tineke_kriel
Eie stories

Vir wie maak ons ons mooi?

Ek dwaal gister alleen in Tygervallei-winkelsentrum rond, nogal “broke” vir so vroeg ná “pay day”, maar te verstane! Ek het onlangs in my eie plekkie getrek en ’n bed is nogal ’n belangrike en duur item vir my stywe begroting. Dít en ’n dak oor my kop was toe my groot prioriteite.

Maar is een van vroue se hoofprioriteite nie ook om mooi en aantreklik te lyk nie? Vir sommige dalk eerste op die lys? Hoeveel van ons sal eerder van brood en water leef as om sonder ons gunsteling-nagroom of maskara klaar te kom?

Die behoefte om mooi te lyk is nie net onder stadsvroue en modelle nie. Dis in elke uithoek van die land. Gesigmaskers word van heuning en pynappel gemaak, growwe suiker word gebruik vir afskilfering, en al die ou rate van oumagrootjies word getrou gevolg.

En intussen pas die mark by alles aan. Goedkoper skoonheidsprodukte word meer en meer gesien, maar vir sommige steeds te duur en vir my ’n onnodige uitgawe as jy dit dalk een keer ’n maand gebruik.

Ja, ek is een van dié groep. Ek pas so mooi in by die kategorie van vroue wat tussen al die weelde van gesigrome en naelverf sal ronddwaal en my in al die geure en mooi goed sal verdrink. Wat al die mooi woorde op die verpakking lees en myself kan indink hoe dit werk. 

Dis op hierdie dag, met geen ekstra geld om te bestee nie, dat ek na al die vroue rondom my begin kyk. Vroue wat met sterre in hul oë aan materiale vat, parfuums ruik en hulle in ’n ander wêreld bevind.

En ek wonder. Hoekom moet ons so baie geld bestee om mooi te lyk? Is dit miskien ’n drang wat kom van ’n lae selfbeeld? Of is dit al die advertensies van skoonheidsprodukte en perfekte modelle wat ons drang aanvuur en hoop gee? Help dit jou om jouself lief te kry en jou selfbeeld ’n hupstoot te gee?

Vir wie maak ons ons werklik mooi? Vir ander vroue wat jou op straat sal sien? Vir vriendinne om ons te bewonder?

Want kom nou. Geen man gaan na jou kyk en wonder watter pragtige haarkleur jy nóú weer het of wonder waar jy daardie mooi roosblaar-pienk naelverf kry nie! Ons doen dit vir mekaar, vir ons vriendinne se oe’s en aa’s.

So, volgende keer as jy met jou huurgeld of elektrisiteitgeld in die hand staan en daardie handsak graag wil koop, dink eers vir wie jy dit koop.

Terloops, ek wonder hoe lyk mans se lys van prioriteite!

Tineke Kriel, Bellville