phyllis_214_
Eie stories

Toe vang ek 13 Aussie-spinnekoppe soos ’n “pro”!

My 3 tienerseuns dans om my en sing “my mommy is so brave, my mommy is so brave”. En “mommy” voel nogal trots op haarself! Want sy het ’n gróót spinnekop (so 10 cm van een poot na die ander) in die huis gevang … én lewendig by die huis uitgedra om in die veld te gaan uitgooi. Min het “mommy” geweet dis die eerste van 13 spinnekoppe die volgende drie dae!

Ons het ons eerste groot veldbrand in Australië oorleef – ons en 13 huntsman-spinnekoppe.

Ons woon op ’n erf sowat 30 km noord van Perth se middestad. Met die bloekombome se olies en droë gras (geen reën in die somer in Wes-Australië) en hoë temperature (40+ grade C) kos dit nie baie vir ’n vuur om te begin nie. Maar kos dit baie om die brand weer te blus!

So beleef ons toe ons eerste veldbrand baie naby die huis. En het ons baie geleer van die Australiese bos, Australiese mense en ons eie vrese.

Terwyl die brand volhoog was, en dik swart rook soos paddastoele opgestoot het oor die horison, het 3 helikopters en 3 vastevlerk-vliegtuie water op die vlamme gegooi. Ek het my hoed afgehaal vir hul dapperheid om in daardie digte rook in te vlieg, vir ure aanmekaar in daardie hitte! En dan nog genoeg oemf oorgehad het om water so te tjierts op ons seuns se koppe waar ons buite langs die huis gestaan en wonder het of ons moet hardloop. Die seuns het lanklaas soveel opwinding gehad. Met helikopters was so laag oor die huis vlieg was dit kameras en facebook en ’n ge-twittery. Die vriende hat almal minuut vir minuut opdaterings gekry! En ek? Ek het meubels van die venters af weggestoot.

Ons bure was net so blasé. Aan die een kant het buurman en buurvrou met koppies koffie in die hand gestaan en lapa-dak natmaak. “Nah – she’ll be right mate” was hul kommentaar op my vraag of hulle gaan oppak en ry. En ek? Ek het die versekeringspapiere en foto’s bymekaar gemaak.  

Die bure aan die anderkant het woonwa gepak met foto’s, rekenaars, klere en kos … net vir ingeval. Hul huis het 8 jaar gelede byna afgebrand, en hulle toon darem ’n bietjie meer emosie. En ek? Ek het buite die plante met die tuinslang natgemaak.

Die spinnekoppe het egter duidelik ook soos ek die erns van die situasie verstaan, want hulle het soos een man hul wegkruipplekke verlaat en reguit huis toe gehol!

En laat ek jou vertel. ’n Huntsman-spinnekop kan lekker hol as hy die dag skrik. Nou wil ek weet: Hoe het die spinnekoppe geweet die vlamme is op pad? Daar was nie rook oor die huis nie. Daar was net die gedruis van die waterbommers. En hoe het die spinnekoppe geweet die beste kans op oorlewing is in die huis?

Dis toe dat ek in ’n spinnekopvanger van formaat ontaard. Sou ek dit darem geniet het om op destyds se radioprogram te kon verskyn waar mense moes raai wat jou beroep is …  ‘Werk u binnenshuis?’ ‘Ja – meer bepaald in die aande wanneer ek op die toilet sit en ‘n spinnekop teen die muur sien hardloop”. “Werk u met u hande?”. “Nee – met ‘n glas wyn, ‘n besem en wasgoedmandjie”. Want dit is toe my wapens van keuse toe ek die eerste spinnekop moes vang.

Die glas wyn het die nodige bravade gegee. Met die besemstok vee ek die spinnekop in die mandjie terwyl die 3 seuns om my trippel en raad gee. My man het natuurlik net aanmekaar gelag. Verbeel jou! Ná die eerste spinnekop was dit die “victory dance” en “my mommy is so brave” wat my toe baie sterk en slim laat voel het!  

Die tweede spinnekop was net so grillerig, maar is gevang en uitgegooi. Dié keer sonder manlief se gegiggel in die agtergrond. Met die derde een het die 3 raadgewers verdwyn. Met die vierde spinnekop (nog steeds dieselfde aand), en met die tweede glas wyn toe al agter die blad, raak die besem en wasgoedmandjie toe te veel werk.

Toe vang ek spinnekoppe soos ’n “pro”! Met ’n glas en karton. Glas oor die spinnekop, skuif karton ander in en dra die lot uit. Die vyfde een spring soos ’n sprinkaan. Toe skrik ek bietjie en spuit hom met Doom. En drink toe maar nog ’n glas wyn om die senuwees te kalmeer. By die sesde een het my gewete my ingehaal, toe vang ek maar weer spinnekop met die besem en mandjie.

En so het ek vir 3 dae aaneen spinnekoppe gevang. Nou is ek ’n “true Aussie”.  

Leonie Gouws, Perth