mei06mystorie1a
Eie stories

Vir die kinders van Indië

As ’n klein Afrikaanssprekende meisietjie het Carmen Bredenkamp graag lakens om haar lyf gedrapeer sodat dit lyk soos eksotiese sari’s. Indies. Op 31 is sy ’n gekwalifiseerde tandarts, en sy en haar man, Alfred Birnur, ’n 38-jarige sendeling, woon in Nieu-Seeland, maar hulle is reeds die afgelope vier jaar sowat vier tot ses maande van die jaar besig met opheffingswerk in Indië. Die lig in baie arm gesinne en hul kinders se toekoms . . .

“Ek en Alfred het mekaar in Engeland ontmoet en ons het een aand begin gesels oor ons roeping in die lewe. Ons het ontdek dat ons albei graag weeskinders in Indië wil versorg! Hy het die grootste gedeelte van sy kinderjare in weeshuise deurgebring en dit was sy passie om ander mense se lewe in soortgelyke omstandighede te verbeter.“

Carmen was die middelkind in ’n “semi-tradisionele“ gesin in Pretoria. Haar pa is ’n tandarts en haar ma is sy regterhand, wat seker maak dat dinge vlot in sy praktyk. Haar ouers het hulle altyd aangemoedig om die beste uit die lewe te haal. Sy het geweet sy wou tandheelkunde studeer, maar ook iets in ’n Christelike bediening doen. “Toe moes ek wag vir die regte deure om oop te gaan. My ouers en vriende was baie ondersteunend oor my besluit, maar aanvanklik ook bekommerd oor my veiligheid. Gelukkig was ek nog net een keer siek in die vreemde en ek het eers huis toe gekom. Toe het ek só baie elektroliete verloor weens ’n maagaandoening dat ek in ’n rolstoel van die vliegtuig afgestoot moes word.“

Vandag is hul grootste projekte in Suid-Indië in die Karnataka-staat, Dharwar, waar hulle die Christelike organisasie Victory Life Trust geregistreer het. “Ons woon in Nieu-Seeland om geld te verdien vir ons projekte in Indië. Ons voel ook ons kan mense daar bewus maak van die omstandighede van die mense in Indië.“ Die projek wat Carmen die naaste aan die hart lê, is die sogenaamde home based sponsorship, laat weet sy per e-pos.

Hierdeur help hulle kinders met skoolgeld en -boeke, asook ander lewensmiddele. “Ons gee elke maand vir die ouers ’n bedrag geld wat hulle vir dié behoeftes moet aanwend, en hulle moet dan noukeurig boekhou en aan die einde van die maand vir ons wys. Ouers mag dit nie gebruik om byvoorbeeld sigarette of drank te koop nie. As ’n mens die kinders nie op dié manier help nie, word hulle dikwels uit hul ouerhuise verwyder en in weeshuise gesit.

“Ontsaglik baie kinders in Indië beland in kinderhuise omdat armoede ’n reuse-probleem is. Die bevolking is baie groot en bitter min mense kan vir hul gesinne sorg. Ouers sterf ook aan vigs en ander siektes wat nie behandel word nie.“ ’n Mens kan jou voorstel dat die gemiddelde kinderhuis nie ’n aangename prentjie is nie. Dis oorvol en hordes kinders slaap gewoonlik in een saal.Gewoonlik het hulle net een klein trommeltjie klere as hulle daar aankom “Niemand gee werklik om hoe hulle op skool vaar of emosioneel ontwikkel nie. Kinders word ook dikwels seksueel misbruik in kinderhuise. Dit veroorsaak dat baie van dié kinders dieselfde paadjies as húl ouers volg en weer eendag in disfunksionele gesinne beland, waar hulle ook nie liefde en sorg aan hul eie kinders kan gee nie.

Al ons werkers is mense wat God wil dien en ‘n verskil aan ander se lewe wil maak

“In die meeste kinderhuise word kinders van 16 – en as hulle baie gelukkig is, 18 – uitgeskop om vir hulself te sorg. Daar is eenvoudig nie genoeg plek vir almal nie,“ vertel Carmen. Hulle het om dié rede begin met die bou van “huislike kinderhuise“ – vir tussen 7 en 12 kinders per huis. “Vier jaar gelede het ons die eerste tweeverdiepinghuis, Naomi’s Home, gebou. Die grondvloer is ingerig vir meisies en die eerste verdieping is die kantoor vir die Victory Life Trust.”

Weduwees kyk hier soos ‘tannies’ of ‘oumas’ na die kinders. Só kry hulle liefde en word hulle gehelp om weer ’n doel in die lewe te hê. Daar is ook ’n getroude paartjie wat soos ’n pa en ma vir die kinders sorg. “In dié huise word als verskaf wat jy in normale huishoudings kry. Lekker kos, klere, opvoeding, veiligheid, regverdigheid, dissipline en ’n Christelike opvoeding. Daar slaap 4 kinders per kamer en dis ruim. Kinders het ingeboude kaste met gemaklike beddens. Die kinders beskou hul huisbewoners as hul familie. Hulle kan permanent hier bly tot hulle trou of gereed is om te werk of die nes te verlaat. Hulle word na Engelse skole gestuur sodat hulle enige plek sal kan werk wanneer hulle volwasse is.

“Alfred se broer, John, wat ’n straatkind in sy jeug was, is ook baie betrokke by ons projekte. Hy woon ook in Naomi’s Home en maak seker dat alles vlot verloop. Daar is boonop ’n
kok wat help met die kos en ’n tuinier wat ’n lieflike groentetuin geplant het en alles buite netjies hou. Al ons werkers is mense wat God wil dien en ’n verskil aan ander se lewe wil maak,“ sê Carmen.

In Mei verlede jaar is die tweede huis, Obed’s Home, waar 12 seuns woon, gebou Die twee huise is ’n paar minute se loop van mekaar. “Ons neem kinders van enigiets tussen 6 en 17 in, maar oorweeg net kinders met verwysings en doen baie navorsing om seker te maak dat ons die regte kinders in die huise kry. Dis baie belangrik dat die kinders in die huis sal inpas. Só beskerm ons die ‘gesinne’.

“Daar is ’n paneel wat hulle keur. Ek was aanvanklik op dié paneel, maar het besluit dis nie ’n goeie ding om al die tragiese stories aan te hoor nie, want ek het net gesit en huil en kon niemand wegwys nie. Dis baie moeilik om net sekere kinders te kies, maar jy kan nie anders nie. Omdat mense weet hoe goed die omstandighede in ons huise is, het ons tot al ouers gehad wat net hul kinders hier wil los, al is daar geen nood by hul eie huise nie.“

Die kinders wat hier beland, het meestal een ouer wat nie vir die kind kan sorg nie omdat die ander een byvoorbeeld sterwend is aan vigs of emosioneel onstabiel is. “Party van die kinders is seksueel misbruik in hul ouerhuise. Dan kom hulle na ons toe, totaal gebroke.

“Ons wy ons lewe aan hulle. Dis wonderlik om te sien hoe hulle begin om hul harte oop te maak en hul lewe te deel. Dis hul én ons genesing. Ons glo hulle gaan eendag weer iets in die lewe bereik en is ongelooflik lief vir hulle.“ Die kinders het self besluit om Carmen en Alfred mummy en daddy te noem. Hulle voel deel van die Birnur-gesin. Carmen en Alfred se eie seuntjie, Obed, is hul “boetie“.

Dis vir Carmen en Alfred belangrik om dié “aanneem-kinders“ te leer om dankbaar te wees teenoor God oor wat Hy vir hulle doen. “Ons leer hulle om mekaar en ander te respekteer. En ons leer hulle hoe om deel te wees van ’n gesin en die samelewing. Hulle help dus met alles in die huis. Kosmaak, skottelgoed was, skoonmaak.“ Die Birnurs belê baie van hul eie geld in die projekte, maar steun ook op mense wat gereeld geld skenk. So bring hulle elke keer wanneer hulle terugkeer na Indië klere saam wat hulle as skenkings gekry het.

Solank dit wat ons doen, ‘n geestelike erfenis op aarde nalaat

Hoe verander só ’n ondervinding jou lewe? Carmen kan nie uitgepraat raak daaroor nie. “My lewe het totaal verander. Ek het besef hoe dankbaar ons moet wees vir alles wat ons het. Ek lei ’n baie minder materialistiese lewe. Ek was ’n modeslaaf, ’n glamour girl, maar nou is ek tevrede met wat ek het en glad nie gepla oor image nie. Dis belangriker om te fokus op God en die liefde wat Hy deur ons vir ander wil gee. Solank dit wat ons doen, ’n geestelike erfenis op aarde nalaat. Hoewel ek nie Katoliek is nie, is Moeder Teresa my inspirasie. Sy het haarself totaal vir ander ‘geskenk’.

“As jy Kalkutta gesien het, sal jy verstaan wat sy werklik gedoen het. Dis te erg om daar asem te haal, want dis so vuil en stink, maar sy het haar lewe daar deurgebring om kinders van ashope af te red. Ek wil graag op daardie punt in my lewe kom waar ek so onbaatsugtig is dat ek régtig nie meer aan myself dink nie.“ In die toekoms beplan die Birnurs om permanent in Indië te woon en beradingsentrums te begin, asook ’n Christelike skool, rehabilitasiesentrums, tandheelkunde- en mediese sentrums, kerke, ’n internasonale bedieningskool . . .

“Ons het groot drome, maar ons glo met God se hulp sal ons al dié drome vervul. Ons besef dié visie is te groot vir my en Alfred alleen, maar ons weet dat ons kan hande vat met ander wat ons hart vir Indië deel.“ Dis duidelik dat Carmen op haar gelukkigste in Indië is. “Ek is ongelooflik lief vir die mense in Indië, en al is ek ’n Westerling is ek een van hulle. Ek is eintlik ’n wêreldburger en so bevoorreg om nóg ’n land te hê wat vir my ’n tuiste is en blootstelling aan ’n ander kultuur gee.“

Stadig maar seker leer sy ook die taal – Kannada – aan. “My lewe is beslis nie vervelig of konvensioneel nie.“