Eie stories

Waar is die boud?

 Michelle, ons dogter op universiteit, kom huis toe vir haar eerste vakansie. Ons besluit om ’n skaapboud met al die “trimmings” vir Sondagete gaar te maak.
Ek wil die boud op Ouma se manier gaarmaak, op ’n stadige hitte tot die vleis van die been af val. Vroegoggend is al die voorbereidings gedoen. Die oond word op baie lae hitte gestel, en ek en Michelle kuier ’n hond uit ’n bos oor tee en muffins.
’n Uur voor etenstyd (ure nadat ek die boud ingesit het) gaan kyk ek gou in die oond. Ek skrik. Waar is die boud?
Dit sit toe nog knus onder ’n kruie-kombersie in ’n baksakkie in die yskas!
Wel, ons het toe net ’n bietjie (baie) later as gewoonlik geëet, niemand het iets oorgekom nie en ons lag nou nog lekker daaroor.
Maria Laubscher, Upington