sr1011janiecover5rz
Eie stories

Eksklusiewe uittreksel uit Janie se boek: “Die begin en einde van ‘n sprokie”

David [Strauss, wat Janie en Massimo destyds aan mekaar voorgestel het] onthou uit hul studentedae: “Janie kon liasseer soos g’n ander mens nie. Presies. Netjies.”Tydens haar huwelik is haar liasseervermoë tot die uiterste getoets met die groot aantal wonings, besittings en reise waarvan voortdurend rekord gehou moes word.

Benewens die huis in Verona [in Italië], ‘n huis in Vilamoura in die Algarve en die plaas [albei in Portugal], was daar ook ’n suite in Milaan [Italië], wat Massimo met vriende gedeel het, ’n suite in ’n hotel in Lissabon en ’n dakwoonstel in Oporto [albei in Portugal]. In die hawe was ’n groot seiljag vasgemeer, daar was ’n vliegtuig en ’n vloot motors, wat deur die jare onder meer drie Maserati’s, ’n Rolls-Royce, ’n Porsche, Jaguar en Ferrari ingesluit het. Danksy Massimo en Janie se fanatiese liefde vir motorfietse was Harley-Davidsons en Kawasaki-motorfietse, asook bergfietse en oefenfietse altyd byderhand.

Dis heerlik om mevrou Beltrami te wees, bieg Janie teenoor David. “Ons ry na sulke interessante plekke. Sien so baie. Ervaar so baie.”

***

[Ná haar eerste skok oor Massimo per geleentheid kokaïen gesnuif het, het Janie aanvaar dis ’n manier om sy teruggetrokkenheid te besweer. Mettertyd het dit ’n ernstige probleem geword.]

Toe hy weer op ’n keer vir ’n paar dae van die huis verdwyn het, het sy die kinders by die huispersoneel gelos met die verskoning dat sy iewers moes gaan sake doen. Sy het ses dae
lank na hom gesoek, tot sy sy Rolls-Royce in ’n nou straatjie in Lissabon gevind het. Instinktief het sy geweet dat hy saam met die kokaïen ook ander vroue vir seksuele gebruik gevind het.

“My eerste gedagte was: Ek sou liewers alles van hom wou weet as om daar buite daarvan te hoor. Ek was so bang om weer deur daardie hel te gaan om hom te moet gaan soek.”

Sy het sy kokaïengebruik goed begin bestudeer. En besluit om ’n “beleid” saam met hom in te stel. Dit sou die vrede bewaar in hul huwelik, het sy haarself oortuig. Sy moes ook ten alle koste verhoed dat die twee seuns agterkom daar is spanning.

Sy het geweet wanneer “die week van kokaïen” sou aanbreek. Hy kon weke lank taamlik normaal wees, maar dan het die drang hom beetgepak om hom in ’n orgie van gebruik
te laat verval. Sy het ook geweet dat hy ’n lae libido het, en dat die dwelm hom oor seks laat fantaseer het en hy pragtige en ook perverse beelde kon optower en só sy lae seksdrang kon
verhoog. Sy het besef dit was wanneer sy nie wou “saamspeel” nie dat hy in sy kar geklim en weggery het, om eers dae later weer te verskyn asof niks intussen gebeur het nie.

Eenkeer was hy weer dae lank weg. Toe hy terugkom, was sy en die kinders in die tuin besig om onkruid uit te haal. Hy het net gesê: “You’re a good wife. I love you.” Toe het sy besef
dat sy met hom moes onderhandel.

“Toe maak ek ’n deal met hom dat hy sy hobby, soos hy dit genoem het, elke drie maande kon doen, op voorwaarde dat hy by die huis bly en nie in die strate en nagklubs na geselskap gaan soek nie. Ek sou deelneem aan sy fantasieë, waaroor ons voor die tyd sou onderhandel. Soms was dit perverse fantasieë wat hy opgebou het; soms was dit toneelstukke wat hy uitgedink het wat ons sou moes opvoer.”

Sy het ingestem om dan saam met hom kokaïen te gebruik. Danksy haar sportprogram was sy superfiks, en sy het geglo dat die gebruik te min sou wees om ’n gevaarlike uitwerking te hê.

Dit was ’n soort hel en opoffering tegelyk. Dis dan dat ek gedink het hy ken nie die Janie Ki Panie van my regte lewe nie.Die ene wat onskuldige pret gehad het, wat baie gelag het. Ek was soms só gewalg deur hierdie hobby-tye, en dan weer het ek ’n soort paniese vrees ervaar dat ons gesin dit nie sou oorleef nie. Ek het amper soos ’n verslaafde aanmekaar vir myself gesê dinge is nie so erg dat dit nie kan regkom nie. Oor ’n paar maande sal ons al die stukke weer bymekaarkry.”

Ten alle koste wou sy die seuns veilig en rustig hou. Wanneer die hobby-episodes sou plaasvind, is Misha en Benito deur Carlos (die hoofbediende) of een van die ander personeellede weggeneem op lekker uitstappies. “Misha het een middag kwaad kom sê: ‘Ek wil nie ‘n pappa hê wat heeldag slaap nie.‘”

Massimo se eise het soms so pervers geraak dat sy saam met hom in groepe kokaïen moes snuif. Hy sou in die woonstel in Milaan vriende nooi en dan moes Janie in uitlokkende onderklere paradeer.

“Dan het hy my sy hoer genoem, en hy wou hê dat ek sy gaste seksueel moes bevredig. Die enigste troos ná so ‘n episode was dat ek gou weer in Portugal kon kom, waar ek verwoed geoefen het om die aakligheid uit my kop te kry.”

 

Ek het gevoel my hart wil breek. Die kinders was ontroosbaar. - Janie

 

Die dwelmgebruik was nog in Albegareia-a-Velha [ook in Portugal] nie so erg dat daar nie lang en vrolike tye was nie. Dan is daar weer visgevang, of met sportmotors gery om nuwe plekke te verken. Selfs in die twee jaar saam in Vilamoura was die voorkoms van “hobby-tyd” soms nie so erg nie.

Die seuns het hul ouers se plesier aan sport en motorritte baie geniet. Misha, meer ekstrovert as die stille Benito, het pa-en-seun-speletjies geniet. Janie het met groeiende angs probeer om nie so gespanne te raak oor die seuns se moontlike waarneming van hul pa se soms vreemde gedrag nie.
“Ek het begin om my ouers en broer-hulle oor die situasie in te lig. Dan weer sou ek laat weet dat dinge beter gaan. Dit het so ‘n regte aan-en-af-situasie geword.”

Tuis het die spanning vir haar ouers erg geword. Dan sou hulle weer verlig voel as Janie suggereer dat daar dalk vordering kom. Haar briewe sou dikwels met ‘n nuwe grappie eindig.
Hoewel Janie gevoel het sy het genoeg beheer wanneer Massimo sy hobby uitleef, was sy wel in ‘n situasie waar sy haar eie waagmoed teen sy onbeheerbare optrede moes stel.
‘n Jong man het by hulle gekuier toe ‘n dwelmaangedrewe Massimo sinspeel dat die gas Janie moes verlei tot seks. Sy en die kuiergas het verbaas na hom gekyk en geweier. Massimo
het skielik ‘n pistool uitgepluk en gedreig om hulle al twee te skiet as hulle nie sou doen soos hy beveel nie.

“Ek weet nie waar ek die krag gekry het nie,maar ek het stip na hom gekyk, asof ek hom wou hipnotiseer. Hy het die pistool op my gerig gehou. Ek het begin om na hom te loop. ‘n Tree van hom af het hy skielik, asof hy uit sy waansin wakker word, die pistool laat sak. Sy verwarring was amper jammerlik,” onthou sy.

***
[Uiteindelik moes Janie aan haarself erken dat Massimo se verslawing die oorhand gekry het. Sy het besluit sy en die kinders moet vir 'n ruk SA toe gaan. Die aand voor hul vertrek het sy hul vliegkaartjies in Massimo se studeerkamer neergesit en vir hom gesê as hy bereid is om na 'n rehabilitasiekliniek te gaan sal hulle by hom bly.]

 

Ek het hom so jammer gekry. Hy het so alleen gelyk toe hy amper weerloos vir ons waai – Janie

 

Vroeg die volgende oggend het sy gesien dat die drie vliegkaartjies steeds op die tafel lê. Sy het die tasse wat sy gepak het na die Rolls-Royce gesleep en ingelaai. Toe het sy gaan bad en die kinders reggemaak vir die vlug. Sy het die honde en die personeel gaan groet met ‘n kalm, onwerklike leegheid in haar. Oplaas het sy Massimo gaan wakker maak. Hy was so stil in die motor dat sy opnuut bang begin voel het. Wat gaan nou gebeur? het sy beangs gewonder. Sal dinge ooit kan regkom?

Toe Massimo hulle soen by die lughawe se sekuriteitsdeure, het hy sy kop bedroef geskud, en in trane het hy hulle skielik styf vasgehou.

“Ek het hom so jammer gekry. Hy het so alleen gelyk toe hy amper weerloos vir ons waai,” onthou Janie. “So eensaam en gebroke het hy gelyk. Ek het gevoel my hart wil breek. Die kinders was ontroosbaar.”

Die vliegtuig het opgestyg, en deur die venster het Janie gesien hulle vlieg oor die marina van Vilamoura, en die see en strand waar sy altyd fietsgery het, en toe vlieg hulle ook oor haar huis. “Ek het die honde in die tuin gesien, en ek het eintlik op daardie oomblik geweet dat ek nie sal terugkom nie.”

  • noutoenou

    Ek is teen hierdie tyd tog s-o-o-o moeg om kort-kort van Janie se manewales en eskapades te hoor. Dan is dit wonderbaarlike inligting en ewe skielik ewe droefgeestig oor wat ook al. Kort-kort ‘n nuwe liefde in SA (onthou die vorige boer?). O ja, en kyk tog na elke keer wat sy verwys na iemand wat "kwaad" vir haar was op gegewe oomblikke: die seuns, Massimo, die pous…

    Ek het voorheen gesê: Jou ontblotings noudat jou eksman oorlede is, getuig van swak smaak en ‘n gebrek aan breeding (kan nie afrikaanse woord onthou nie).

  • Willem Ferreira

    Daar kom storms in elke mens se lewe. Die vraag is wie ken jy in so stormagtige tyd. Wat was jou opvoeding het jy ‘n anker. Baie ryk mense het al die geld in die wereld maar kan nie vrede of geluk daarmee koop nie.Die rykdom word vervelig en die drang na vrede en geluk oorweldig jou. Dit is so jammer dat Massimo Beltrami nie Hom geken het wat die VREDE vir alle mense aanbied nie.Dit is jammer dat Janie du Plessis deur hierdie lewens storm moes gaan maar ek glo die storm het verby gegaan en dat sy vandag weet die anker van haar lewe is by Hom te vind.Sou daar weer ‘n storm kom sy veilig geanker sal bly in Hom wat haar sal bewaar met haar kinders.

  • Madelein Slabbert

    Ek kan net dink watter opoffering Janie in haar huwelik moes maak. Dit laat ons alledaagse probleme so klein lyk. Die waarheid kom altyd uit en dit wat in die donker is sal altyd na die lig toe kom, maak nie saak hoe lank dit vat nie. Ek voel net jammer vir Massimo dat hy so moes doodgaan en die engelse spreekwoord van "if u live by the sword, you’ll die by the sword’ is sooooo van toepassing. En ek glo al het hy al die rykdom in die wereld gehad, hy eintlik sy kosbaarste skatte verloor het. Ongelukkig het hy dit te laat besef, maar wie is ons om te oordeel. Ek is so bly dat Janie nou op ‘n goeie plek in haar lewe is en ek gun vir haar en haar twee seuns al diegeluk in die wereld. Madelein Slabbert, Klerksdorp

  • Belinda Schafer

    Party mense (soos ekke ook) het die adrenaline-highs in die lewe nodig,
    en wanneer jy n maatjie (man)ontmoet wat soos jy is, is dit A FORCE TO BE
    RECKONED WITH. Ek kan identifiseer met Janie se storie,want ek het iets
    soortgelyks beleef. Janie kan nie help sy is mooi nie. En ons kan sien
    sy is n gewone mens wat die beste probeer doen met haar God-gegewe talente.
    Ons almal maak foute. Ongelukkig is daar altyd vrouens met n swak self-beeld wat jaloers is op ander. Daar is eintlik geen ander rede dat sekere
    vrouens so uitvaar teen Janie nie.Ons normale mense besef Janie is nie perfek nie en elke mens doen maar net hul bes, want dit is al wat hul weet. Ons bewonder haar dat sy altyd weer opstaan en aangaan: SY IS BESLIS NIE VERVELIG OF VAAL NIE.En sy het GUTS en n RUGRAAT VAN STAAL.
    EK BEWONDER JOU JANIE,WANT JY BESEF MENS HET EEN KANS IN DIE LEWE EN JY
    LEEF VOLUIT – Die raasbekke en lee blikke sal altyd daar wees om te kritiseer. Hulle het nie n lewe nie en wens hul het jou guts gehad.