sr1305entrepreneur01
Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Jacky Goliath

Hoe het alles begin?

Ek en my kollega, Elton Jefthas, het jare gelede vir die Landbou-navorsingsraad op Elsenburg [buite Stellenbosch] gewerk. Ek het die fynboskwekery bestuur.

Daarna het ons albei vir ’n nie-regerings- organisasie, ASNAPP [Agribusiness in Sustainable Natural African Plant Products], gewerk, wat landbou-ontwikkeling in Afrika bevorder. Elton is nou die besturende direkteur van die tak in Suider-Afrika.

Maar omdat NRO’s nie altyd finansiële seker- heid het nie, het ons in 2001 ons eie kwekery in sy agterplaas op Kylemore buite Stellenbosch begin – met 1 000 fynbosplante.

Waar kom jul kwekery se naam vandaan?

Een van my gunsteling-fynbosplante is Phylica pubescens, of ’n veerkoppie. Dis baie fyn, met ’n sagte tekstuur. Toe ons ’n naam moes uitdink, het ons aan fynbos en veral aan dié spesifieke spesie gedink. Op ’n manier het ons van die fyn ou veerkoppie en fynbos af by “fynne” gekom.  

Wou jy altyd ’n kwekery besit?

Ek wou altyd in die natuur werk en het Tuinboukunde aan die eertydse Skiereilandse Technikon gestudeer. Nadat ek my diploma gekry het, het ek deur UNISA ’n B.Tech. in tuinboukunde gedoen.

Watter rol speel jou familie in jou sakeonderneming?

My ouers en twee susters gee my elke dag morele ondersteuning. Hulle weet hoeveel van my en Elton se bloed en sweet al in die kwekery gegaan het, so hulle verstaan hoeveel dit vir my beteken. As dit droog is, of as die Kaapse wind die dag wakker word, is hulle saam met my bekommerd. Hulle stel altyd belang.

Wat was die hoogtepunt in jul kwekery
se bestaan?

Verlede jaar staan uit, omdat ons baie prestasies behaal het. Jy werk nie om eerbewyse te kry nie, jy doen maar net wat jy elke dag doen. Dan kom vreemdelinge en hulle gee jou erkenning daarvoor, soos toe ek deur die departement van landbou, bosbou en visserye as 2011 se vroue- entrepreneur in die kommersiële sektor in die Wes-Kaap én Suid-Afrika aangewys is. Dit

het my heeltemal uit die veld geslaan. Ook die Landbouskrywers SA se toekenning as nuwe toetreder tot kommersiële landbou in 2012. Ons het klein begin, maar ons werk elke dag na die beste van ons vermoë. Ons het reeds twee keer na groter persele getrek en beplan ’n derde skuif.

Wat maak jul kwekery suksesvol?

Ons is nie net nog ’n besigheid nie, maar ’n gemeenskap, ménse-mense. Ons verhouding met ons werknemers en kliënte maak ons anders. Almal by die kwekery is vol passie en uithouvermoë. Ek doen baie moeite om personeel se vaardighede te help ontwikkel.

Ons hou ook ’n jaarlikse Kersete vir die werk- nemers en hul gesinne. De Fynne-kwekery is nie net ek en Elton nie – dis ons en ons mense. Al daardie toekennings is die kwekery s’n.

Watter uitdaging was die moeilikste?

Die landbousektor is ’n mansgedrewe bedryf. Ek moes uithou, volhard en sigbaar wees sonder om die mans te probeer domineer. As jy wys jy het hoë standaarde, kan jy dié struikelblok oorkom.

Wat ek geleer het

  • Beplan, beplan, beplan!
  • Volhard en wees deurlopend sigbaar. Wees toeganklik en bou ’n netwerk van kontakte.
  • Harde werk word beloon.
  • Onthou die basiese goed, soos om plante reg te hanteer wanneer jy steggies maak. Raak jy nalatig, sien jy gou die effek wanneer die plant-opbrengs laag is.
  • Water is kosbaar.
  • Wees passievol oor wat jy aanpak.
  • Niks klop gehalte nie.
  • Bestuur jou kontantvloei reg.
  • Om ’n kwekery te bestuur is harde werk: Die plante hou nie Kersfees nie, hulle het altyd aandag nodig!