sr1303_selfhoof_3_
Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Alice Vogt

Genetiese siekte

“Ek is gebore met die genetiese siekte sistiese fibrose. As kind was my lewe taamlik normaal, maar teen my vroeë twintigs het my longe só agteruitgegaan dat die kleinste takies my kortasem gelaat het. Ek was vasgevang in my huis, gekoppel 
aan ’n suurstofmasjien en ek het gedurig antibiotika binneaars gekry. ’n Dubbele longoorplanting was
die enigste uitweg.

“Vyf jaar gelede, toe ek 23
was, was ek agt maande lank op
die Suid-Afrikaanse Stigting vir Orgaanskenkings se waglys. Op
21 Januarie 2008 het ek gehoor twee longe is beskikbaar. Ek het besef
my lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie. Die oorplanting was ’n reuse-sukses. Ek was twee weke in die Netcare Milpark-Hospitaal in Johannesburg. Deesdae, en vir die res van my lewe, moet ek slegs ’n handjie vol pille twee maal per dag sluk. Die herstelproses was wonderlik en ek het nuwe respek vir my liggaam gekry.”

Wonder van die lewe

“Voor my operasie het ek sowat vyftig persent van elke dag bestee om slym uit my longe te kry. Ek moes soveel moontlik eet sodat ek nie
te veel gewig verloor as gevolg van longinfeksies of wanneer ek te veel energie verbrand as ek so baie hoes nie. My lewe het vroeër eintlik maar daaruit bestaan om longinfeksies
te beveg. Nóú staan ek soggens vol energie op, ek besoek die gimnasium en stap so ver soos wat ek wil.

“Ek het in 2009 in Australië en 2011 in Swede aan die Wêreldspele
vir mense wat orgaanoorplantings gehad het, deelgeneem. [Dit vind elke tweede jaar plaas.] In 2009 het ek ’n goue medalje vir muurbal en in 2011 ’n silwermedalje vir muurbal en goud vir die 3 km-stap gewen. Dis my manier om my longskenker se nagedagtenis te eer en my longe ten volle te benut.

“Deesdae lag ek ook so lekker uit my maag uit. Ek hoef my nie meer te bekommer dat dit in ’n hoesbui gaan ontaard en dat my longe aan die bloei kan gaan nie. Ek kan byna ‘vergeet’ ek haal asem, want dit gebeur so natuurlik. Vroeër, toe ek so gesukkel het om asem te haal, was dit byna al waaraan ek gedink het. Danksy die onselfsugtige besluit van ’n familie in rou, het ek ’n nuwe kans op lewe.”

Uitdagings

“Jy is maar altyd ’n bietjie bang dat jou liggaam die longe gaan verwerp, maar ek hoop en bid dit gebeur nie. Ek het geleer om God meer te vertrou dat dinge sal uitwerk soos dit moet.

“By die werk en gimnasium is siek mense se kieme ’n groot gevaar en irritasie. My immuunstelsel word onderdruk deur die medikasie wat ek gebruik, dus doen ek makliker siektes op en dis moeilik om weer daarvan ontslae te raak. Veral in die winter. Tot dusver was ek darem gelukkig en ek het nie meer verkoues as die gewone man op straat in die winter gehad nie. “Ek probeer sigaretrook ook soveel moontlik vermy.”

Wat ek geleer het

  • Moet nooit jou gesondheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Goeie gesondheid is ’n voorreg. Jy besef dit eers as jy dit nie meer het nie.
  • Ons kan ons pad probeer beplan, maar die Here bepaal hoe jy dit loop.
  • Ware vriende ondersteun jou deur dik en dun.
  • Jou familie is die kosbaarste ding wat jy op aarde het. Aanvaar verantwoordelikheid vir jou gesondheid.
  • Moedig jou familie en vriende aan om hul organe te skenk.
  • Navrae: Bel die Suid- Afrikaanse Stigting vir Orgaanskenking se tolvrye nommer by 0800 22 66 11 of besoek die webwerf by www.odf.org.za

Lees nóg inspirerende verhale hier: