Eie stories

Volg die sterre

 

Dit reën vyf dae lank sonder ophou. In die stormsterk wind stoei die katamaran soms woes met die ankertou. Voordat die tropiese storm losgebars het, het Ronel van Rooyen haar met die tweeromp-seilboot na die naaste eiland in die Las Perlas-eiland groep naby Panama gehaas. Nou wag sy en haar twee dogters dat die weer opklaar – veilig teen die aanslae van die natuur in hul knus boot. Die middag van die vyfde dag hou die reën op en sy besluit om anker te lig. Daar knaag ’n bietjie twyfel of sy die regte ding doen. Orkaan Ivan bult sy spiere oor die Karibiese See en Sentraal-Amerika en die weer is onvoorspelbaar – ook hier in Suid-Amerika. Maar hulle seil. Die nag sak toe en dis donker . . . donker. Die volmaan, háár maan, is agter ’n wolkbank verskans. Dan sien sy: Reg bokant die boot, in die rigting waarin hulle seil, het die wolke oopgemaak en ’n sterrepad strek voor hulle uit. Só was dit die res van die nag: Bewolk, met die sterrebaan soos ’n rigtingwyser bo die seilboot. Vir Ronel was dit ’n boodskap: Alles is wel en veilig. In die amper vier jaar dat die katamaran, Prrrfection, hul huis is, het hulle geleer om op méér te let as wat die oog kan sien. Jy leer tekens in die natuur “lees“. Jy leer na jou eie instinkte luister. Maar daar is ook Iets groters, onverklaarbaar, onsigbaar, maar dáár.

Moeg vir die lewe in die stad
“Ek was ’n jappie-stadsvrou van Gauteng toe ek en Deon, my oorlede man, die katamaran gekoop het. Ek het nie eers geweet dat die wind uit verskillende rigtings waai nie, dat die wolke kan aandui dat daar ’n front aan die kom is nie. Hoe alles begin het? Ons het moeg geraak vir die lewe in die stad. Die gejaag. Die misdaad. Deon, ’n sakeman, is ’n jaar tevore in die been geskiet en beroof. Ons wou nie op 60 aftree en dán eers die dinge doen waarvan ons gedroom het nie. Natuurlik was daar die afskeid van materiële dinge. Deon se sakeondernemings is verkoop, ons huise . . . Ek moes van my Land Rover ontslae raak, hy van sy minibussie. Dit was moeilik, dit was dinge wat vir ons kosbaar was. Deon het daarop aangedring dat ek die skipper-eksamen aflê, hoewel hy die kursus saam met my gedoen het. (Dit was ’n bestiering.) Daar was allerhande dinge wat ons moes leer – van hoe om seewater drinkbaar te maak tot hoe om siklone te vermy. Ek het navorsing gedoen oor ander mense se leefwyse op seiljagte – en was verstom oor hoeveel gesinne om die wêreld seil. Ek sou die kinders self moes onderrig en het op ’n Amerikaanse sillabus besluit. (Riaan, nou 18, het pas matriek voltooi – hy het die laaste twee jaar in Suid-Afrika skoolgegaan. Mariska is nou 11 en Rochelle 8.) “Ons hét soms getwyfel of ons die regte ding doen. As ons in Johannesburg was, het almal ons vertel ons is gek. Maar in Durban is ons weer aangemoedig – daar is dit almal se droom.

 

Jy gebruik al jou sintuie: Jy ruik en sien en hoor. Jy begin jou instinkte en die mense om jou s’n vertrou.

 

Bon voyage!
“Ons het op 5 Julie 2001 vertrek. Só opgewonde. Seiljagte volg gewoonlik die son in ’n breë band om die ewenaar. Die wind en seestrome is dan in dieselfde rigting. Dis nie net ’n kwessie van omdraai en huis toe gaan nie – jy seil dan teen die wind en dit kan die boot beskadig. Ons het egter besluit om eers in die Indiese Oseaan te seil – Madagaskar toe. Dis nie so ver nie! Madagaskar was ’n kultuurskok. Daar’s nie supermarkte nie, net klein winkeltjies. Jy moet meel koop om brood te bak, en lig jy die houer se deksel op, sien jy duisende krioelende swart goedjies. Jy koop dit maar en sif dit net behoorlik. Want jy wil brood hê! (Die boot het ‘n volledig toegeruste kombuis.) Mayotte, deel van die Comore-eilande, het ons bekoor. Ná vier maande op see was ons in ekstase toe ons in ’n supermark kom en roomys sien. Ons het dit die meeste gemis. Daar was motors, strate . . . ons het ons verkyk.

“Liefies, ons gaan aan”
“Op 11 Oktober (2001) het ek en Deon vroeg een oggend gaan draf. Deon het nog gesê: ‘My ding, ek voel so goed, ons moet dit elke dag doen.’ Ons was fiks, ons het elke jaar die Argus-fietstoer gery. Daar was huisies met sarong-behangsels voor. Van die plaaslike kinders het daaragter gestaan en vir ons geloer. “‘Bonjour, touriste!’ (Hallo, toeris). As ek antwoord ‘bonjour!’, het hulle giggelend die huis ingehardloop. Toe ek terugkyk, was Deon ver agter my. Hy het gesê hy voel sleg. Ek het in sy oë gekyk, die blou het snaaks gelyk. Deon is kort daarna in die plaaslike hospitaal aan ’n hartaanval dood. Dit was nie sy eerste een nie, het die dokter my ingelig. My groot, sterk man, my beste vriend, was dood. Later het ons op die boot gesit: geskok, verward, verslae. Die kinders het na my gekyk, gewag op antwoorde. ‘Wat nou, Mamma?’ Ek het geantwoord: ‘Liefies, ons gaan aan.’ Hoewel ek lus was om in die see te spring. Terug in Suid-Afrika was daar baie druk om die boot te verkoop. Maar ek het besef dat die lewe inderdaad baie kort is en die dood skielik kan kom. En dat jy alleen verantwoordelik is vir jou geluk. Deon het my ’n droom gegee. En ek gaan daardie droom najaag. Ek en die kinders gaan Karibiese Eilande toe!

“Natuurlik het ek getwyfel of ek dit op my eie kan doen. Deon het altyd die seile gespan, ek het die navigasie gedoen. Skielik het ek baie onbeholpe gevoel. Ná sy dood het ons van Mayotte na Richardsbaai geseil. Maar Riaan was aan boord en my broer, Johan, het uit Suid-Afrika gevlieg om ons by te staan. Die keerpunt was toe ek alleen van Richardsbaai na Durban geseil het. Met net ek en die twee meisiekinders aan boord en die wind ’n stormsterkte 42 knope. Dis verraderlike waters wat selfs gesoute seemanne net aandurf as die weer reg is. En dan met ekstra bemanning. Baie gesoute seemanne was verras. Ronel, die Vaalie-japie, het so wraggies alleen geseil!

Nuwe liefde
Ronel het nooit getwyfel dat die regte mense op die regte tyd haar pad sal kruis nie. In Simonstad het Riaan vriende gemaak met die bemanning van ’n ander boot, ook op pad na die Karibiese Eilande: Claude Hall en sy seun, Shayne. Maar op die laaste nippertjie kon die eienaar van die boot weens gesondheidsredes nie seil nie. Riaan het haar gesmeek om sy nuwe vriende aan boord te neem. Daar moes toe plek gemaak word vir twee groot kêrels: klere, branderplanke, visstokke, gereedskapkissies en al. Ronel se hart was nog baie rou oor Deon. Sy het nie gedink sy sou ooit weer vir iemand anders lief raak nie. Maar Claude, met sy blou oë en sondeurdrenkte, blonde kop, het mettertyd iets in haar hart wakker gemaak. Hy is ’n natuurmens met ’n ongelooflike aanvoeling vir die see. Hy het boonop haar droom gedeel: Om ’n kwaliteitlewe op see te vind. Ook hy het alles verkoop om sy droom uit te leef. Hulle is nou onafskeidbaar. “Jy verander op see. Dis nie meer net ek, ek, ek nie . . . As jy stilsit en luister, hóór jy dinge. Vóél jy dinge. Jou musiek is die stem van die see, die klank van dolfyne, die suis van die wind. Die natuur praat met jou – en jy het tyd om te luister. Jy moet die wind, die wolke, die seevoëls dophou.

 

 

Ek het myself begin ontleed – op ’n ontdekkingsreis in myself gegaan. En ek sê dankie vir die lewe wat ek nou het.

 

“Jy stel jou daarop in – móét jou daarop instel. Jy gebruik al jou sintuie: Jy ruik en sien en hoor. Jy begin jou instinkte en die mense om jou s’n vertrou. Jy seil 24 uur van die dag: Jy kan nie in die middel van die oseaan anker gooi nie. Ons maak snags beurte om wag te staan, om uit te kyk vir houtstompe, walvisse, skepe. Selfs die twee meisies bring hul kant. Dis soms só donker dat jy nie die voorkant van die boot kan sien nie. En daai boot vlieg oor die water, hoor! As daar ’n houtstomp of boot in sy pad kom, kom jy tweede. Eenkeer, toe Claude teruggekom het Suid-Afrika toe vir sake, het ek en die meisies besluit om van Panama na Costa Rica te seil. Dit was donkermaan, pikdonker. ’n Skool dolfyne het rondom die boot gespeel en ek het gekyk hoe hulle deur die fosfor-water klief. Toe verdwyn hulle. Ek het ’n beklemmende gevoel gekry. Solank die dolfyne daar is, wéét ek alles is reg. Hulle het my al meer as een keer gewaarsku daar’s fout . . .

“Ek het ’n skerp flitslig gaan haal en op die water geskyn. Daar was houtstompe, oral. Die res van die nag het Mariska met ’n swaar, groot lig ons pad vorentoe belig. As sy ’n houtstomp sien, het sy geskreeu en ek het die boot verby dit gestuur. Dit het gereën en ons was nat en koud.

“Daar is dinge wat groter as jy is”
“Ek het baie verander, vrede met Deon se dood gemaak. Ek het myself begin ontleed – op ’n ontdekkingsreis in myself gegaan. En ek sê dankie vir die lewe wat ek nou het. Om meer tyd saam met my kinders deur te bring, mekaar beter te leer ken. Jy bekommer jou nie oor gister en môre nie. Jy maak die beste van nóú. Op see word jy gedwing om amazing dinge te ervaar. Jy is verantwoordelik vir jou eie lewe en lot. Maar daar is dinge wat groter as jy is. Ek het my oopgemaak daarvoor, dit begin voel. Innerlike vrede kom vanself as jy na aan die natuur leef. Daar is meer in die lewe as die gejaag. Soveel mense is vasgevang in ’n betekenislose bestaan en sien nie meer die lig nie. Jy ry deur Johannesburg se strate en sien mense met hanggesigte. En wanneer kry jy tyd vir jouself, om na positiewe dinge te soek? Jy is so besig om alles in alleryl te doen.

Ons kan nie almal op ’n boot die see invaar nie. Maar begin by jouself. Luister na die stemmetjie binne jou. Leer wie jy is en wat vir jou belangrik is. Steur jou minder aan wat ander mense sê.

Die toekoms? Ons is in Panama, besig om die boot gereed te kry vir die lang tog wat voorlê. Ons gaan onder meer by die Galapagos-eilande, Tahiti, Tonga en Fidji in die Stille Oseaan aandoen op pad Nieu-Seeland en Australië toe. Die wind gaan ons uiteindelik teen die Afrika-kus vaswaai. Dan sal ons besluit: Links of regs? Die Rooisee? Of huis toe?“