Eie stories

Tussen die soet en die suur

My nuwe boek, Agter die lekker aan, lê in my skoot: ’n klein oorwinning. Ek ruik die warmte tussen die papier en ink, en ek weet dis met liefde geskryf – ’n koesterboek vol terapie vir my as skrywer. En ja, totale malligheid om alleen aan te pak – ek het dit self nagevors, geskryf en uitgegee . . . Maar ek móés iets doen wat bo my vuurmaakplek is. En ek moes slaag, ter wille van myself. Want skei is nie vir sissies nie. Ek onthou dit soos gister – dié dag, twee jaar gelede, toe ek uit die hof gestap het in die oggendson: Pas geskei. Of jy ’n man of vrou is, dit ruk jou. Jou selfbeeld is laag . . . nee, jy het géén selfbeeld nie. Selfs al is jy nie gewoonlik ’n sug-sussie nie. Selfs al het jy deursettingsvermoë en avontuurlus. Gewoonlik, as daar probleme op my pad kom, maak ek my rug reguit en stap regop soos ’n meerkat.

Maar skielik was ek níks. Kaapstad het daardie dag gejubel met die klank van blommeverkopers en verkeer en mense wat saam koffie drink en tussen straatstalletjies deurdrentel. Vir my was die strate triestig en vaal. Op 52 moes ek ’n nuwe lewe begin. Ek het my motor oopgesluit, alleen en broos. Gelukkig het ons nie kinders gehad nie. My vriende het my tydelike verblyf gegee, my help pak en een het my ’n hele middag lank vasgehou terwyl ek gelê en tjank het. Hulle het my gedurig gebel, onderskraag, daagliks e-posse gestuur, uitgenooi, ondersteun. Hulle het onder mekaar gekonkel en my gedurig vertel: Jy’s mooi, jy’s intelligent, jy kan so goed skryf. My ma en my suster was ook dáár vir my. Ma het geskrik vir my leë yskas en vir my ’n boks kos gepak (tipies!) en my suster, Ria, het my verseker: Jy sal weer regkom, jy land altyd op jou voete.

Jy moet ‘n doel hê waarna jy strewe en jy moet daardie doel bereik, sodat jy weer trots kan wees op jouself

Tog het ek gewroeg. Ek het my mislukte huwelik probeer verklaar en kon nie antwoorde kry nie. Hoekom het dít gebeur? Hoekom is dát gesê? Ek was verneder en skaam en hartseer. Ek het my selfvertroue en my lag verloor. Ek kon nie konsentreer nie. Ek kon nie skryf nie. My geheue was só sleg dat ek gewonder het of dit die begin van Alzheimersiekte was. Ek het voor die rekenaar gesit en na die toetsbord gestaar. Daar was ’n steekpyn oor my hart, maar die toetse kon niks oplewer nie. Stres, het die dokter gesê. My vriende het my genooi vir ete. Hulle het gunstelingkossies gemaak. Trooskos. Boontjiebredie. Skaapboud met klein patatjies in die oond gebak. Gestoomde groente. Hulle het dit probeer makliker maak, het my probeer opbeur, maar ek kon hul vrolikheid nie verduur nie. Dikwels nog voor die nagereg voorgesit is, het ek huis toe gegaan, vir my rooibostee gemaak en in die kombuis gaan sit en huil.

As ek eers begin het, kon ek nie ophou nie. Ek het gehuil in my kar en voor my rekenaar. In die stort, terwyl ek grimeer. Snags het ek nagmerries gehad oor die huwelik wat verby is, of deur die huis gedwaal. Soggens het ek uitgeput wakker geword – en verder gehuil. Ek het gestrompel deur die dae, moeg en alleen. Gewoonlik kyk ek die lewe vierkant in die oë, skep geleenthede vir myself en lewe my kreatiwiteit uit. En nou dít. Ek was lelik en dom. Ek het angsaanvalle gekry. Paniek. Vrees vir die toekoms. Kommer oor finansies. Twyfel in my vermoëns. Maar een oggend het ek vir myself in die spieël gekyk en gesê: ‘Hieruit moet jy kom. Jy moet jouself regruk. Jy moet ’n doel hê waarna jy strewe en jy moet daardie doel bereik, sodat jy weer trots kan wees op jouself.’

Daardie dag het ek begin stap. Kilometers ver. Ek het my lewe begin orden. Ek het kos gekook en tafel gedek. Ek het myself opgetof. Grimering, mooi klere, parfuum op die polse, al was ek alleen. Ek het lyste gemaak, sodat ek nie moet vergeet wat ek moes doen nie. Wat ek moes bereik. By die garagedeur het gestaan: Skakel af die lig. Draai alle krane toe. Is stoof af? Alarm aan. Dié lysie het ek deurgegaan voor ek ry (as ek onthou het!). Ek het besef daar’s geen antwoorde op my vrae nie. Jy kan wroeg soos jy wil, dit sal nooit opgelos word nie. Die enigste oplossing is om weg te stap daarvan. Aanvaar dit. Trek die gordyn toe. Dis verby. Klaar.

