Eie stories

Theresa Feierabend van Namibië, skryf:

Liefste

Ek kan jou bel of sms, ek kan vir jou ’n e-pos stuur, maar nie vandag nie. Nee, vandag skryf ek vir jou ’n brief. ’n Liefdesbrief. Ek doen dit in kerslig, met ’n inkpen en spesiale papier. 

Ek wens jy was vanaand daar om saam met my te kyk hoe die son ondergaan oor die see. Dit was so bo-aards mooi, ’n volmaakte skildery, maar tog het iets vir my ontbreek… jý.  Ek wou jou in daardie goue oomblikke by my hê om die son in jou oë te sien vassit en die hitte van jou hand om my koue vingers te voel vou. Weet jy, ons is net soos die son en die see.  Hulle pas bymekaar, maar bly ook son en see sonder om te versmelt soos skaduwees op die sand. Jy bly jy en ek bly ek, maar iewers het ons tog een geword, want die liefde het ons weer heel gemaak van die baie vorige seer.

So baie nagte, wanneer die maanlig deur die venster kom loer en met silwer vingers oor jou rug streel en in jou hare vroetel, dan kan ek net na jou lê en kyk.  Ná ’n dag vol van ure se werk en gejaag het die moegwees-spoortjies om jou oë gaan vassit en al die lyne op jou gesig versag.  Dit bring weer iets van die kwesbaarheid van ’n slapende kind in jou uit.

My oë gly gewoonlik oor jou sterk rug, die aanloklike hawe van jou skouers, jou arms en ek sien hoe jou bene so bekend onder die beddegoed vorm aanneem.  Alles omtrent jou is eenvoudig vir my manlik-mooi en ek vind jou onweerstaanbaar. Altyd. Wanneer jy net ’n handdoek dra ná ’n stort, of gemaklik is in jou blou jeans, netjies aangetrek is vir werk of my na asem laat snak in jou aandpak. My aanraking dwaal gewoonlik saam met my blik na jou en ek vat aan jou met eerbied in my hande, verwondering in my hart en respek in my siel. 

Dis sulke tye wat ek alles omtrent jou raaksien, indrink en in my innerlike skatkis bêre. En dis in die stilte van die nag met jou digte nabyheid en geliefde reuk om my, dat ek besef hoe gelukkig ek is om jou in my lewe te kan hê.

Ek sien die eelte aan die binnekant van jou hande en ek wil jou dankie sê dat jy elke dag so hard werk om jou gesin te versorg. Ek kyk na jou lyf wat oor die jare verander het van dié van ’n lang, skraal seun na die van ’n forse man – ’n man in die ware sin van die woord. 

Weet dit vandag, my Liefste – jy is vir my alles wat ’n man moet wees.  Nie omdat jy perfek is nie, maar omdat jy opreg is in alles wat jy doen. Nie omdat jou woorde nooit trane bring nie, maar omdat die bedoeling daaragter suiwer is. Nie omdat ek nooit alleen is nie, maar omdat ek weet jy wil werklik by my wees wanneer ons saam is. Ek sien soveel meer as jou manlike aantreklikheid, want jy voel veilig genoeg by my om my te laat deel in jou kwesbaarheid. Jy vertrou my genoeg om jou diepste begeertes aan my bekend te maak en saam met my vervulling daarvoor te soek. Jy het my lief genoeg om my te laat voel soos die mooiste, sexyste vrou in die heelal, omdat ek weet hoe ek deur jou oë lyk. Jy is sterk genoeg in jou manlikheid gevestig om saam met my te kan huil in ’n hartseer fliek.

Jy en my liefde vir jou maak my soms baldadig soos ’n springbok ná die reën. Soms maak dit my stil of laat dit my dink en droom. Ander kere laat dit my gekoester voel en dan weer brand dit my soos ’n vlam. Maar altyd laat dit my met dié kosbare wete: God het ons aan mekaar gegee om lief te hê en jy – dierbare, wonderlike, onvoorspelbare jy – het my ook lief soos ek jou liefhet. Jy het mý gekies om jou vrou te wees, jou lewe te deel en jou kinders in die wêreld te bring. Kinders wat soveel het van jou en van my en van hulself.

Onthou, vandag en elke dag – wanneer ek jou aanraak, jou vashou of jou soen, jou hand neem – sê ek met alles wat mooi is in my: Ek het jou lief, my man, en ek is bly om met jou getroud te kan wees.

Terloops, as jy hier klaar gelees het, wag daar ’n verrassing vir jou …