Eie stories

Bekende pa’s se dogters bring hul hulde

Gary Player se dogter, Jenny de Luca, gesels oor haar pa

‘Jy moet kritiek kan hanteer’

Gary Player het kleintyd ’n gesonde leefwyse by sy kinders gekweek. Dit was een van sy grootste geskenke aan Jenny de Luca, sy oudste dogter. Vandag is dit haar groot passie en kan sy haar pa ’n ding of twee oor dieet leer. Sy het hom selfs op ’n vegetariese dieet gesit!

Gesonde begin

“My pa glo jou liggaam is jou tempel. Dis belangrik dat ek daarna omsien, genoeg slaap, en nie alkohol drink en rook nie. Hy het my geleer gaskoeldrank en witbrood is sleg vir my, maar ek kon steeds besluit of ek dit wil eet. Dit het ’n groot invloed op my gehad. Ek het ’n liefde vir kook en
heilsame kos ontwikkel en bestuur al jare lank my restaurant, Casalinga, net buite Johannesburg.

“Ek bestee nog gereeld tyd saam met my pa, iets wat kosbaar is. Hy bly sewe maande van die jaar in Suid-Afrika en dan gaan kuier ek gewoonlik vir hom op sy plaas in die Karoo. Ons is albei gek na die natuur en die plaaslewe, en hy het trappe teen die berg op sy plaas laat bou sodat ons saam die berg kan uitklim. Ons ry ook saam perd.”

Ons gee albei graag

“Ek en my pa deel ’n passie vir liefdadigheid [Gary Player samel deur The Player-stigting geld in vir arm kinders wêreldwyd], en ek is betrokke by Acres of Love, ’n liefdadigheidsorganisasie wat huise vir weggooibabas bestuur. Ek het sowat 15 jaar gelede hierby betrokke geraak en help om die regte dieet vir die kinders uit te werk.

Ek reël ook af en toe partytjies vir hulle, en in ’n stadium was ek ook vir ’n ruk ’n pleegouer vir ’n seuntjie.”

Altyd aktief

“My pa sal nooit aftree nie. Hy reis gereeld, speel nog gholf, lewer toesprake en bestuur sy plaas in die Karoo. Ons teel ook saam perde. Ek weet presies waar hy elke dag gaan wees vir die volgende jaar.Waar ander ‘ooms’ op die stoep sit en boerebeskuit eet, is my pa nog bedrywig.

“Ek het nie ná skool gaan studeer nie, maar het soms saam met my pa gereis en vir hom begin werk.

Wanneer hy gaste onthaal het, het ek die spyseniering gedoen. Hy het my geleer dat verandering belangrik is vir ’n sakeonderneming en dat jy kritiek moet kan hanteer. Ook om positief te wees, daarom probeer ek aangename omstandighede vir my werknemers skep – dit moet vir hulle lekker wees om by Casalinga te werk.

“Ek wil mense opvoed om gesond te leef. As elkeen van ons net klein aanpassings maak, kan ons die planeet verander. As ons net een dag ’n week vegetaries eet, sal daar soveel minder diere doodgemaak word. My dogter Antonia is net so passievol hieroor. Sy het nou ’n restaurant met geregte vir veganiste op dieselfde eiendom as Casalinga oopgemaak.”

Jenny de Luca

WAT EK GELEER HET

  • Vervang die negatiewe met die positiewe. My pa het my geleer jy gaan deur jou hele lewe probleme moet hanteer, maak nie saak wie jy is nie. Hanteer dit en beweeg aan.
  • My pa is my inspirasie. Hy leef elke dag asof dit sy laaste is. Hy staan selfs nog om 05:30 op om gimnasium toe te gaan!
  • Moenie wrokke koester nie. Vergewe mense en gaan aan met jou lewe. Hanteer mense met liefde. Dit kan die wêreld verander.
[box:full:grey:both]

Gary: “Daar is ’n gesegde wat sê ‘geluk is aansteeklik’. Dít is Jenny. Sy’s altyd gelukkig. Van kleins af het sy hierdie glimlag op haar gesig gehad. Ek dink sy het dit van my pa geërf, hy het altyd so gelag. Dit help ook in haar restaurant – sy is nooit ongeskik met haar klante nie. Jenny werk ook
baie hard. Ek glo as elkeen in Suid- Afrika net hard kan werk, gaan ons ’n fantastiese toekoms hê.”

