Eie stories

Terug op my voete

In beheer van my lewe

Haar geldsake het drasties skeefgeloop, haar verhouding met haar lewensmaat het daaronder gely en sy was in ‘n “gat”. Die ergste was dat haar raad aan kliënte nie vir háár wou werk nie. Deesdae is sy weer haar energieke self – met ‘n nuwe werk, woonplek en lewenswysheid.

WAT GEBEUR HET

“Ek was mal oor my lewe by die see. Ek het vanuit die Kaap gewerk en gevlieg na my Johannesburgse kliënte. Toe tref die resessie die wêreld, my kontantvloei raak te min vir gereelde vlugte, ek sien minder kliënte, kry minder geld, tussendeur bedank my lewensmaat, en skielik:’n finansiële nagmerrie.

“Ek het soos ‘n bedrieër gevoel. Ek was altyd trots dat ek volgens ‘n plan leef, en skielik kon ek nie sin sien in die lewe nie. Ek was in ‘n donker plek, ek sou sommer begin huil, maar ek wou nie erken dat iets skort nie.

“Die finale slag was toe ek nie die gewone goeie reaksie op my kursusnuusbrief vir die nuwe jaar gekry het nie. Ek kon nie rekeninge betaal nie. Ons sou letterlik iets prakseer met wat oor is in die koskas, of ons liters petrol tel.”

DIE PLAN

“‘n Radikale stap: Johannesburg toe. Ek ken die vermaak- en kosbedryf. Ek het my broer gebel wat daar by ‘n glans-mode-eetplek in ‘n casino betrokke is. Binne vyf minute het ek my eerste ja in ses maande gekry. Ek het in 24 uur opgepak, my maat en ons diere gegroet en Johannesburg toe gery met geleende geld.

“Die volgende dag moes ek alles agter my sit en begin werk as operasionele bestuurder. Die ure was uitmergelend – ek sou soggens vieruur uitgeput klaar maak, maar ek het geweet ek het hier iets om aan vas te hou. Ek was gedreineer, maar vir die eerste keer nie gestres oor ‘n inkomste nie . . . ek het geweet ek doen iets.”

KEERPUNTE

“Ek sou voorheen my neus optrek vir die ‘oppervlakkige glanswêreld’, maar ek het lief geword vir die werk. Ek ontmoet ongelooflike mense. Ek is nog lewensafrigter, maar ek lei mense ook op ander maniere. Ek was pas weer ‘n spreker by ‘n vrouedag.

“Die belangrikste: Ek sorteer my skuld uit. Elke maand vorder ek. Langs die pad was ook klein keerpunte: My eerste salaristjek. ‘n Toekenning vir my werk as lewensafrigter. Om weer pret te ervaar. Eers het ek net gewerk soos ‘n besetene, maar op ‘n dag het ek weer vreugde begin voel.”

 

OM TERUG TE BONS

“Ek bons gewoonlik maklik terug. Maar hierdie keer het ek eerder teruggekruip! Dit was ‘n lang reis en dis nog nie heeltemal verby nie. Maar dit gee my eindelose plesier om my boet met ‘n enkelbedrag terug te betaal, terwyl ek aan die begin R100 vir petrolgeld by hom moes leen.

“Ek mis my huis. En my diere – hulle bly by my voormalige lewensmaat, wat nou ook in Johannesburg woon. Dit was ‘n swak besluit om al ons finansies saam te gooi en so afhanklik van mekaar te raak. Ons was albei in ‘n gat, maar dít besef ek nou eers.”

Wat ek geleer het

  • Soms werk babatreë nie; soms moet jy ‘n radikale stap neem.
  • Ek is gedwing om meer in die oomblik te leef. Ek kon nie verder kyk nie, ek moes net die dag klaar maak. En dis oukei as jy nie weet wat die volgende stap is nie.
  • My familie is ongelooflik. My broer en sy vrou het my ingeneem en nooit iets van my gevra nie, al was dit drie maande voordat ek kon sê: “Vandag maak ek vir julle kos, en ék betaal.”
  • Ek was altyd die waagmoedige een – en skielik nie. Maar as jy jou pyn eerlik deel, bly jou mense lief vir jou.
  • Ons het almal die vermoë om draaiballe te hanteer. Dis daar om te ontdek, dié vermoë.