Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Anita Labuschagne

Waar het alles begin?

Die kinders (Rosie, Suzie en my peetkind Mari) wou lekkergoed hê. Ek het outydse tameletjie gemaak en opgekikker met ander bestanddele. Die oorskiet is saam werk toe en kort voor lank het mense by my bestel. Ek het begin navorsing doen en gesien daar is ’n leemte in die mark
vir tuisgemaakte gourmet-karameltoffies. Ek was nie tevrede met die resep nie en het tonne suiker en flops weggegooi, ’n paar stopsels verloor en ekstra rolletjies om die heupe gekry. Totdat ek ’n resep gehad het wat ek as basis
kon gebruik. Ek het dit by die Lourensford- wynplaas op Somerset-Wes bekend gestel.
Dit was ’n treffer en alles het uitverkoop. Elke sent is teruggeploeg in die volgende mark en bestellings het ingestroom. Dit was in Augustus 2010 en die begin van groter dinge.

Wanneer raak dit toe heeltyds?

Ek het dit 18 maande lank met my dogters se hulp bedryf. Ek het ná werk toffies gekook en toegedraai. Eers was dit moeilik om met so min slaap klaar te kom en steeds 100% funksioneel te wees in my heeltydse werk – ’n bestuurspos in die IT-afdeling van ’n groot maatskappy. Maar ek het vinnig gewoond geraak daaraan.

Toe ek besef ek kan sonder my salaris oorleef, het ek bedank. Ek kon nie meer met dieselfde passie voortgaan in die korporatiewe wêreld nie. Dit was scary om die veiligheidsnet van ’n salaris onder my voete te voel uittrek ná 32 jaar, maar ek het nog nie ’n oomblik teruggekyk nie.

Wat is jou kos-agtergrond?

Geld “ek hou baie van eet” as agtergrond? Ek het ’n suikertand en het nog altyd lekker gekook. Die toffies was egter glad nie ’n langtermyndroom of -plan nie.
Ek het koste- en finansiële rekeningkunde

asook IT-stelselontleding geswot, maar dit was nooit my passie nie; mense is. Ek’t vir jare by maatskappye gewerk waar ek baie dae my base wou verwurg oor hulle my oorlaai het. Dit het egter ’n doel gehad: ek het alles geleer oor hoe om ’n klein onderneming te bedryf.

Hoe pas jou gesin in by jou onderneming?

Rosie en haar vriend, CR Reyneke, is albei opgeleide sjefs. Hulle kook toffies en is baie kreatief met ons besondere geure. Suzie is ’n meester met seepgladde bestellings en ander take. My man, Frans, is die planmaker wat ons pragtige vertoonkaste bou, asook enigiets wat ek uitdink! Ek het ook ander familielede en ’n fantastiese groep mense uit ons gemeenskap wat hier werk.

Hoekom is jou toffies so suksesvol?

Dis ’n tikkie bekostigbare luuksheid wat
jou toelaat om jouself te bederf, al gaan dit broekskeur. Elke bestelling is ewe belangrik. Ons het baie tyd en geld ingeploeg om by elke geleentheid pragtig en professioneel te lyk. As mense dan naderkom en proe, is hulle verslaaf.

Grootste struikelblok?

Tydsbestuur. Die dag het te min ure en die werk is te veel. Maar ek kan nie werklik kla nie. Ek hanteer elke probleem soos dit opduik en sorteer dit vinnig uit voor dit baard kry. As ek ’n probleem in ’n proses of ’n bottelnek sien, klim ek dadelik in en los dit op.

Wat ek geleer het

Begin klein en groei geleidelik. Vergeet van fênsie kantore, duur rekenaarstelsels … ek het die hele onderneming aanvanklik van ons huis bedryf. Ek kon baie lang ure werk met my mense rondom my.

Sit skouer aan die wiel en sorg dat jy elke aspek van jou onderneming 100% ken en verstaan en alles self kan doen.

Ek’t in die begin gesukkel om verskaffers te kry wat ’n klein maatskappy wil help. Vandag ondersteun ek die verskaffers wat my bygestaan het toe ek hulle nodig gehad het.

Respekteer jou mededinging. Wees bewus van hulle, maar fokus op jou eie groei.

Uitstekende diens en kommunikasie met jou klante is belangriker as enigiets anders. Dis die goedkoopste bemarking.

VIR MEER: www.sweettemptations.co.za; 083 445 4510

Lees nóg inspirerende verhale hier: