sr1303_selfhoof_4_
Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Katie Thompson

Eie onderneming

“Ek het binneversiering aan die Design Time School of Interior Design in Kaapstad studeer. Daarna het ek sewe jaar in Suid-Afrika en in Engeland gewerk en ondervinding opgedoen. In Februarie 2009 het ek ’n gebreekte stoel in my tuin opgetel en besluit om dit te restoureer. Ek wou van toe af net pragtige goed skep uit rommel.

“Ek het dadelik as binneversierder by ’n meubelontwerp-maatskappy
in die Kaap bedank. My pa, Gus Thompson, het gedink ek is laf. ‘Hoe kan jy daaraan dink om ’n onderneming met ou, verrotte hout [’n stoel] te begin? Jy het ’n sakeplan nodig,’ het hy gesê.

“Ek het vir my pa verduidelik dat ek ou goed wat niemand meer wil hê nie, kan gebruik – soos ’n ou rathefboom as ’n kas se deurhandvatsel. Die konsep van my onderneming sou dus wees om verwaarloosde goed te herskep met nuwe, pragtige materiale.
“Ek het in daardie stadium ook

gehoor Decorex SA het uitstalruimte vir jong ontwerpers beskikbaar gestel. Binne drie maande het ek my sakeplan geskryf, my eie webtuiste ontwerp en by my ouers in Kenilworth ingetrek om geld te spaar. My onderneming het stadig maar seker begin blom.”

Herwin kreatief

“Ek besef nou as ons ons kinders en kleinkinders in ’n gesonde omgewing wil laat grootword, móét ons soveel moontlik dinge om ons herwin. Dit
is ’n prettige, kreatiewe manier van binneversiering en dis goed om dit vir die omgewing te kan doen.

“Ek is baie trots, gelukkig en dankbaar dat ek my eie onderneming kon begin. Dit is nie altyd maklik nie, maar dis die enigste werk wat my gelukkig maak. Die wonderlikste is dat die artikels mense van alle ouderdomme en kulture nostalgies maak. Ek hoor gereeld lieflike opmerkings wat my hart sommer warm maak: ‘My ouma het nét so ’n stoel gehad’ of ‘Ai, ek is só spyt ek het daardie tafel weggegooi, dit lyk nés die een in jou winkel …’ Dis asof almal hulle met ons produkte kan vereenselwig. Ek is mal oor wat ek doen en is van nature ’n opgaarder, so dié werk pas my perfek. Dit het my boonop ’n tweede kans op ’n lekker kreatiewe beroep gegee.”

Prioriteite

“Dit is baie stresvol om jou eie onderneming te hê. Ek het nie
’n sakebrein nie, en hoewel ek georganiseerd is, is ek nie juis knap met die administrasie nie. Dit raak boonop erger as ek onder druk is! Ek sukkel ook soms om my prioriteite reg te kry en is geneig om die kreatiewe goed waarvan ek eintlik hou vóór die belangrike dinge [soos die administrasie] te doen.

“My ma, Gigi, ’n tuinargitek wat haar eie onderneming vanuit hul huis bedryf, is ’n ongelooflike hulp daarmee. Sy sorg werklik dat ek nie die pad byster raak nie. Ek is baie gelukkig om haar as deel van my ondersteuningstelsel te hê.”

Wat ek geleer het

  • Doen dit net. Hou op om verskonings te maak.
  • Baie mense sal vir jou vertel iets is onmoontlik. Ek het gevind wat hulle eintlik bedoel, is dat húlle dit nie kan doen nie. Moenie na hulle luister nie. Beweeg vorentoe. Kry iemand wat wél kans sien om te doen wat jy wil doen.
  • Besluit of jy ’n ja- of nee-mens is.
  • Probeer om nie bekommerd te wees oor dinge wat jy nié kan verander nie. Fokus jou energie
op dit wat jy wel kan verander.
Dis nie noodwendig maklik nie, maar dit is moontlik.
  • Skryf ’n sakeplan en lees dit elke jaar. Dalk sommer ’n paar keer per jaar. Dit help jou om vorentoe te beweeg en perspektief te behou.
  • Navrae: Skakel 076 989 0871 of 021 447 0007

Lees nóg inspirerende verhale hier: