Eie stories

Waar is ons ma?

Sy lê vir dae, strompel, struikel en mompel in ’n waas,

want voorgeskrewe pille, manipulasie en drank is nou haar baas.

Hulp wil sy nie hê!

“Dis julle almal, die lewe wat my skuld”, is al wat sy sê.

Pa kry swaar: jy slaan, skel en skop,

veral wanneer jy in het … die skelm dop.

Omkoop met geskenke, gunsies en geld,

is nie meer ons, jou familie, se speelveld.

Soebat, dreig, mooi praat én rug buig,

is besig om ons lewensvreugde uit ons te suig

Kop hooghou, met niemand dit deel, bid na bo,

gelukkig is daar darem ’n nuwe môre; dis al wat ons glo.

Mamma, jou selfsugtigheid en druk maak ons nou klaar.

Jy stuur ons stukkie vir stukkie na dieselfde jou-plek, dis waar.

Wil jy nie net in dankbaarheid jou oë oopmaak;

dis ons ondersteuning en onvoorwaardelike liefde wat saak maak.

Andries Krogman, Johannes Kerkorrel se keuse was dalk dwaas,

tog wanneer jy so seermaak, kry ek soms die gevoel om ook daarheen te haas …

dan is ek vrygestel, want dan is niks en niemand meer my baas!

Klop aan by gespesialiseerde hulp en kry sielerus …

Ons wil ons “ou mamma” terughê – dís wat ons mis!

Jou stukkende, desperate dogter namens die familie