Eie stories

Wendy Anthonie van Beaufort-Wes, skryf:

My liefste Koenas

Ons eerste babatjie gaan trou! Haai, ek dink mos nou daaraan. Sy verloofde noem hom Poenas (klink na Koenas, nè?).

Ek is so opgewonde oor Rozièrre se troue, my man. Ek herleef weer die tyd toe ek reggemaak het vir óns groot dag: die opgewondenheid om jou vrou te word!

My bruidegom met sy Simson-lokke en Goliat-spiere! Ek weet my tydgenote het my beny. Jy was die kranigste sokkerspeler en aantreklikste jong man in die buurt. En ek?Die vaal muis wat niemand, behalwe jy, raakgesien het!

Haai, Koenas, onthou jy hoe verkeerd jy die Engelse “vows” gesê het? Father Le’Estrange het wrang gesmile toe jy gepraat het van “I pledge you my TROT, en van TIEK en TIN!”  En toe jy twee jaar ná ons troue matriek deurkom, slaag jy toe wraggies Engels met ’n A-simbool!

Jy moes op 13 jaar gaan werk om die pot aan die kook te hou. Op 18 jaar het jy met ’n sak geld by Standard Bank ingestap om jou tjekrekening te open.

Ek onthou hoe die personeel die Polisie bank toe ontbied het. Waar kry ’n 18-jarige bruinman soveel geld? Ek het onlangs gebars van trots toe die bestuur jou bel om geluk te sê vir 34 jaar se lojaliteit.

Jou eerste minnebrief aan my was in potlood op ’n flentertjie bruin papier (die binnekant van ’n leë sementsak). Maar al is jy tot vandag toe hopeloos onromanties, laat jy my hart nog altyd bokspring.

Dis een van die dae ons 31ste Valentynsdag saam. Ek weet jy gaan weer van die 14de vergeet, maar ek gee nie om nie, want saam met jou is dit elke dag Valentynsdag!

Jy’t destyds belowe dat jy altyd na my sal kyk. En kyk, het jy na my gekyk! Jy het jou hande eelte gewerk. 

My eie Superman wat spoorstawe en sementsakke man-alleen opgetel het, vir my die mooiste tafels en kaste gemaak het met die hand, en nagte deurgewerk het om ons huis mooi te maak. 

Jy sal altyd my held bly. Die een met ysterhande in fluweel-handskoene!

Daar is deesdae min oor van jou Simson-lokke. Jou spiere het sag geword, maar hoe lief het ek jou nie steeds nie? My grootste dankbaarheid om te mag lewe. Saans lyk jy soos ’n verdwaalde Rus met jou wolmus, sokkies en hoog toegeknoopte pajamas. Spiersalf verdring deesdae jou geliefkoosde Old Spice-naskeer, maar dis steeds soetsalig om in die holte van jou arm aan die slaap te raak.

Dit was ’n Saterdagaand in 1975 toe jy my gevra het vir ’n blues. Ek het vir ’n oomblik gedink Liz Taylor staan agter my, maar het besef dat ek met my rug teen die muur staan. My kop het begin draai en my hormone was só deurmekaar soos my ma se trifle as dit die dag geflop het. 

As ek kon wens dat die aarde en tyd kon stol, sou dit op daardie oomblik gewees het. Jy het na Peppermint Beechies en Old Spice geruik. Ek wou hê die blues moes rek soos nuwe “lestiek”.

Toe jy my huis toe neem, het ek saggies tot die liewe Heer gebid om tog nie my natgeswete hare te laat kroes nie. Kan jy onthou hoe die ronde karringmelk-maan oor die swart N1-teerpad geskyn het? Kan jy nog onthou hoe ek verwys het na die Suiderkruis wat duidelik skuins gehang het teen die wolklose Karoo-firmament?

Met jou vingers ineengestrengel in my hare het jy my kop skuins gedraai. Ek kon sien hoe die Suiderkruis verder kantel. Ek wou lag en soen, maar niemand kan altwee gelyk doen nie. Ek het maar die lag vir later gehou.

En nou gaan “Poenas” trou. Hy aard na sy pa (al hou hy nie van Old Spice nie).  Hoe gelukkig is sy bruid nie …

Joune “True Tiek en Tin”