sr1012laastes_310w
Eie stories

‘n Verhaal vir die oujaar deur Ettie Buurman

“Die Bybel is ’n padkaart, nie ’n handboek nie,” refrain haar ma se preweling deur haar geheue. Selfs goeie mense sondig en maak foute. Ek het ook. Veral ék …”

Watse foute? wonder Simone terwyl sy stilhou om die nommers van die ry ou huise te soek. Die nommer 7 aan die hekpaal van die volgende huis se verf is afgeskilfer, skaars leesbaar.

Sy stoot die windskeef tuinhekkie oop en klim die stoeptrappies op na die voordeur. Sy is op pad na ’n mens wat sy nie ken nie, bloot omdat haar ma gesê het sy moet iets belangriks gaan haal by ’n vrou wat in die verlede vir haar kosbaar was.

Die deur gaan oop nog voor haar kneukels aan die outydse glaspaneel raak om te klop. Die vrou wat skielik voor haar staan, is ’n vreemde mens met ’n benerige gesig, ’n bont serp om haar kop geknoop, groot oorbelle en ’n sigaret tussen haar nikotienvingers.

“Simone?” kraak haar stem.

Simone knik.

Die oë kyk soekend na haar: “Jy het gekom om te sê Ramona is dood.”Dis meer ’n stelling as ’n vraag.

Simone knik.

“’n Week gelede.My pa al lankal. Jy en my ma – was julle vriendinne?”

“Beste-beste, totdat die Italianer haar omgepraat het om in Milaan te gaan sing. ’n Stem soos ’n nagtegaal, het hy geglo. Dis waar sy later jou pa ontmoet het. Hy was ryk, en dit was toe nie meer nodig dat sy sing nie.”

Simone lyk verward.

“Gesíng? In Miláán? Ek dag sy het kuns studeer in Parys?”

“Eers, ja. Ons het saam geswot. Totdat ek agtergekom het ek het nie talent nie en huis toe gekom het. Bietjie op straathoeke en vlooimarkte van my prentjies verkoop … Ek en Ramona het kontak verloor – todat sy ’n jaar gelede geskryf het om te sê sy is siek.” Sy draai haar kop skeef, asof dit haar sig sal verbeter. “Jy lyk half na haar.”

Sy is ’n aangenome kind. Hoe kan sy na haar ma lyk? Seker maar omdat sy ook blond is …

“My ma het gesê jy het iets vir my. Inligting. ’n Koevert of iets … Daar was ’n nota in haar Bybel op die bedkassie, met jou naam en adres daarop.”

“Die koevert, ja,” knik die vrou. “Ramona het gevra ek moet sê hoe jammer sy is oor dit wat in Parys gebeur het … Ek het die koevert gebêre toe sy laat weet het van die nierkwaal.”Die sigarethand beduie binnetoe. “Ek is Magdaleen Meyer. Kom in, ek maak tee.Maar die suiker is op.”

Simone loop agter die vrou aan, draai in by die sitkamer. Sy gaan sit versigtig op ’n gehawende rusbank met ’n

krulveer wat eenkant uitsteek, amper soos ’n Middeleeuse martelapparaat. Sy kyk na die beknopte vertrek. As nog iemand sou inkom, gaan die suurstof opraak. Sy vergelyk haar ouerhuis hiermee. Die lang gang en die formele sitkamer met die skilderye.Twee Pierneefs, ’n Maggie Laubser, ’n Boonzaier en ’n Constable waarvoor haar pa ’n fortuin betaal het. En die musiekkamer met die vleuelklavier. “Groot genoeg vir ’n volledige opvoering van Aïda en die hele trop olifante,” het haar ma altyd gespot.

Magdaleen kom in met twee onmaat-bekers tee. ’n Skrille kontras met die Wedgwood en porselein waaraan sy gewoond is.

“Noudat albei jou ouers dood is, gaan jy in daai kasteel

van ’n plek aanbly, so meisie-alleen?” wil Magdaleen weet.

“Ek gaan die huis verkoop en in ’n meenthuis bly. Ek is ’n rekenmeester en beheer my ouers se trustgeld.” Sy glimlag sinies. “’n Doodgewone, kleinerige meenthuis … Dalk ontmoet ek dan ’n man wat lief is vir mý eerder as my geld.” Sy skrik amper vir haar ongevraagde familiariteit.

Magdaleen vroetel nog ’n sigaret uit die gefrommelde pakkie.

“Ek sien jy kyk na die armoede hier om jou – vergelyk dit seker met jou ma se baie geld. Sy het aangebied om te help, maar my Vincent was te trots, selfs toe hy sy werk verloor het. Nou is hy weg … Die artritis vreet my op en my longe is gaar … Ek moet kort-kort gaan lê.”

Simone antwoord nie. Vir ’n wilde, onmoontlike oomblik wonder sy of hierdie vrou dalk haar biologiese ma is. Is dít die inligting wat die koevert bevat? Die rede waarom sy hierheen moes kom?

“Jy het nie geweet ek en sy was saam by die Sorbonne nie?” sê-vra Magdaleen.

Simone skud haar kop. “Sy het soms oor Parys gepraat. Maar min, asof dit ’n tyd in haar lewe was wat sy wou vergeet. Was dit voor sy Italië toe is?”

“Ja. Die sang, die opera, La Scala en Milaan was later. Ramona het die stem van ’n engel gehad. Maar in Parys het sy net in bistro’s gesing wanneer ons platsak was. Wanneer ons lus was vir feta-kaas en olywe …”Magdaleen se skor stem is vol nostalgie. “Toe ons kamma hippie-kunstenaars was, geglo het ons gaan eendag beroemd wees.”

Simone teug aan die louwarm tee.

“In ’n laai het ek eenkeer sketse van Notre Dame en die brûe oor die Seine gesien wat sy gemaak het, maar toe ek daarna uitvra, het my ma dit weggelag en die laai toegestoot. Sy was ’n introvert, wat nie oor haarself of haar verlede wou praat nie. ’n Bietjie oor Parys, maar nooit oor

Milaan nie.”

Magdaleen weet waarom. Omdat sy skuldig gestaan het, ’n sangloopbaan bo haar ongebore baba gekies het …

“Het jy geweet jy’s ’n aangenome kind?” vra sy.

“Ja. My ma kon nie kinders hê nie.”

“Het jy ooit gewonder oor jou biologiese ouers?”

“Dikwels, omdat ek eensaam was, sonder broers of susters. Alleen, sonder familie …”

“Poor little rich girl,” voeg Magdaleen by. “Ramona was ’n goeie mens. Maar in Parys – die laaste klompie maande – het sy verander. In haar dop gekruip. Stiller geword. Die introvert geword wat jy geken het … Op ’n dag is sy uit die bloute skielik terug Pretoria toe om jou siek ouma te gaan versorg. Sy was ’n klompie maande weg en met haar terugkoms het sy net gesê jou ouma is dood.”

Magdaleen hoes eers weer kortasem. “Ek het vermoed dit het te doen gehad met ’n man … die een by die Sorbonne. So ’n Blink Stefaans, Jean-Pierre …”

Simone frons.“My ouma leef nog. Sy bly in ’n aftreeoord in Kaapstad.”

Magdaleen sit haar beker stadig neer en kyk reguit na Simone. “Kind, dit het tyd geword dat jy die hele hartseer storie weet. Jy verjaar in November, nè?”

“Die dertigste.”

“Jou suster is ’n jaar ouer as jy. Sy is in Desember, op Kersdag, gebore.”

Simone se frons verdiep. “Ek het nie ’n suster nie.”

“Jy het. Sy is in Pretoria gebore. Ramona is nie destyds weg om jou ouma te versorg nie. Sy was swanger en het Suid-Afrika toe gevlug vir die bevalling. Glo ’n moeilike bevalling gewees, dié dat sy nie weer kinders kon hê nie. Blink Stefaans se baba gewees, het ek agterna gehoor. Hy was glo getroud, maar het darem vir haar vliegkaartjie, blyplek en die bevalling betaal. Die baba is afgeteken, die welsynmense het alles gereël. Sy het teruggekom Parys toe om te pak en is kort daarna weg Milaan toe.”

Simone se ore suis en haar gedagtes warrel. Iewers het sy ’n suster! ’n Halfsuster wat op Kersdag gebore is … Dis ’n laaste geskenk van haar ma. Haar ma wat gesê het goeie mense maak ook foute en die Bybel is net ’n padkaart …

Magdaleen sukkel in die gang af en kom terug met ’n lang bruin koevert. Sy hou dit vir Simone uit.

“Dis jou suster se geboortesertifikaat, die naam van jou ma en die pa van die kind verskyn daarop. Ramona was jonk en weerloos en het nie kans gesien om as enkelouer sonder ’n behoorlike inkomste ’n kind groot te maak nie. Die baba sou met haar studies ingemeng het. Met haar sangloopbaan … Dit was haar wens dat jy jou ousus moet opspoor. Leer haar ken en wees goed vir haar. Maak die onreg en foute van die verlede reg.”

Simone knik. Die koevert is ’n kosbaarheid wat sy met ’n amperse eerbied tussen haar vingers neem.

“Nou sal jy my moet verskoon. Ek het nie asem nie, moet gaan lê …”Magdaleen beduie Simone deur se kant toe. “Dankie dat jy gekom het. Dalk praat ons eendag weer …”

Buite bly Simone eers ’n paar oomblikke in haar motor sit, haar gedagtes soos ’n klipspringer op ’n rotswand. Die woord “geskenke” bly in haar oorvol gemoed vassteek. Die bruin koevert was ’n geskenk, so ook haar aanneemouers en haar Kersdag-suster. Sy gaan haar opspoor.

En uit die trustfonds ’n skenking maak aan Magdaleen Meyer om haar lewe te vergemaklik. Dis wat Ramona vir haar vriendin sou wou gehad het.

Simone glimlag. Verbeel sy haar, of hoor sy ’n engel sing?