Eie stories

Tersia Ansems, ’n weduwee van Rowallanpark, Port Elizabeth, skryf:

My ou Grote,

Ek skryf gewoonlik op ons huweliksherdenking ’n kort notatjie binne-in ’n kaartjie om dankie te sê vir die liefde en ondersteuning deur al die jare heen. En dan weer op Vadersdag enetjie om jou te bedank vir die wonderlike pa en oupa wat jy was. Maar met hierdie huweliksherdenking op 15 Februarie 2009, skryf ek vir jou so ’n effens langer onthou-jy-nog-en-dankie-sê briefie …

Onthou jy ons onromantiese en chaotiese wittebrood, maar die romantiese tuiskoms daarna? Die besef dat ons nie genoeg geld het om in ’n hotel in Kaapstad te oornag nie, maar die romantiese noodverblyf in die motor op Melkbos se strand? Die onromantiese bestuurslesse wat ek van jou gekry het en my trane as gevolg van jou kort humeur, maar ons romantiese naweekuitstappies na klein plattelandse hotelletjies, ek agter die stuurwiel omdat jy weens jou beenbesering nie self kon bestuur nie? Die onromantiese harwar van formaliteite voor en tydens ’n lang beplande reis, maar die romantiese aankoms en eie-tyd in ’n vreemde land – op die tweede vlak van die Eiffeltoring? Jy het tot bo gegaan, maar ek was te bang.

Onthou jy die nou straatjies van Mont Matre, Juliet se balkon en Capri … Die onromantiese besoeke aan jou geliefde oorlog- en geskiedkundige museums, maar die romantiese etetjies in pubs daarna? Die romantiese op-ons-rug-lê-en-vliegtuie-tel buite die Rijksmuseum en die besoeke aan Volendam en Marken, maar die onromantiese dik pannekoeke van die Hollanders? Die romantiese in-die-bed-bly dae in reënerige naweek-winterweer.?Die onromantiese skoolkonserte en prysuitdelings, maar die romanse wat ingetree het ná die aanvaarding van die leë nes?

En nou sê ek dankie. Dankie dat jy altyd my hand vasgehou het wanneer ons ’n straat oorgesteek het, ook in die kerk by die troues en begrafnisse van geliefdes en vriende. Dankie vir jou breë skouers wat ek meer as een keer nodig gekry het. Vir jou lengte wat ek so misbruik het, al het jy vir my, my eie leertjie gekoop om by die hoë kasdeure by te kom. Dat ek altyd ’n betroubare motor gehad het (oooeee, behalwe daai rooi-en-swarte). Dat jy altyd die kruideniersware uit die motor gelaai het ná my inkopietogte. Dankie dat jy so ’n praktiese mens was. Dat jy ’n suksesvolle beroep gehad het en onwetend respek by almal afgedwing het. Dat jy my ook eie-tyd gegun het, nes ek vir jou!

Dankie dat ek nooit nodig gehad het om oor jou lojaliteit teenoor my, ons familie, vriende en jou land te twyfel nie. Dankie dat jy nie statusbewus was nie, maar wel beginselvas. Dankie dat jy so trots op my was. Jy was my rots, my steunpilaar, my klankbord, my warmwatersak op ’n koue aand, die sonskyn in my dag, die aandster van my nag, die wind onder my vlerke. Dankie dat liefde vir jou meer beteken het as romanse. Dankie dat jy so lief vir my was! Ek sal nooit ophou om vir jou lief te wees nie.

Ons sou op 15 Februarie 35 jaar getroud gewees het. Jy het nooit my verjaarsdag vergeet nie. Nogal snaaks, komende van die skynbaar “onromantiesste”paartjie in ons vriendekring! En toe trou ons boonop op 15 Februarie en nie op Valentynsdag nie, net omdat dit meer prakties sou wees. (Het ek al gesê dat jy ’n praktiese man was?)  Maar ek sê dankie dat ek so gelukkig was om deur die jare ook jou romantiese sy te leer ken.   

Ons Liewe Vader het egter tien maande gelede besluit dat Hy jou nodiger het as ek. Ek mis jou, ek weet jy onthou en ek sê maar net weer dankie!