tracey

FOTO Travul Diary

Eie stories

Tracey se 5 dinge om in Praag te doen

Bravo! en Heart 104.9fm se Tracey Lange en haar kêrel, Avukile Mabombo, reis die wêreld plat. Wel, dis hoe dit lyk as ons na hul blog, Travul Diary, kyk. Die twee het ’n reisblog begin en deel hul inskrywings weekliks met ons!

Tracey Lange is een van ons gunsteling-televisie- en radiopersoonlikhede en ons geniet dit om na haar en die mooi Europese tonele te kyk. Sy en Avukile skryf op hul blog oor nuwe restaurante, verblyfopsies, begrotings, reis-administrasie en meer; alles van hier in SA tot ver oor die water.

Tracey en Avukile het wonderlike wenke op Travul Diary gedeel vir dié wat daaraan dink om na Praag te reis of in Europa gaan toer. Lees hier en kyk na die mooi foto’s!

Avukile skryf:

Op dag 3 van ons Expat Explore-toer (lees meer oor hierdie toerkoördineerders in verlede week se inskrywing) het ons via Neurenberg, waar ons vinnig vir middagete gestop het, gereis na Praag, die hoofstad van die Tsjeggiese Republiek.

So graag soos wat ek jou meer wil vertel van Neurenberg, moet ek eerlik wees; ek het so uitgesien na Praag dat ek regtig nie veel kan vertel van Neurenberg nie. Praag het vir my soos die eerste dag van die toer gevoel.

Ek kan jou baie van die geskiedenis van Praag vertel (wat werklik interessant is en op ons toer saam met Expat Explore kry jy baie inligting oor dié stad en die land soos jy binnekom), maar ek sal julle nie te lank daarmee besig hou nie. Wat ek wel wil uitlig, is dat Praag ná die Eerste Wêreldoorlog die hoofstad van Tsjeggo-Slowakye was. Weens historiese gebeure het dié land in 1993 weer verdeel in twee onafhanklike state, naamlik die Tsjeggiese Republiek en Slowakye.

tracey

FOTO Travul Diary

Toe ons laatmiddag in Praag aankom, was daar gelukkig nog tyd om voor aandete ’n begeleide stadstoer saam met ’n gids in te pas. Dit was baie insiggewend, aangesien ons die volgende dag die stad op ons eie verder verken het.

Hier is ons top-5 dinge om in Praag te doen:

1. Die ou stadsplein

tracey

FOTO Travul Diary

Tracey skryf:

Soos met baie stadspleine in Europa, is dit die hart van die stad. Daar is ’n konstante gewoel met baie restaurante, huise, kafees en toerisme-aantreklikhede.

tracey

FOTO Travul Diary

tracey

FOTO Travul Diary

Avukile skryf:

’n Gedeelte van die ou stadsaal, wat in 1338 gebou is, staan nog in die ou stadsplein. Ongelukkig het die gebou baie skade gely tydens die Praag-opstande in die 1940’s. Soos jy deur Europa reis, kom jy agter hoeveel geskiedkundige beelde, geboue en ander skatte skade gely het weens konflik. Ek dink dieselfde kan ongelukkig seker van Suid-Afrika gesê word.

tracey

FOTO Travul Diary

Tracey skryf:

Sedert die 14de eeu is die Týn-kerk langs die ou stadsplein die belangrikste kerk in dié deel van die land. Van die ou kerktorings is 80 meter hoog.

2. Praag se astronomiese klok

Tracey skryf:

Hierdie klok op die ou stadsaal is in 1410 geïnstalleer en die derde oudste atronomiese klok in die wêreld. Dit het boonop nog al die oorspronklike onderdele!

tracey

FOTO Travul Diary

Avukile skryf:

Ek wil graag sê dat ek hierdie klok kon verstaan, maar dit sou ’n leuen wees. Die horlosie dui die tyd, dag van die week, die maand en jaar aan. Dit gee die Sentraal-Europese, Babiloniese en sideriese tyd; jy weet, vir ingeval jy mense in dié tydsones het.

tracey

FOTO Travul Diary

Tracey skryf:

Almal wag vir die vertoning wat elke uur gebeur. Die animasievertoning duur 2 minute lank, met 4 figure wat om die klok beweeg en danspassies uitvoer.

Avukile skryf:

Let wel: moenie te veel verwag van dié vertoning nie. Maar as jy in gedagte hou dat die installasie 600 jaar oud is en die eeue oue tegnologie van destyds gebruik, is hierdie ongelooflik.

3. Charles-brug

tracey

FOTO Travul Diary

Tracey skryf:

Ons móés net die Charles-brug sien en ek kan met sekerheid sê dat dit die mooiste brug is wat ek nog gesien het! Die brug is oor die Vlatva-rivier en word deur drie torings beskerm. Daar is ook baie standbeelde op die brug, maar hulle is net replikas – die oorspronklikes is in veilige bewaring.

Die brug is nie lank nie, maar met al die toeriste-aantreklikhede daarop, soos ’n orkes wat speel, vat dit lank om oor te steek.

tracey

FOTO Travul Diary

Avukile skryf:

Blykbaar het bouwerk aan die brug in 1357 begin en die eerste steen is gelê deur koning Charles IV. Soos met die meeste van Praag se argitektuur het hierdie brug deur baie oorloë, vloede en verkeer bly sterk staan.

4. Die Praag-kasteel

tracey

FOTO Travul Diary

Tracey skryf:

Volgens die Guinness Book of World Records is dié kasteel die grootste antieke kasteel in die wêreld. Dit strek oor 70 000 vierkante meter! Die Saint Vitus-katedraal is deel hiervan en het ’n toring met ’n wonderlike uitsig oor Praag.

tracey

FOTO Travul Diary

tracey

FOTO Travul Diary

tracey

FOTO Travul Diary

tracey

FOTO Travul Diary

Tracey skryf:

Wie sou dink dat ons die Eiffel-toring in Praag gaan sien? Dié struktuur (foto bo) is die Petrin-uitkyktoring wat baie na die bekende Paryse toring lyk. Ons het besluit om nie die staptog na die toring aan te durf nie, maar het steeds dié foto geneem.

5. Tradisionele folkmusiek-ete in Praag

tracey

FOTO Travul Diary

Avukile skryf:

Ons kon nie Praag verlaat sonder om ’n ware Tsjeggiese ete te beleef nie. En as hierdie mense partytjie hou, gaan hulle gróót! Asof die bodemlose voorraad wyn en bier nie genoeg was nie, het hulle net aanhou vleis aandra. Hemel, ek sê jou!

tracey

FOTO Travul Diary

tracey

FOTO Travul Diary

Tracey skryf:

Behalwe vir die heerlike kos, het ons ook lekker saam met die ander toerlede gekuier en mekaar beter leer ken. Ek het hierdie groot stad, wat die warmte van ’n klein dorp het, geniet. Oulik, bekoorlik, warm en aangenaam is hoe ek Praag beskyf. Ek sal graag eendag wil terugkeer vir hul Kersfeesmarkte!

tracey

FOTO Travul Diary

Baie mense het my al gevra hoekom ek van Europa en al die ou geboue hou. Die antwoord is eenvoudig: ek hou regtig daarvan om in plekke te wees wat soveel anders is as dit wat ek ken.

Ek is mal daaroor om by die venster uit te kyk en dinge te sien wat ek nie ken nie, en wil dadelik meer daarvan weet. Ek is lief vir stap in strate wat ek nie ken nie. Selfs die moontlikheid van verlore raak, skrik my nie af nie.

tracey lange

FOTO Travul Diary

Lees nou

Tracey Lange en haar kêrel deel vakansiefoto’s!

Tracey deel nog foto’s; kyk hoe mooi is die Rynvallei!