mathys_12_copy_1_
Eie stories

Uit Kanada … vol verlange na SA

Ag, met die Olimpiese Spele wat die afgelope twee weke aan die gang was, was ek telkemale so hartseer wanneer ek die Kanadese volkslied gehoor het. Dit is so mooi, en hierdie Kanadese het soveel volkstrots in hulle. En gee hulle die eer wat hulle toekom – hulle kan trots wees op hierdie land! Dis ’n land vol belofte, vol nasie-trots, vol potensiaal. Hulle sing van God keep our land, hulle sing van glowing hearts, hulle sing van glorious and free, en almal sing uit volle bors. Klein-klein mondjies is sommer in so ’n ronde tuit getrek daar waar hy of sy op pa se skouers sit. Maar sing, die sing hulle!

En toe wil ek nie hier wees nie, ek wil ook trots wees op my mooi land, Suid-Afrika. Ek wil my volkslied sing met trane wat oor my wange loop van trots op my land.

SA is dikwels die swartskaap in die buiteland, maar ek maak my kinders groot met ’n liefde vir hul mooi vaderland. Nkosi Sikelel’ iAfrika is die nuwe volkslied, én mooi, maar as ek aan Die Stem dink, kry ek heimwee oor die mooi dae wat was. “Ons vir jou, Suid-Afrika”, was en is steeds “Ons vir jou, Suid-Afrika”, die mooi land wat aan ons almal behoort. 

Ons het nege jaar gelede Kanada toe gekom om vir ons kinders die avontuur van ’n leeftyd te gee, en dinge het toe maar so uitgewerk dat ons gebly het. Ons het nie weens die politieke situasie in ons land verhuis nie. Ons word dikwels gekritiseer deur mense by die “huis” (want huis is wat SA altyd sal wees) omdat ons besluit het om in Kanada te bly.

My kinders word groot soos wat ons grootgeword het, sonder veiligheidshekke, sonder diefwering, sonder slotte, sonder om vir ons lewens te vrees. Ons gaan in Suid-Afrika kuier sonder om ons deure hier te sluit!

Maar ek verlang na my land. Ek verlang daarna om op Blouberg se strand te sit en ’n bottel wyn saam met my man te drink en te kyk hoe die kinders in die water baljaar.  Ek verlang na Tafelberg, om kreefstertjies wat oor die kole gebraai is, te eet dat die botter tussen my vingers deurloop, om die Vrystaatse vlaktes te sien, om die Vrystaatse winters te ruik, die gras onder my skoene te hoor knars, om op die strand te sit en na die branders te kyk wat breek, om weer ’n naweek die kinders by my sus af te laai, en bietjie weg te breek Velddrif toe … net ek en my man. Ek verlang om Langebaan weer te sien, en Paternoster se winkel wat “oep vi’ koep” is.

My twee kleiner kinders verlang daarna om by Ouma en Oupa te kuier – my meisiekind wil saam met Ouma koekies bak, en my seunskind wil saam met Oupa visvang. My twee ouers seuns wil tog net weer Ouma se kombuis ruik. Ek wil my pa op ’n Sondagmiddag in sy skommelstoel sien dut. Ek wil my ma sien brei en sommer net rustig saam met haar in die winterson se lekker warmte sit. Ek verlang daarna om in my eie taal te aanbid, om Nagmaal te gebruik soos wat ek gewoond is. Om op Doopsondag in die kerk te wees, om die gewyde stilte van ons kerk te voel en weer te beleef.

Ons huistaal is steeds Afrikaans. Mens besef nie hoe mooi ons taal is nie … totdat jy in die vreemde beland en jou taal omtrent afsterf. Al vier ons kinders is volkome tweetalig, al praat hulle Afrikaans met ’n effense aksent.

Ons eet nog skaapvleis wat nie algemeen te kry is soos by die huis nie, pampoenkoekies, melktert, Jan Ellis-poeding met vla, kerrie en rys, en ons luister RSG op die internet wanneer ons die kans kry.

Wanneer ons Edmonton toe gaan, is ons almal omtrent losgelaat as ons by die import-winkeltjie kom – alles eg-Suid-Afrikaans! Van Mrs Ball’s tot ’n SARIE wat 6 maande oud is. Maar dié SARIE is vir ons splinternuut, met heerlike leesgenot. Ek koester my SARIE en lees dit stukkie vir stukkie. Elke advertensie word gelees!

So, die verlange is groot. Die herinneringe is al wat ek het, maar ek glo ons sal eendag teruggaan huis toe.

Marlene Steenkamp, Saskatchewan, Kanada

  • Henk

    Dit klink baie mooi en interessant in kanada. Ek kom inloer vir n jaar of twee. Afrikaans bly my taal. Sterkte Marlene en kinders