angela_larkan_13
Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Angela Larkan

Liefde. 
Dit is wat die Zoeloe-woord “thanda” beteken. Toe Angela Larkan
 vier jaar gelede ’n naam gesoek het vir haar organisasie wat weerlose kinders in die landelike gebiede van KwaZulu-Natal versorg, wou sy iets kies wat hul doelwit perfek beskryf.

As jong meisie het dit Angela se hart gebreek dat
daar kinders is wat in kartonbeddens op sypaadjies 
slaap terwyl sy elke aand in haar warm bed lê. Toe sy jare later in Amerika lees van die impak wat MIV/vigs op sulke kinders het, het sy besef Suid-Afrika se infrastruktuur kan nie al die wees- en weerlose kinders ondersteun nie.

“Ek was bekommerd oor wat van hulle sou word. Dis toe dat ek besef het ek kan ’n verskil maak,” sê Angela, wat in Suid-Afrika grootgeword het voordat sy in Connecticut in die VSA gaan studeer het.

Thanda se doelwit is om plaaslike gemeenskappe in KwaZulu-Natal te bemagtig. Om te verseker dat dié ontwikkeling volhoubaar is stel sy net mense uit die gemeenskap aan.

“MIV/vigs, trekarbeid en armoede het verreikende gevolge, maar pleks van hierdie weerlose kinders weg te neem uit die omgewing, word die plaaslike jongmense opgelei om hulle smiddae in naskoolsentrums te versorg en te leer. Die kinders het dan iemand met wie hulle hulle kan vereenselwig én die gemeenskap leer nuwe vaardighede,” sê sy.

Aanvanklik het Thanda elke dag vir die kinders toebroodjies gemaak voordat die naskoolse aktiwiteite begin. Vir baie van hulle is dit die enigste ete van die dag. Angela se prys as wenner van die Clarins/SARIE Most Dynamic Woman-toekenning het dit alles verander. Sy het die R150 000 (vir 2012) en R50 000 (vir 2013) gebruik om hul voedingsentrum klaar te bou en ’n voedingskema te begin. Nou kry die kinders nie meer toebroodjies ná skool nie, maar gebalanseerde kookkos. “Omdat dit ’n hoër voedingswaarde het, is dit baie gesonder en die kinders bly langer versadig.”

Angela sê dit was beslis die moeite werd om aan die kompetisie deel te neem. “Dit het ons span geloof- waardigheid gegee en die hoop dat ons groot doelwitte binne bereik is.”

Verlede jaar was haar grootste doelwit om ’n sentrum met onder meer ’n biblioteek aan die gang te kry. “Ons wou ’n plek skep waar kinders kan leer én speel.”

Dié doelwit is behaal. Hulle kon ongelukkig nie hul tweede groot doelwit – om genoeg geld in te samel om nog 50 kinders in te neem – bereik nie. Nou is haar droom om genoeg geld in te samel om teen 2014 daagliks sowat 200 ekstra kinders te bereik.

In dié tyd het sy geleer hoe belangrik dit is om ’n direkte band te bou en te behou met die mense wat jy help. Sy
het in die begin van die jaar baie meer tyd in die kantoor deurgebring as tussen die mense. Toe sy later besluit om vir ’n paar weke in die Thanda-biblioteek te gaan werk en hoenderhokke saam met die personeel en kinders te bou, het sy weer onthou hoe baie die projek beteken.

Dis nou al vier jaar dat Thanda die plaaslike jeug ondersteun en leer deur die voedingskema en volhoubare landbou-programme, ’n naskoolsentrum en nou die biblioteek. Dis geskoei op die model waaroor sy haar tesis gedoen het nadat sy reeds as 19-jarige haar eerste navorsing in Suid-Afrika gedoen het.

Angela voel trots op wat sy en haar span bereik het. “Ons is deel van die geskiedenis en die verandering wat mense weer troos en hoop gegee het, en ek is bly daaroor.”

Sy en haar span probeer die kinders by Thanda bemagtig deur hulle die helde in hul eie lewe en gemeenskap te maak. “Dit is wat ons anders as ander organisasies maak – ons help die kinders hul trauma oorkom. Ons sien hulle nie as slagoffers nie, maar as helde.”

*Benoem ‘n insprirende vrou vir die 2013 Clarins/SARIE Most Dynamic Woman-toekenning hier.

Lees die reëls hier.