sep08mystorie1a
Eie stories

“Want ek kan nie anders nie”

Sabine Plattner kon haar oë nie glo toe sy uit die stortreën by ’n bewaarskool buite George inhardloop nie. “Ek hét gevra om bewaarskole met die grootste nood te besoek, maar dié toneeltjie het my steeds oorweldig. “Binne in die créche – ’n tweevertrekhuisie – het 76 kleuters gesit, skouer aan skouer. In die kombuisie was die dagsorgma, Nikiwe Mbi, besig om op ’n tweeplaatstofie vir almal kos te kook. Ek was só ontroer. Ek het net daar besluit: Dié vrou sál ’n ordentlike plek kry om die kinders op te pas.” Vandag is die Nikiwe Educare-sentrum in Thembalethu ’n volwaardige kleuterskool met sowat 160 kleuters, moderne geriewe soos klaskamers, ’n biblioteek, gimnasium, teatertjie, tuin en speelterrein.

Sedert Sabine, eienaar van die Fancourt Hotel & Country Club-landgoed, en haar man, dr. Hasso Plattner, in 1999 die Fancourt-stigting begin het om agtergeblewe gemeenskappe in die George-omgewing op te hef, het hul welsynwerk al ver uitgekring. Met Sabine as beskermvrou gaan George-kinderwelsyn van krag tot krag. Sy het ook ’n trauma-sentrum gevestig vir kinders wat misbruik en erg verwaarloos is, asook vir diegene wat geraak word deur MIV en vigs. Die Plattners is by talle ander liefdadigheidsprojekte betrokke – van gholfontwikkeling saam met Ernie Els tot die 46664-konsert (ten bate van die Nelson Mandela-stigting) wat in 2005 op Fancourt gehou is. (Die Plattners het die koste gedra.) Maar Sabine se grootste fokus is kinders en opvoeding.

 

As ek in die armste streke kom, voel ek so klein

 

Sy vertel: Ek het nog altyd ’n passie vir kinders gehad. As ek hulle iewers sien speel, moet ek stilhou en kyk. Of net luister. Op daardie jong ouderdom kan jy regtig ’n positiewe impak hê. Hulle is ons toekoms. Ek is trots op wat ons al kon vermag met die stigting se liefdadigheidsprojekte, maar as ek in die armste dele kom, voel ek so klein. Ek is nie iemand vir die blink liggies nie, ek fladder nie van partytjie tot partytjie nie, mý ‘partytjie’ is daar buite waar ek ’n verskil kan maak. Dit gee betekenis aan my lewe. Dis waar ek my vreugde kry en my plek in die lewe vind.

Ander mense speel gholf of maak tuin, ek kry my bevrediging en vervulling op dié manier. Om net ’n tjek uit te skryf was nog nooit my styl nie. Ek wil weet wat gebeur met die geld, hoe ontwikkel die kinders, hoe gaan dit met die ma’s. Dis my geaardheid. Ek het natuurlik fantastiese bekwame personeel en maatskaplike werkers wat daagliks met die ellende daar buite werk, ek kan nie oral wees nie.

Ons is opgewonde oor ons jongste projek – ’n huis van veiligheid vir kinderwelsyn op George. ’n Babaseun van twee maande is in die bosse opgetel en word nou in die huis versorg. Die geld wat ons met ons bal in Oktober vanjaar gaan insamel, is vir dié plek se restourasie en uitbreiding. Vanjaar se tema is ‘Un-Wasted Talent’.

Ons betrek die hele gemeenskap – handwerkers van die omgewing kry ’n kans om hul talente te wys en ‘afval’ op ’n asemrowende manier te omskep. Veral in Afrika is dit ’n baie realistiese tema, met genoeg ruimte vir drome. Sowat 150 jong sangers, dansers en musikante van die omgewing gaan ook wys wat in hulle steek. Ons hoop dit skep ook werkgeleenthede in die toekoms.

Ek en Hasso kom van Duitsland, maar woon sedert 1994 in Suid-Afrika. Mense wil dikwels weet of ek myself as ’n Suid-Afrikaner beskou. Ek kan net sê: Beslis! Ons het die land baie jare besoek vir die natuurskoon en veral vir seilplankry. Ek en Hasso was dikwels op Bloubergstrand. Ons arme dogters, Tina en Steffi, moes in die tierende wind op die strand staan terwyl ma en pa seilplankry. Toe was ons al mal oor die land – as toeriste. Die verskil is nou dat ek my ook kwel oor die mense, ek is betrokke by die daaglikse wel en wee, ek’s bekommerd oor die armoede, ek is besorgd oor die politiek. Bygesê, ek sal seker nooit aanvaar word as ’n Suid-Afrikaner as ek nie die krieketreëls ken nie! My skoonma is in 1971 getroud met ’n Suid-Afrikaner. Daardie jaar het ons Transkei besoek, en ek het van my eerste voorsmakie gehou. Met ons tweede besoek in 1978 het die plek en sy mense my hart gesteel. Ek was so beïndruk met die pragtige Transkei, die mense se waardigheid en hul selfvertroue. Ek was so geesdriftig, ek wou met alle mag ’n onderwyseres word daar, maar Hasso het toe pas ’n nuwe maatskappy in Duitsland begin en hy het dit duidelik gestel: Dan moet jy alleen agterbly!

 

Om terug te ploeg was maar nog altyd by my ‘n ingesteldheid

 

Tog het ek geweet die een of ander tyd gaan ek vir altyd terugkom na hierdie land. En ons het. Maar ek was aanvanklik nie entoesiasties toe Hasso se vennoot aangedring het ons moet kom kyk na die mooi landgoed naby George nie. Ek was steeds aan die bou in Duitsland. Die mense daar lag altyd as ek na myself verwys as ’n huisvrou. Hulle sê nee, jy is ’n huise-vrou. Want ek restoureer en bou die heeltyd huise. Ek wou Suid-Afrika eerder net beskou as ’n vakansieplek, ek was moeg gebou . . . Maar ek het my tog laat ompraat om na Fancourt te gaan kyk. En die res is geskiedenis.

Ek en Hasso het ons eers toegewy aan die ontwikkeling van Fancourt. In 1999 het ons die Fancourt-stigting begin om die voorheen benadeelde gemeenskappe in die Georgestreek op te hef. Om terug te ploeg was nog maar altyd by my ’n ingesteldheid. Ek dink dit kom van my ouers af. My ma het gedurig hulpbehoewende kinders kos gegee. Op Oukersaand, net ná die oorlog, sou sy die haweloses innooi en eers ’n ordentlike bord kos gee. In Duitsland, toe ek opgehou het met onderwys gee ná Tina se geboorte, was ek altyd as vrywilliger betrokke by die gemeenskap, soos om gimnastiek- of ander klasse te gee. Ek ken eintlik nie ’n ander manier van doen nie. Soms is dit moeilik, want jy moet keer vir jou hart.

Vandat ons in die Suid-Kaap woon, het my pad gekruis met baie kinders. Hartseerstories. Maar daar is ook stories van hoop. Veral een sal my altyd bybly. In die begin het ek ’n laerskoolhoof gevra of hy ’n kind ken wat met die geldelike steun van Fancourt hoërskool toe kan gaan. Hy was huiwerig, want die kinders was nie Engels magtig nie. Dit was moeilik en terselfdertyd gevaarlik, want as oud-onderwyser weet ek as jy iemand uitsonder en hy misluk, is dit amper erger. Dit breek sy selfvertroue af. Maar toe kom die hoof eendag met drie kinders by my aan: twee seuns en ’n meisie. Ek sal dit nooit vergeet nie. Hulle was so skaam, hulle het nie gewaag om hul stemme te verhef of hul koppe op te tel nie. Hy moes tolk. En ék moes een uit die drie kies.

Terwyl ek besig was om vrae te vra en so na hulle kyk, kon ek dit net nie meer verduur nie. Die volgende oomblik spring ek op en sê: ‘Meneer, ek vat ál drie!’ Dalk was dit sy plan, jy weet nooit . . . Die meisie moes ongelukkig teruggaan Transkei toe, want haar ma het haar nodig gehad ná haar pa se dood. Maar in 2003 het Mlungisi en Vuyani albei matriek geslaag. Mlungisi moes na en van die skool loop. Later het hy ’n fiets gekry, smiddae ekstra klasse bygewoon en in die supermark gewerk. Ek was in sy matriekjaar die gasspreker by sy skool se prysuitdeling. Hy het die prys gekry vir beste sosiale verantwoordelikheid. Ek was in trane. Hy het ook ’n beurs gekry om boekhouding te studeer. Vandag is hy ’n jong entrepreneur met sy eie motor wat foto’s neem by troues en partytjies, en uitstekend vaar. Vuyani is stiller, maar ook suksesvol. Hy is betrokke in die hotelbedryf. Op die oomblik borg ons vyf hoërskoolbeurse, maar dis steeds hartverskeurend moeilik om te kies. Ek wil aan die een kant betrokke wees en die mense en hul behoeftes ken, maar aan die ander kant moet jy jouself en jou hart beskerm.

Ek is bevoorreg dat my werk my passie is. Ek hou min vakansie, omdat ek so baie reis vir my werk. Ons raak ook ál meer betrokke by Afrika. Die armoede en nood daar buite is eindeloos. Ek hou aan, want ek kan nie anders nie. Ek probeer om gebalanseerd te lewe. As ek tyd het, is dit ’n groot vreugde om ’n paar dae saam met vriende in die berge deur te bring. Of ek galop deur die woude op ’n perd se rug. Ek het as tweejarige vir die eerste keer op ’n perd gesit. In Duitsland teel ons Ysland-perde. Aan die weskus van SA is ons stalle waar my resiesperde geleer word, maar ek is nie ’n tipiese wedrenganger nie. Vir my gaan dit alles oor die perd – ’n pragtige, nederige dier. Dis my gróót liefdes: perde en kinders . . .

Tina en Steffi is ook by ons welsyn-inisiatiewe betrokke. Tina en Hasso het byvoorbeeld saam ’n MIV en vigsopvoedings-en-voorkomingsprogram begin. Steffi is deesdae aktrise in Berlyn en Tina doen haar doktorsgraad in sportwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. Van alles wat ek al vermag het, is ek die trotsste daarop dat ek altyd daar was vir hulle. Ek weet baie mense sal sê dis maklik om ’n verskil te maak as jy geld het, jy kan bekostig om te help. Hulle redeneer: ‘Wat kan een mens nou eintlik doen?’ Maar liefdadigheid begin by jou lewensbeskouing. Dit het níks met geld te doen nie.

Natuurlik kan jy nie alleen die wêreld verander of al die swaarkry in geluk omskep nie. Maar jy kan tog dinge in jou onmiddellike omgewing verander. Elkeen van ons kán iets doen . . . vandag nog.