Eie stories

Wees optimisties, dit voel beter!

Sy is beeldskoon en slim en het boonop ’n hart vir ons planeet. Die voormalige Mej. Aarde SA Ilzé Saunders is in Februarie met haar beste vriend, Dewald Buys, getroud. Nou blog sy vir SARIE.com oor haar lewe, die lesse wat sy leer, en haar nuwe avonture.  

Hier’s haar laaste inskrywing:

Die afgelope agt weke, Donderdag ná Donderdag, was dit my gunstelingtyd van die week: die wonderlike voorreg om met SARIE-lesers te connect en te blog oor my lewe, die lesse wat ek daaruit leer en my avonture as jong vrou in vandag se resies-leefstyl. 

Mens vang jouself dikwels wonder oor waar jy in jou lewe is, of dit is waar jy wou wees, of jy groei en waarheen jy op pad is. My weeklikse inskrywings was my manier om seker te maak dat ek groei deur elke week iets nuuts te doen, iets waaruit ek kan leer en waarop ek trots kan wees. Hopelik ook om iewers langs hierdie ontdekkingstog iemand se lewe te raak of te verryk. Hierdie geleentheid het my in ’n roetine gesit waarvoor ek baie dankbaar is. Ek kon fokus op die mooi, en so ’n fokus maak jou oop vir nuwe uitdagings en kanse om die lewe opnuut te waardeer.

Daarom daag ek jou uit om hierdie selfde uitkyk aan te gryp en om ook elke week te skryf oor die dinge wat jou inspireer. Deur hiervoor plek te maak in jou roetine kan van onskatbare waarde wees vir jouself. In die bedryf wat ek is, is dit moeilik om in roetine te bly, maar deur uiting te gee aan myself en die dinge wat vir my mooi is, het ek ’n nuwe benadering tot roetine ontdek. Roetine wat gaan oor geloof, hoop en optimisme. Waardering vir jou geleenthede en die vertroue dat harde werk altyd vrugte werp – dalk nie hoe jy dit voorsien het nie, maar as jy geduldig is, sien jy jou tyd ryp word. Jou geleenthede verras jou dalk net … 

My resep vir optimisme:

• Wees opgewonde en positief oor die toekoms (deur te glo dat dit amazing sal wees, al kan jy nie die volle prentjie sien nie!).
Stap met selfvertroue en glimlag vir die mense rondom jou.
Vang jou son. Die lewe is uitdagend, ja, maar ook ’n bederf. Met ’n positiewe ingesteldheid kan jy aanhou skep aan jou vooruitgang.
Elke mens het sy highs en lows. Die kuns lê in hoe jy dit benader en wat jy daarvan maak. 

My boodskap is eenvoudig: Be kind to yourself. Probeer optimisties wees oor jouself en aanvaar die opdraandes en gebreke. Ware groei lê versteek in die gewone, die alledaagse. Jy moet dit net kan raaksien.

Tot ons weer gesels, my SARIE-vriende, wees bevonk!

Ilzé Saunders