Ek het ’n passie vir ons Afrikaanse kultuur. Of dit ons musiek, speletjies, taal, gebruike of kos is, ek wil dit help bewaar. Ek het begin peusel aan die gedagte om ’n boek te skryf oor kos en die tyd toe ek grootgeword het. Toe iemand my vra hoe om smoorsnoek te maak en ’n ander wou weet van soutribbetjies, het ek besef mý geslag is die skakel tussen die oumense van die vorige eeu en die jongmense van die nuwe eeu. Dis ’n groot verantwoordelikheid. Ek wou nie ’n geskiedenisboek skryf nie, maar sommer net vertel van die dinge wat vir my saak maak. Ek wou vertel van oupa Dirk Rooikat en die skedel met die koeëlgat in, en hoe jy ’n huis kan bou met al die mislukte brode wat ek al gebak het. Ek wou skryf van ant Sannie wat in die konsentrasiekamp was en haar skilferkorsdeeg. Van slaphakskeentjies en moskonfyt. Van ingelegde vis en soutribbetjies. Die boek het homself aan my geopenbaar. Snoek. Die hele gedoente van kreef. Lamskenkels op krummelpap. Pofadder. Asynpoeding. Kos is ’n koesterding. Reeds as kind word jy getroos met ’n appel of ’n stokkielekker. Of jy kry Sondag se skaapboudbeen om af te eet. As jy weg was, kook jou ma jou gunsteling-kos. Skaapboud en geelrys. Pampoenkoekies. Karringmelkpoeding, bruin gebak aan die rante.

Met die skryf van die boek het ek teruggegaan na die dinge wat vir my dierbaar is. Jerseykoeie wat in die dorp wei, ’n blokman wat sy storie ken, ’n emalje-emmertjie waarin vet gehou is. Ek het onderhoude gedoen en ver agter moskonfyt en werfhoenders aangery. Ek het die stories geskryf, die kos gemaak, die resepte getoets, die stilering gedoen, die foto’s geneem. Ek het dag en nag gewerk, deur die week en elke naweek. Dit het my goed gedoen, my kop was bésig. Boonop moes ek leer van die tipes papier en uitleg en bemarking en onderhandelings, en ek moes alles self finansier. Maar dit was asof ’n engel oor die projek gewaak het. Almal was my goedgesind, almal het baie meer gedoen as wat van hulle verwag is, van die redakteur tot die ontwerper tot die produksiebestuurder.

Ek woon deesdae op Rooiels in Valsbaai, waar ek tuis voel. Ek slaap snags deur, die nagmerries het opgehou. Soggens stap ek flink saam met vriende deur die fynbos. Of ek geniet die natuur saam met Boetman, my hond. In hierdie moeilike tyd het ek die waarde van vriende en familie ervaar. Was hulle altyd so wonderlik? Het ek dit net nie raakgesien nie? Hoe kan ek hulle ooit vergoed? Daar is soveel liefde in die wêreld. ’n Mens moet toelaat dat jou vriende jou help, anderdag help jy húlle weer. Geloof is ’n persoonlike ding wat elkeen op sy of haar eie manier ervaar. Maar sonder geloof is jy ’n klinkende simbaal in Bybelse taal, of in moderne taal – ’n vullisdrom wat rondrol in die wind. Klaterend en leeg.

Daar is geen bitterheid nie, want bitterheid gee ‘n mens plooie

Vandag sê almal hulle het gewonder hoe ek ooit uit daardie diep gat sou kom, maar ek is daaruit. Die emosies wat ek ervaar het, woede, hartseer, angs, ontneming, mislukking, het verbygegaan. Daar is geen bitterheid nie, want bitterheid gee jou plooie. (Net so af en toe ’n boosaardige gedagtetjie.) Ek sweef ook nie altyd op ’n pienk wolk nie, dit sou onnatuurlik wees. Jy mag maar jou goed en sleg hê. Vir ’n goeie gemoedstoestand is dit vir my belangrik om fiks te wees, gesond te eet, hard te werk en goed te wees vir ander. En ek moet trots wees op dít wat ek doen. Noudat ek ophou huil het en so verstom is deur die goedheid waarmee ek omring word, word ek genooi om mense toe te spreek. ‘Praat oor jou boek,’ sê hulle, ‘en praat oor hoe ’n mens goed kan voel oor jouself ’. Dan doen ek dit. Om vreugde aan ander te bring is een van die grootste seëninge wat daar is.

Jy moet besef: Wanneer jy skei, ly jy eintlik aan post-traumatiese stres. Maar daar is eenvoudige dinge wat werk: As jy bedruk voel, stel elke dag vir jouself ’n doelwit. Begin met maklik bereikbare dinge. Maak jou bed op. Hou jou lessenaar skoon. Stap om die blok. Slaap goed. Môre voel jy ’n bietjie beter. Volgende week nóg beter. Dink net hoeveel beter dit oor ’n jaar met jou sal gaan. En kuier saam met dierbares oor ’n lekker bord kos. Nooi hulle. Kook iets besonders wat nie baie geld kos nie. Bredie op stampmielies. Soet patats. Bolandse kerrie. Gesels en geniet die Afrikaanse koskultuur. Proe die kos, eet die bene af, suig die murg uit. Jy eet tog nie net vir energie nie, maar ook agter die lekker aan . . . en daar is nog báie lekker in die lewe.

* Agter die lekker aan (R250) word deur Dine van Zyl uitgegee. Bestel by On the Dot by 0861 668 368 of orders@onthedot.co.za of bel Dine by 072 183 0815.