Eie stories

Terug op my voete – ná egskeiding

Roerend, ontstellend, pynlik eerlik. Maar ook positief. Selfs humoristies. Die reaksie van SARIE-lesers ná ons artikel “Egskeiding – ’n nuwe begin” in September verlede jaar was baie insiggewend – en oorweldigend.

Lesers het van heinde en ver per pos, faks en e-pos van hulle laat hoor. Om self te vertel van die trauma van egskeiding en raad te gee oor wat hulle gehelp het om weer op hul voete te kom. Die possakke het laas so gebult ná Bertha le Roux (Emma in 7de Laan) in die Mei 2005-uitgawe haar maerword-geheime gedeel het. Uiteindelik kom dit daarop neer dat ons almal dieselfde basiese behoeftes het: Om goed te voel, goed te lyk, gesond te wees, genoeg geld vir ons basiese behoeftes te hê, maar bowenal om gelukkig te wees.

Uit die briewe blyk dit dat familie en vriende in dié kwesbare tyd jou vlerke is. En dat jy mettertyd ter wille van selfbehoud en jou kinders weer die lewe vierkant in die oë moet leer kyk, “selfs al het jou hart aan duisend stukke gebreek”, soos Martie uit Durban skryf. “Jy heg uiteindelik die skerwe weer aanmekaar, maar die letsels bly vir ewig. Tog ís daar ’n lewe ná egskeiding. As ek terugkyk op dié jaar van hel, wonder ek wat die seerste gemaak het. Die pyn en hartseer, die woede, verwerping, skuldgevoelens, gekrenkte trots, die vrees vir die toekoms wat ek nou alleen moet aandurf, of al die leuens?

“Deur alles hou my sin vir humor my staande. Ek en my 20-jarige seun huil saam. En ons lag saam oor Pa met sy kaalkop en boepmaag wat nou skielik sy lyf jonk hou en soos ’n wafferse vroetelpappie agter jonger vroue aanhardloop.”

’n Paar lesers het namens ’n geliefde geskryf. “Mense wat nog nie self deur ’n egskeiding is nie, kan nie heeltemal die impak, betekenis en seer daarvan verstaan nie,” skryf Elrina van Mondeor: “My arme sussie, ’n ma van drie, is ná 31 jaar geskei. Sy en haar gewese man is albei met vroeë pensioen. Hulle het saam hard gewerk en is geldelik welaf, maar geestelik geknak . . . Nou lê Amanda al sewe dae in die Flora-kliniek en het só seer. Hy’t haar vir ’n vrou gelos wat 19 jaar jonger as sy is. Sy moes nou in sy arms gelê het, nie in die hospitaal nie. Ons een sussie, Lidette, woon in Nieu-Seeland. Sy huil oor haar ousus se seer wanneer sy bel. Ons ander sussie, Ottoly, is die moeder Maria in ons kring. Haar woede oor wat ons swaer gedoen het, moet nog oorwaai.

“En ekke? Ek was nog nooit getroud nie, en sal ook nie trou nie. Ek het reeds op 17 – toe ek preggies geraak het (my dogter is al 30) – besluit trou is nie vir my nie. Ek is al ses jaar in ’n verhouding en ons woon saam. Nou is ek die houvrou . . . daai vieslike woord wat mense wat nie verstaan nie, vir my gegee het. Gelukkig is hy my houman, so ons hou aan mekaar en dis lekker. Amanda hoop steeds. Wie is ek om haar hoop te breek? Ek kan haar net vashou en troos.”

Wat sê die kenner?

Oor die verstommende reaksie wat SARIE op die artikel gekry het, sê die Kaapse sielkundige en hipnoterapeut James de Villiers: “Dis opvallend dat so baie mense reageer op ’n positiewe artikel wat hoop gee. Ek dink mense is deesdae meer vrymoedig om hul ervarings oor só ’n emosioneel-sensitiewe onderwerp te deel.

n Egte lewe van getrouheid aan jouself is moontlik

“Jy ontdek jouself opnuut deur interaksie met ander mense. Wanneer jy iets wat tot jou spreek, lees, hoor of op ’n dag net insien, verander jy en reageer jy en wil jy dit op ’n manier met ander deel. Dit stuur ’n boodskap van hoop na geskeides én getroudes, naamlik dat ’n egte lewe van getrouheid aan jouself moontlik is, en meer bevrydend is as om net te bestaan en van mense en dinge afhanklik te raak.

“Ek glo ook dit het iets te doen met ’n spirituele bewuswording dat jou waarde in die eerste plek afhang van wie jy is en nie wat jy doen nie. Daarom mag jy in ’n verhouding vra vir liefde. Jy hoef dit nie te verdien of daarvoor te baklei nie. Egskeiding is amper katastrofies,” sê James. “Gegewe die intensiteit van die stres, gaan jy deur ’n drukgang wat jou dwing tot selfondersoek en nuwe selfhandhawing.” Volgens die Diagnostic and Statistic Manual of Mental Disorders van die Amerikaanse psigiatriese vereniging word egskeiding as ’n vlak 6-stressor beskou. (’n Natuurramp is ’n vlak 7-stressor).

Hoe verwerk jy dit?

Tanya, ’n mediese dokter, vertel met humor hoe sy haar onlangse egskeiding ná ’n huwelik van tien jaar probeer verwerk. “Gisteraand in die halfdonker gang amper op hom getrap. En toe afgebuk en die pragtige, geheimsinnige diertjie vriendelik dog ferm die deur gewys. Mooi gepraat, een skerpioen met die ander.

“Hy verstaan nie Afrikaans nie, want met ’n gevaarlik krom stert storm hy toe op my af. En net daar vernietig ek hom met een spuit wat eintlik net vir kruipende goggas bedoel is. Ek lê die hele aand en dink hoeveel van die onheile wat my en die kinders gaan tref, eenvoudig met ’n kannetjie Doom gefix kan word. My vriendekring is gefumigate. Oornag het almal verdwyn. Net die nare reukie van die egskeiding hang nog in die lug. My sielkundige sê ’n mens maak maar net die deure en vensters wyd oop.

“Alle nare reuke verdwyn binne ’n paar weke. En die geharde ‘kakkerlak’ kom weldra weer terug. Intussen sit ons met ’n kookprobleem. Want Pappa het elke aand gekook. Rosinah sê sy sal probeer, maar die kos is ’n feestelike ramp. Haar spierwit Venda-glimlag soggens te midde van die oorvloed drank vir gisteraand se ete maak die bleikmiddel in die tandepasta onnodig. Ouma bring die kinders se toebroodjies en pak koeldrank vir skool. Vóór die egskeiding was die helfte van haar woordeskat gekrui. Sy praat nou weer suiwerder Afrikaans. Buurvrou het te midde van die hele skeiery ’n knievervanging gehad. Kon sy nie maar net so ’n bietjie beter beplan nie? Maar daar is net mooi niks wat Judy nie oor ’n telefoon vir jou kan reël, organiseer of afpers nie.

“Soms vergeet jy jou kinders by die skool. Dan bring juffrou Lelanie hulle huis toe. By die werk het jy iemand wat jou teen die kop klap as jy deur die venster tuur en agter raak met jou werk. Dis soos kits-skokterapie. Bedags is sy kwaai met jou en saans bid sy vir jou. Sy was ’n engel in al haar lewens. Nig Elmari kyk in haar kristalbal voor sy bel,” skryf Tanya verder. “Ek luister na haar raad, want sy is groter as ek en sy kon nog altyd vinniger as ek hardloop. Sussie krop nie haar frustrasies op nie en skree teen so 120 desibels op ons. Ek laat haar maar skree, want wat doen jy met jou woede as jy ses jaar oud is en magteloos voel? Haar boetie van nege jaar laat haar ook maar begaan. Of dalk het hy teen dié tyd ’n gebarste oortrom. Ons is nog nie op ons voete nie, maar die engele dra ons.”

Vergewe hom

“Dis één om ding om te sê jy’t iemand vergewe, maar heeltemal iets anders om werklik vergifnis te vóél,” sê die Oos-Kaapse sielkundige Shani Grové. “Volkome aanvaarding en vergifnis is wel met verloop van tyd moontlik, maar jy móét eers die trauma verwerk.”

’n Sielkundige of ’n berader kan jou hiermee help – dis immers deel van die genesingsproses om oor jou gevoelens te kan praat. “Maar dan moet jy aanbeweeg en nie knaend oor jou pyn praat nie, anders kan jy ’n slagoffer-mentaliteit ontwikkel. Solank jy wroeg, skakel jy by jou pyn en ellende in en ontmagtig jy jouself. Dis belangrik dat jy jou egskeiding ter wille van jou kinders verwerk, omdat hulle deur jou stemtoon, gesigsuitdrukking en liggaamstaal jou pyn kan aanvoel, en dít verklap baie meer as wat woorde sê.”

Nou weet ek vir die eerste keer . . . wat harmonie is

Shani meen mense praat deesdae ál makliker openlik oor hul egskeiding. “Skei is nie vir sissies nie en emosionele oorlewing nie maklik nie,” skryf Celeste (49), ma van twee volwasse kinders wat midde-in ’n nare egskeiding is. “Ek is ’n ekstrovert (met grense) en al hét ek ’n kurkprop-persoonlikheid, het ek genoeg wysheid om te weet ’n mens verveel nie jou vriende met jou probleme nie. My grootste wens is om die saak so stil, rimpelloos en pynloos moontlik af te handel.

“My man, met sy suig-aan-die-agterspeen persoonlikheid, is die een wat uitpraat, asof hy stemwerwing doen. Hy bespreek ons situasie met almal – of hulle wil luister, of nie. Ek wil nie hê mense moet my bespreek asof hulle in my binnekring is, terwyl hulle geen benul het wat werklik gebeur het nie. En ek is nie bereid om daaroor te praat nie, want dit voel asof ek hom diskrediteer. My man bly tog die pa van ons twee pragtige kinders en ons deel ’n historisiteit wat ek altyd sal respekteer. Ek sou graag ter wille van die kinders van hom ’n vriend wou maak.

“Ironies genoeg het ek die skeisaak ná ’n huwelik van 27 jaar geïnisieer. Weet nie mooi hoekom ek so lank gewag het nie. Want sien, dié voorbeeldige man wat sy plek in die samelewing volstaan, wéét hoe om ’n vrou emosioneel subtiel te knyp as die deure toe en die mense weg is. Ek is nie te lelik nie, en trek met my lewendige geaardheid nogal heelwat aandag. Al het hy by openbare geleenthede graag met my gespog, het my persoonlikheid hom duidelik ook bedreig. Dit het gevoel asof ek nooit toegelaat was om myself te wees nie en ek moes altyd ’n front voorhou van dit gaan goed, hoe dan anders? Nou weet ek vir die eerste keer in my getroude lewe wat harmonie is.”

Baie lesers bederf hulself weer ’n bietjie, al is dit net om weer ’n slag goed oor hulself te voel en waardering uit te lok. “Ek het vandag ’n groot sonde gepleeg,” skryf Sharon. “Ek het ’n baie duur rok gekoop wat ek nie nodig het nie en waarskynlik nooit weer sal dra nie. En dit net omdat die vroue in die winkel ge-‘oee’ en ge-‘aaa’ het oor hoe goed die rok aan my lyf sit. Toe ek dit by die huis weer aanpas, het ek natuurlik nie naastenby so swymelend goed in die rok gevoel nie.

“Ek besef toe dis omdat hier niemand was om te ‘oee’ en te ‘aaa’ en my te laat voel ek is ’n bewonderenswaardige, merkwaardige vrou nie. Eintlik het ek net die oee’s en aaa’s gekoop. My eks het gereeld gesê hoe vet ek is. Sexy nuwe onderklere en parmantige borsgleufie-bloesies is nooit raakgesien of gewaardeer nie. Hy’t gedurig geïmpliseer dat ek nie net ’n make-over nodig het nie, maar inderdaad ’n overall, soos ’n motorenjin wat ’n overhaul moet kry.

“Nou spaar ek vir ’n lipo (vetsuiging) en gaan ’n borsinplanting laat doen om die gevolge van 40 jaar se gravitasie teen te werk. Watwou, dis ’n belegging in myself, my selfbehoud, my selfbeeld en die nuwe ek. Ek simpatiseer met my ‘susters’ wat deur ’n egskeiding is, én diegene wat dalk dié hartverskeurende paadjie sal moet loop. Mag julle almal aan die ander kant van dié donker oerwoud met nuwe krag en innerlike skoonheid beloon word.”