Eie stories

Tienie de Bruyn van Ifafa Beach, skryf:

My liefste Liefie

Vanoggend toe ek in Scottburg was om al ons sake te gaan doen en ek by die mall stilhou vir ons laaste inkopies, kon ek sommer dadelik sien dis die maand van die liefde, Valentynsmaand. Al die geskenke …  ook my gunsteling-sjokolade.
In die klere-afdeling het ek daardie rooirok gesien, die “Pretty Woman”-rok. Toe dink ek aan die aand toe ons gaan dans het en ek ook my rooi rok aangehad het. Jy het in my oor gefluister hoe pragtig ek lyk. Ek het my arms om jou nek geslaan en ons het innig gesoen. Onthou jy hoe een jong paartjie ons aangekyk het? Jy’t gesê hulle dink seker ek is ’n ander man se vrou. Ons het gegiggel en net stywer teen mekaar gedans. Ek was so trots om in jou arms te wees. Jy’s besonders lank en skraal én aantreklik. En jy het die mooiste groen oë. Hoe beskryf ek die manier hoe jy afgekyk het na my terwyl ons gedans het?
’n Warm bruisende gevoel het van my voete af tot by my mond beweeg, en ek het in jou oor gefluister: “My Liefie, vannaand wil ek my ten volle, my alles aan jou gee.” Hoe anders dan? Niemand het my nog ooit so liefgehad nie. Ek onthou die musiek se note het sagter geword en uiteindelik stil – daardie oorweldigende gevoel van liefde vir mekaar op die dansvloer.
 Ek het vanoggend sommer daar in die winkel my stoute laggie gegee, want ek het onthou jy het my na ons tafel begelei. Ons het mekaar aangekyk, ek het my silwer sakkie geneem, jy jou baadjie. Jy het dit oor jou lang lenige skouer gegooi (onder daardie hemp, het ek geweet, is bruingebrande, gespierde arms). Die ander arm was my skouers. Ons het glimlaggend die ander pare gegroet. Ek het so veilig gevoel en natuurlik ook goed gevoel, want die aantreklikste, liefdevolste, bedagsaamste man van die aand het sy arm om mý gehad.
Ná die inkopies, het ek teruggery huis toe, die motor se dak afgeslaan. Met die wind deur my hare, het ek kliphard gesing. Ek het my gedagtes weer vlerke gegee en die mooiste “memories” het voor my verby geflits.
My Liefste, dankie vir jou wysheid en die manier wat jy my bygestaan het met die grootmaak en opvoeding van ons kinders. Jy’t sterk waardes by hulle ingeprent. Jy is steeds ons koning. Ons kinders en kleinkinders is mal oor hul oupa. En kleinseun Kobus het klaar sy oupa se “looks”, met daardie groen oë wat dwarsdeur ’n mens kyk.
Toe ek later by ons plaaspad indraai, was die son net besig om te sak. Liefling, ek was oorweldig met dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader, want daar op die stoep het die lang lenige man vir my staan en wag … my man, my held, my minnaar, my Godgegewe man.

Ek het jou oneindig lief