[/box]

Mari Kushner, dogter van Shoprite se grootbaas, Whitey Basson oor haar pa

Sy het kleintyd saam met haar pa sy winkels besoek en soveel oor sake geleer as wat sy kon. Sy het nog altyd geweet sy wil ook ’n entrepreneur wees en het verlede jaar haar boetiek, Mari and Me, in Seepunt in die Kaap oopgemaak.

G’n bederf nie

“Ons gesin is na aan mekaar en ek gesels byna daagliks met my ouers oor die foon.Tydens my grootwordjare het my pa baie gereis. Hoewel ek hom nie elke dag gesien het nie, het ons steeds ’n hegte verhouding, en ons deel ’n groot liefde – ’n belangstelling in kleinhandel. Op Sondae het ons gereeld gebraai en vakansie is aan die Weskus gehou. Dan kon ons lank redeneer; debatvoering is een van ons stokperdjies.

“Mense dink ek moet bederf wees omdat ek Whitey Basson se dogter is. Soos dat ek met ontwerpersklere grootgeword het. Dis nie waar nie. My pa het my vriende se ouers gebel om te hoor hoeveel sakgeld hulle kry om te besluit hoeveel hy vir my gaan gee. Ek het my ouma se ou kar gekry toe ek universiteit toe is en het deeltyds by ’n klerewinkel in Kaapstad gewerk. Ek moes ook tydens universiteitsvakansies werk en het in Shoprite se koopafdeling my tande vir die toekoms geslyp.”

PASSIEVOL OOR SAKE

“Ons het altyd sake in ons huis bespreek. My pa het my geleer dis belangrik dat ek my huiswerk doen en ’n sakeonderneming begin waaroor ek passievol is. Hy sê altyd ek moet my werk wil leef. Ek moet só passievol daaroor wees dat ek nie anders kan as om ’n sukses daarvan te maak nie. Nadat ek studeer het, het ek lank as ’n aankoper by Truworths gewerk. Ek is mal oor mode.Om’n boetiek oop te maak was ’n natuurlike evolusieproses.

MY PA IS 100% AGTER MY

“Ek en my pa het dieselfde soort persoonlikheid. Ons is albei perfeksionisties en hardkoppig. Ons stamp soms koppe, maar sorteer dit dadelik uit. Ons is geheg aan mekaar en dis vir my wonderlik dat hy my 100% ondersteun.

“Ek was vooraf senuweeagtig oor hoe die publiek my boetiek sou ontvang; ek het druk ervaar om suksesvol te wees omdat hy ’n groot sakeman is. Tog dink ek almal wat ’n sakeonderneming begin, ervaar druk. My pa sê altyd jy moet betrokke wees by elke aspek van jou onderneming – van kliëntediens tot geldsake. Jy kan nóú vir hom vra hoeveel ’n blikkie baked beans kos en hy sal weet.

“Dis opwindend om my boetiek te bestuur.Teen die einde van die jaar wil ek graag ’n tweede een in die Kaap oopmaak en later ook uitbrei na ander dele van die land.”

WAT EK GELEER HET

  • My pa het nog altyd hard gewerk, maar hy het ook ’n gesinslewe gehad.
  • Ek hoop ek sal ook soos hy my vinger op die pols van albei kan hê.
  • ’n Ondersteuningstelsel is belangrik. Jou familie moet aan boord wees as jy ’n onderneming begin.
  • Met harde werk is enigiets moontlik.
  • Wees oop vir die opinies van mense wat meer ervaring as jy het. