twee middeljarige, verwarde verbygangers vriendelik gegroet. Goed, miskien selfs my ooglede so ’n keer of wat ekstra laat fladder. Maar, ek wás baie senuweeagtig en dit wás ná twee vinnige sjerries op ’n leë maag. Ek het omgekyk en jy was daar, by die ingang, pynlike uitdrukking op die gesig en twee bloedrooi rose styf vasgeklem tussen jou tande.

Onthou jy die verbasing op haar gesig toe die dame my hoor sê: “Jy is Rob,” en jy antwoord, op ons heel eerste ontmoeting: “Sjoe, maar het so doring nou my verhemelte verniel!”

So, met jou mond wawyd-oop, terwyl ek die skade ondersoek, het ons mekaar vir die eerste keer van aangesig tot aangesig ontmoet.

Dankie dat jy jou verhemelte vir my sou opoffer. Dankie dat jy jou siel vir my blootlê, maar meeste van als, dankie vir my twee rooi rose. Dankie dat jy smelt en nie sweet nie. Dankie vir jou “is jy lief vir ekke?” Dankie dat jy eenvoudige Afrikaanse woorde soms nie verstaan nie, woorde soos kolwyntjie, polvy en voortvarend. Dankie dat jy mý taal praat, die taal van my hart.

Ek sien jou in jou koninkryk, hoe jy die grond omwoel met jou vingers. Nuwe lewe gee aan ’n ou tuin. Jy ken elke nuwe blaartjie, jy ken my. Weet jy hoe ek jou uit die venster dophou wanneer jy die takke snoei? Weet jy, het jy enige idee hoe lief ek jou het? Jy is so dankbaar wanneer jy die reënmeter leegmaak, jou gesig helder op wanneer jy die kamer binnekom en sê: “Dertig millimeter!”

Ek is ook dankbaar vir die reën. Ek is dankbaar vir elke druppel van jou liefde wat op die dorre sand neerplof. Waar eers ’n woestyn was, is nou ’n stroompie. En dis alles jou skuld. Jou skuld dat die stroompie besig is om ’n rivier te word, ’n bruisende rivier waar daar eers woestyn was.

Ek onthou hoe jy aan die einde van die aand vir my gevra het om jou by jou motor af te laai, die een wat ek oorspronklik nie geweet het eintlik net twintig tree verder geparkeer was nie? Sou jy my weer uitgeneem het, as dit nie was vir daardie twintig tree van moed bymekaarskraap nie? Wel, Engelsman, was dit nie vir jou voorbarigheid nie, sou ek daardie selfde aand nog minstens ’n duisend opgewonde vlindertjies uit my maag moes vrylaat.

Ons dorings het mekaar al ’n paar keer gesteek oor die afgelope agttien maande. Ek glo dit sal ook weer gebeur, want rose het dorings. Dankie, my Engelsman, dat jy my soos ’n roos laat voel en nie soos ’n kaktus nie.

Met al my liefde

Jou turksvytjie