Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Marlene Vos

Hoe het jy in die bedryf beland?

Ná die dood van my man, Frosty, in 1999 moes ek vinnig ’n plan maak om my inkomste aan te vul. Ek het kinders grootgemaak en nooit gewerk nie. ’n Vriendin het my gehelp om werk te kry by ’n binneversierder in Silverton en ek het teen R100 ’n  dag daar begin. Ek het eers net telephone geantwoord en liassering gedoen, en sommer ook uitgehelp met klein naaldwerktakies soos some insit. Ná twee maande het hulle my bereidwilligheid raakgesien en gevra of ek wil leer hoe om die kwiltmasjien te gebruik. Ek het nie twee keer daaroor gedink nie, ek wou ’n nuwe vaardigheid aanleer.

Hoe het jou onderneming begin?

Die binneversierder het in 2004 na Port Elizabeth verskuif en gevra of ek die kwiltmasjien wil koop. My seun, Polla, het vir my die geld geleen. Ek het van die huis af gewerk en gordyne, kwilte, kussings en sagte meubilering gemaak. Met die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 het ek groot bestellings uit die gasvryheidsbedryf ontvang. Ek het nog mense aangestel. Begin 2012 het ’n buitelandse veiligheidsmaatskappy gevra of ek vir hulle ponchos kan maak.

Was dit ’n uitdaging?

Ek het nie geweet hoe nie. Dit het twee weke geneem om ses toetsponchos te maak. Dit was omtrent ’n storie. Sodra jy die gerubberiseerde materiaal stik, maak dit gaatjies en is dit nie meer waterdig nie. Ons het dit getoets deur ’n sproeier op die poncho aan te sit.My dogter sê nou nog sy sal nooit vergeet toe ek haar bel om te sê die lappie ónder die poncho is droog nie. Dít was ’n hoogtepunt. Die maatskappy was tevrede en het ’n duisend bestel! Een van my werkers het per ongeluk verkeerd verstaan waar hy die kappie moes vaswerk, en by nommer 132 het ons agtergekom ál die kappies sit skeef. Ons moes maar losmaak en oordoen.

En toe het jou onderneming uitgebrei?

Ek moes ekstra masjiene en stikkers kry vir dié groot kontrak.My twee dogters het meer gereeld begin help, en werk nou deeltyds by die onderneming. Carolene [Fourie] doen die bemarking, en Noralene [Vos] help met die administratiewe en finansiële sake. Ons verskil soms, maar bereik altyd ’n ooreenkoms. Ek sal vir enigiemand aanbeveel om saam met familie te werk. Ons het dieselfde werketiek, naamlik om altyd op ’n eerbare manier sake te doen.

Wat is jou grootste suksesse?

Ná die ponchos moes ons nóg ’n duisend verskaf. Ons maak ook ponchos vir maatskappye in Namibië en Suid-Afrika. Maar ons is nog groentjies. Sukses is wanneer jy kan werk en ’n inkomste verdien. En wanneer jy die Here ken in alles wat jy doen. Dis lekker om skeppend te wees. As iemand na my toe kom met ’n idee en vra of ek dit kan maak, is dit vir my geweldig bevredigend.

Is jy ’n suksesvolle entrepreneur?

Nee wat, dis iets wat oor my pad gekom het. Werk is werk, dit hou my besig, en ek is werklik mal daaroor! Ek kan vir myself sorg en werk skep vir ander. Ons werk as ’n span. Ek prober hulle leer om altyd hul bes te doen.

Wat ek geleer het

Doen die beste wat jy kan. Moet nooit afskeepwerk lewer nie. Wees altyd stiptelik. As jy sê iets gaan klaar wees, sorg dat dit betyds is.

Moet nooit jou kliënte teleurstel nie. Jou woord moet jou eer wees.

Moenie jou bekommer nie. Jou lewe is in die hande van die Here en Hy sal sorg.

Moenie in jou eie krag spook en spartel nie.

VIR MEER: 

Marlene Vos 082 4662 765

Carolene Fourie (dogter) carolenefourie@gmail.com

Lees nóg inspirerende verhale hier: