sr1209_self_hoof
Eie stories

Leser vertel: “Ek het 73 kg verloor”

Ná 22 maande het sy in Junie verlede jaar haar doelgewig bereik. Sy het 73,3 kg verloor en slegs 63,5 kg geweeg. Sy is aangewys as Weigh-Less se Vroueverslanker van die Jaar en het sedertdien ’n pos as distriksbestuurder by dié organisasie aanvaar. Sy het intussen nog 3 kg verloor.

Vandag lei sy ’n vol lewe saam met haar man, Bill, ’n elektroniese ingenieur, en haar kinders, Caylee (25) en John-Ross (23).

Barbara Hynds 73,3 kg swaarder

(Foto: Barbara vóór sy 73,3 kg verloor het)

AAKLIGE GEHEIM

“My ma, Amber, ’n verpleegsuster, het altyd gesorg dat sy gesonde kos vir my en my ouboet, Chris, en my pa, Douglas, maak. Maar as tiener het ek vet geword omdat ek saam met my vriendinne begin peusel het aan gemorskos. Ek het kitsdiëte ontdek en my gewig was soos ’n klimtol.

Ek was nie oorgewig in matriek nie, maar tussen 17 en 22, toe ek getroud is, het ek die dieetsiekte bulimie ontwikkel. Dit was ’n aaklige geheim waarmee ek geworstel het.”

BOSE KRINGLOOP

“Ná my kinders se geboorte was bulimie steeds my manier om my gewig te beheer. Teen 29 het ek myself uiteindelik toegelaat om te eet wat ek wil. Geleidelik het ek tot 136 kg gestoel. ’n Mens maak grappies, maar binne-in huil jy. My verhouding met my man het verswak. Ek wou nie meer sosiaal wees nie, want ek was skaam. Ek kon nie meer mooi klere kry vir my logge lyf nie. Ek was gedurig moeg . . .”

OOMBLIK VAN WAARHEID

“Drie jaar gelede het ek besef my kinders gaan trou, ek gaan eendag ouma word. En ek wou gesond wees en daar wees vir hulle. Ek moes iets anders doen as tevore. Toe stap ek by Weigh-Less in en volg letterlik week ná week hul program.

“Ek kon nie bekostig om op lang termyn te dink aan al die gewig wat ek moes verloor nie. Dít sou te oorweldigend wees. Dit was soms baie moeilik, want in dieselfde tyd moes ons nog my man se afdanking hanteer. Die geldelike stres was groot!

“Maar danksy my gewigsverlies het ek bemagtig gevoel en ons verhouding het verbeter. Ek het weer begin glo in myself en begin stap. Eers net ’n paar honderd meter. Later 5 km op ’n slag.”

OM VREDE TE MAAK

“Soos ek sterker geword het, het ek my kos-kwessies leer beheer. Ek moes vir goed afskeid neem van die ‘ou’ mens wat weggekruip het agter die groot lyf. Ek moes vrede maak met skuldgevoelens. Dit was moeilik, maar ek het algaande meer selfvertroue gekry. Wanneer mense aanvanklik na my gekyk het, het ek gedink hulle kyk omdat ek vet is.

Nou besef ek hulle kyk dalk omdat ek ’n mooi trui dra. Dis wonderlik om die lewe weer te geniet.

“Ek kan nie bekostig om aan verkwiste tyd te dink nie. Ek sit die verlede agter my en sien uit na die toekoms. Ek geniet dit so om my ou self terug te hê. Nou weet ek ek is ’n gedissiplineerde mens. Ek het opnuut my energie herwin.”

WAT EK GELEER HET

  • As jy iets regtig wil doen, kan jy.
  • Niks is onmoontlik nie.
  • Die lewe is ’n geskenk.
  • Jy kan nie jou omgewing beheer nie, maar wel jou kos-inname.
  • Klim ’n groot berg tree vir tree uit.
  • Moet jouself nooit bejammer nie, begin net.

  • Dezre

    SO inspirerend!! Baie geluk! Ek weet HOE moeilik dit is om te begin, en AAN te HOU om reg te eet en so gewig te verloor.

  • Mara Swanepoel

    Knap gedaan jy is so ‘n rolmodel vir ander in dieselfde boot, ek het sedert Januarie 20 kilogram afgeskud, die winter my gewig konstant gehou en na die artikel sommer weer lus om die ander 10kg te verloor.

  • vicki

    Dis wonderlik, wens ek kon hulp en motivering kry.

  • Lara

    Sjoe dis wonderlik! Sy lyk pragtig nou – sommer jonk.

  • Helesti

    Jy lyk ongelooflik! Baie geluk en sterkte vir dit wat voorlê

  • Durette

    Baie baie geluk Barbara, jy lyk absoluut pragtig, al jou harde werk het geseevier.

  • Anoniem

    Sjoe, dit kon my storie gewees het! Ek het ook in my 20"s en 30’s my gewig met vinger-in-die-keel- druk beheer. Ek het op ‘n dag besef ek "kniel" letterlik voor die toilet as ek opgooi en toe opgehou. Die resultaat was dat my gewig binne ‘n aantal jare buite beheer was. Geen dieet kon blywende sukses verseker nie want ek het nooit my lewenswyse verander nie. Ek is steeds "morbidly obese" maar het ‘n week gelede ook by Weigh Less aangesluit, seker die 10e keer. Wat anders is hierdie keer is dat ek ook op troufoto’s moet verskyn en dat ek ook aan my toekomstige kleinkinders dink… en aan my man, ens. MAAR ek is dit aan myself verskuldig om vir altyd van hierdie vet las ontslae te raak. ek word nie jonger nie en besef die skade wat ek al oor die jare aan my liggaan aangerig het met kos. My hart en hoop is nou om kos te gebruik om my gesond te maak, dat ek my lewenswyse moet omkeer, dat ek my ware self kan ontdek. Ek het reeds sowat 3.5kg verloor, daar lê letterlik nog ‘n berg voor maar ek sal dit stappie vir stappie moet hanteer. Ek weet ek kan! BAIE GELUK BARBARA – JY IS ‘N WENNER!

  • Marichelle du Plessis

    Ek het meegevoel met Barbara! Well done girl! Ek weet presies waardeer sy moes gegaan het. Ek het in Maart maand hierdie jaar ingeklok op 101kg. Ek is maar net 37jaar oud en is 1.71m lank. Ek het al 32kg verloor! My wonderlike ma het my na ‘n dieetkundige toe gevat en my die hupstoot gegee wat ek nodig gehad het. Ek het meer energie, ek is weer lus vir die lewe, ek is nie meer bang vir ‘n klerewinkel nie…

    Ek glo nie enige iemand wil graag oorgewig wees nie. As jy nie self daar was nie, sal jy nie verstaan watse stryd jy stry elke dag nie! Dit is ‘n proses waardeer ‘n mens moet gaan. Die lekkerste is as jy ‘n "vet hopie" in die hoek van jou kamer het met al die "vet" klere wat nie meer pas nie en jy sien hoe daai hopie elke dag groter word! Daar is hoop vir enige iemand wat graag gewig wil verloor, dit is nooit te laat nie!!

  • Anoniem

    Trots op jou! Welgedaan! Ek is ‘n 48-jarige man en het hierdie maand 80kg verloor in agt maande se tyd, sonder enige diëte of planne. Net met die genade van die Here, en ‘n kopskuif, het ek dit reggekry! Ek moet nog sowat 40kg verloor, maar sien uit daarna.

    Die lekker ding is dat jy nou klere kan aantrek wat nie jou mense om jou te laat skaam voel nie!! WOW!

    En die kleinkinders wil nou by jou kom sit, hulle is nie meer bang dat jy hule ook gaan opvreet nie!!

  • Annelien

    Sjoe Barbara baie geluk! Ek begin nou my 3de maand by Weigh-Less, dit gaan stadig, het 5kg verloor en wou al tou opgooi, maar jy bewys net weereens aan my dat alles nie vinnig gebeur nie. Ek het nog baie kilo’s om af te skud en n lang pad le nog voor, maar verseker gaan ek vasbyt.

  • Kathy

    Uitstekende Getuigskrif van iemand wat Glo waar daar ‘n Wil is, is daar ‘n Weg!! Welgedaan Barbara.

  • Monica

    Baie geluk!! Dit kos baie wilskrag,jy lyk pragtig.

  • Moedelose Marie

    Baie geluk!!!

    Dit is ‘n leefstyl verandering van eet en aanpassing – as ‘n mens gewig wil verloor – doen jy dit vir jouself
    en ja ook vir jou man en kinders – kinders is skaam vir ‘n oorgewig mamma of pappa of boetie – al is julle hoe ‘n hegte gesin – moenie wonderwerke oombliklik verwag nie – spreek ‘n kundige en hou jou kop reg, bietjie oefeninge gaan baie help en soos jy skryf – kort stap word 5km en jou hart en gesig glimlag saam.

    Ek self sukkel nog met amper 30kg !! – stap is bietjie moeilik want ek het ‘n knievervanging gehad – maar net met minder eet verloor ek stadig maar seker.

    Moedeloos met myself het ek net een aand gevra – ek kan nie kniel om ons Vader te dank nie – hierdie lyf wat ek saam sleep en die probleem met klere koop – Here help my om myself te help!!!!

  • Anna-Marie Venter

    Dit is fantasties…. !!! My man het verlede jaar 42kg verloor. Sy finale besluit het ook gekom, nadat ons skoondogter swager geraak het, en hy besluit het, hy wil nie ‘n pasiewe oupa wees nie. Dit het ons hele lewe verander…. ons doen nou dinge wat ons nie eers gedoen het toe ons twintig was nie. Ons het saam hierdie jaar die Argus cycle race gery. ‘n Baie, baie groot oorwinning vir hom. Die fietry, hou hom nou gefokus, en sy gewig konstant. Die beste is, dat sy gesondheid so verbeter het. Geen hoe bloedruk meer nie. Babara jy is nou pragtig en ‘n groot inspirasie vir baie….!!!

  • Anoniem

    tannie baie geluk. Ek skryf nou anoniem en wil graag ook gewig verloor en ek is baie skaam oor my liggaam. Ek is ‘n matrikulant volgende jaar en dit pla my baie dat ek so oorgewig is. Ek is tans 17 en weeg amper 130kg. As seun is ek baie selfbewus oor my liggaam. as ons as vriende gaan swem dan kry ek skaam en kan nie gemaklik my hemp uittrek nie. Het enige iemand vir my raad wat ek kan doen , want ek het al verskeie diete probeer en dan verloor ek gewig maar ek tel dit weer op. ek het nie die finansies werklik om duurprodukte te koop nie. as enige iemand raad het asb. HELP HELP HELP!!!!!!!!!