Eie stories

Tiener-ma van ‘Nege Maande’ gesels oor haar uitdagings

Nikita van Onselen (16) en Dylan de Leeu (18) het soos baie van vandag se tieners op MXit ontmoet. Dylan se broer is saam met Nikita op skool en nadat Dylan ‘n foto van haar gesien het, was hy verlief op dié blondine. Nikita was nog op skool en Dylan het reeds gewerk.

Hulle het net 10 maande uitgegaan toe hulle per ongeluk oor die tou getrap het. Nou moet dié tienerpaartjie een van die grootste uitdagings van hul lewens saam aanpak …

Nikita Olson


Hoe het jy besef jy is dalk swanger?

Ek het twee keer in een maand my maandstonde gehad en toe die volgende maand glad nie. Ek het eerste vir my niggie daarvan vertel.

Wat was Dylan se reaksie? 

Dylan was geskok toe hy hoor ek is swanger en het gewonder hoe ons dit vir ons ouers gaan vertel. Hy het sommer begin huil.

Hoe hanteer jou onderwysers jou nou met die swangerskap? 

My onderwysers is maar nog dieselfde met my. Al wat verskil, is dat hulle bekommerd is oor my skoolwerk en my gesondheid. Hulle wil graag hê ek moet ophou rook om die baba se ontwil.

Wat sê jou vriende van die swangerskap?  

My vriende sê baie keer vir my hulle is bly vir my en sien ook uit om die baba te sien.

Is daar enige van jou vriende wat jou verwerp het? 

Daar is nie regtig enige van my vriende wat my verwerp het nie. Ek dink eintlik ek het meer vriende gekry in die laaste paar maande by die skool.

Wat dink jy beteken dit om ‘n ma te wees? En voel jy al soos ‘n ma? 

Ek dink om ‘n ma te wees beteken om verantwoordelik te wees. Ek voel al definitief soos ‘n mamma en is ook baie bossy met my boetie. Ek dink ek het alreeds die ma-instink, want op die oomblik is ek by die huis vir die derde kwartaal en nou maak ek die huis skoon en maak kos.

Wat wil jy hê moet jou seun eendag word? 

Ek wil graag hê hy moet ‘n rugbyspeler word vir die Springbokke en ek glo my pa sal ook nie mind nie. Anders hoop ek net dat hy ‘n sukses van sy lewe sal maak en nie ook oor die tou sal trap nie … 

Wat is jou raad aan enigiemand wat in jou posisie is? 

Wees bly vir wat jy het, want daar is net een persoon wat so ‘n “great” geskenk aan jou kan gee en dit is die Here. Hy sou nie dat so iets met jou gebeur as Hy weet jy kan dit nie hanteer nie. Dit is soos die gesegde sê: Alles gebeur met ‘n doel. En dit beteken nie jou drome is nou onmoontlik nie, jou lewe staan net vir ‘n oomblik stil en jy kan steeds al jou drome vervul – dit gaan nou net baie harder werk wees om dit te bereik. Maar ek glo enigiemand wat wil, kan dit doen.

Wat doen Dylan om vir jou te wys dat hy jou ondersteun op ‘n daaglikse basis? 

Ek sien hom nou nie elke dag nie, maar ons praat elke dag op BBM en as hy daar is, help hy my met alles, soos om kos te maak.

Het julle al besluit op ‘n naam vir die baba? 

Ja, ons hou van die naam Zeandre Andries. Andries is my pa se tweede naam en Dylan se oupa se naam.

Hoe berei jy en Dylan jul voor op die geboorte van die baba?

Ek vat maar dag vir dag en bid net dat alles goed sal afloop vir die dag wanneer ek my gesonde baba in my hande gaan kan vashou.

Beskou jy dit as ‘n fout of ‘n seën dat jy swanger geword het? 

Ek het in die begin gedink dit is ‘n fout, maar met tyd en my ouers se ondersteuning is dit definitief ‘n blessing! Hoeveel mense kan nie swanger word nie en ek wou nog altyd kinders hê … Ek het nou nie gedink so vroeg nie, maar ja … ek is glad nie spyt nie. Ek gaan alles in my vermoë doen om ‘n goeie ma te wees.

Wat is jou raad vir ander tieners oor seksuele gedrag? 

Wees maar altyd versigtig. Moenie kanse vat en dink jy gaan nie swanger raak nie, want dít is juis wanneer jy swanger raak. Probeer maar altyd om openlik met jou ouers te wees en ‘n goeie verhouding met hulle te hê, want hulle weet van beter – al dink ons nie altyd so nie! Glo my, ek sou dit nie sonder hulle kon doen nie. Safe sex baie belangrik.

[box:full:red:both]

Nege Maande

KYK Nege maande Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

[/box]