Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Rina Belcher

Dit is ’n fantastiese gevoel om jou naam op die lys tussen Franse en Italiaanse inskrywings te sien. Die kase word deur top-mense van oor die wêreld beoordeel. Dit was die sesde keer dat ek vir dié kompetisie ingeskryf het en ek het in die verlede ook al medaljes gewen, maar dié kaas is anders. Ek het die kulture gemeng en die kaas proe neuterig en het ’n effense soet nasmaak soos ’n tameletjie. Ek het so ’n jaar gelede uit die korporatiewe wêreld getree, maar ek sal nooit aftree nie. Ek kan nie op die stoep sit en wag vir God om my te kom haal nie. Hy weet waar ek is. Ek staan soggens vieruur op en begin in die kaaskamer werk. Ek maak saans so seweuur se kant klaar.

 Toe ons die kleinhoewe gekoop het, wou ons eers proteas plant, maar die grond was nie reg daarvoor nie. Ons het ’n artikel oor ’n kaaskursus in Springs gesien en gaan leer om kaas te maak.Om mee te begin het ons een ram en vier ooitjies gekoop… dit was 9 jaar gelede. Nou het ons 134 bokke en maak elke maand net onder ’n ton kaas, en ’n verdere 23 skaapooie met die oog op skaapmelkkaas.

 Ek is ’n werkholis én ’n perfeksionis. Die eerste keer toe ek ’n jogurt vir ’n plaaslike kompetisie ingestuur het, het hulle gevra: ‘Wat is dit?’ Ek het net gedink: Watch my, ek sal weer inskryf. Die jaar daarna het ek die eerste prys gewen.”

 * Kilimanjaro het ook die Woolworths Cheese Makers’ Challenge gewen en is by sekere takke te koop. Kyk ook uit vir hul kase by die Hazel-kosmark in Menlopark, The Real Cheese Company in Kaapstad en Cheese Gourmet in Johannesburg.

Lees nóg inspirerende verhale hier: