Eie stories

Tree vir tree by jou

‘Ons verhouding het verdiep’

“Sy oë kan myne tussen ’n skare mense vind en dan staan tyd stil. Ek weet wat hy wil sê en wat ek vir hom beteken. Ons verhouding was ’n sprokiesverhaal en my kinderdrome van verlief raak, trou en kinders kry, het begin waar word.

Maar ná ’n jaar se ‘sukkel’ het die ginekoloog aanbeveel dat ons albei vir toetse gaan. Ek kon die skok in my man se asemhaling hoor. Sy lyf het verstyf en hy’t my oë probeer

vermy. Terwyl die dokter herhaal dat die spermtelling sub-fertiel is, het ek myself in sy gesigveld ingedwing. Ons oë het ontmoet. Ek het geglimlag en gesê: ‘Onthou, ons het steeds net een gesonde sperm nodig.’

Ons pad was nie sonder hartseer nie, maar as ek weer kon kies, verander ek niks. Hy’t my een aand gevra wat ek dink ons keuses is. Hy was vol grappies en het gesê ’n spermbank is ’n goeie idee, want as die kind stout is, kan hy altyd sê dis ‘ma se kind’. Oomblikke later het hy met oë vol trane gevra dat ons dit in dié geval geheim moet hou, want hy sal nie die gespot kan verduur dat hy ’n ‘ander man se kind’ grootmaak nie.

Die eerste jaar het ons ons tyd, geld en energie op ’n laparoskopie en kunsmatige inseminasies bestee. Daarna was dit in vitro-bevrugting, maar weens die finansiële las het ons dit gestaak en aandag aan ons siele gegee.

Die holistiese benadering van alternatiewe geneeskunde het ons op ’n pad van selfontdekking gelei en baie antwoorde, vrede en aanvaarding gebring. Baie van ons seerkry was gesetel in ons ego’s en die veronderstelling dat ’n huis, kinders en geld jou gelukkig kan maak.

Vandag leef ons vir die oomblik en fokus op dit wat ons wél het. Ons besef om kinders te hê is nie ’n prioriteit nie, maar ’n seëning. Dis nou drie jaar later. Ons leefstyl het verander. Ons eet gesond en oefen gereeld. En ons lag baie meer! Terwyl ons altyd sal hoop vir daardie één gesonde sperm, is ons dankbaar vir hierdie tyd om ons verhouding te laat verdiep, opnuut respek vir die Skepping te ervaar en bowenal om weer soos ’n kind in vertroue te kan leef.”

M. van Centurion

 

‘Dis ’n teer saak’

 “Ná ’n mislukte huwelik wat geëindig het in ’n selfmoord en nog ’n verhouding wat op die rotse beland het, het ek nie gedink die man-ding is vir my nie.

Toe ontmoet ek hom. Die sesvoeter met sy sagte bruin oë, rugbyspelerlyf en hart van goud het my totaal oorrompel. Ons is twee jaar later getroud.

Nadat ons gevestig is, het ons besluit om met ’n gesin te begin. Ek was 27 en hy 32. Ek het die Pil gelos en drie jaar lank in spanning gewag. Niks. Ek het dit toegeskryf aan ons besige lewe of hormone wat nie saamwerk nie.

Toe word ek in 2007 skielik siek. Ek het niks vermoed nie en het ’n miskraam gehad. Die hoop het opgevlam. As ons dit een keer kon regkry . . .

My dokter het voorgestel dat my man getoets word. Die uitslae was die middag daar. My man het vreemd geklink oor die telefoon en ek het huis toe gejaag.Toe ek by die deur

instap, het hy gesê daar sal nie nog ’n kind wees nie. Sy spermtelling is bykans nul. Ek het begin huil. Hy’t my vasgehou en ons het lank so gesit.

Ek hou hom altyd dop as mense vra wanneer die kinders kom. Sy gesig is dan geslote en hy’t altyd ’n slim antwoord reg. Dis ’n teer saak, want hy’s die oudste seun en die naamdraer.

Dis moeilik as almal rondom jou swanger raak. Gesprekke gaan oor kinders en geboortes en ek kan nie saampraat nie. Maar ek verruil my lewe vir niks.

Ek het die moontlikheid van behandeling aangeroer, maar dit het niks verander nie. Ek het besluit om dit in sy hande te los en hy lyk gemaklik daarmee. Ons leef elke dag nader aan mekaar.

Ek het geleer luister na wat hy sonder woorde sê. Dis soms in die manier waarop hy loop, hoe hy iets doen – en dan die onverwagte rou emosie wat vir ’n oomblik op sy gesig is.”

Anoniem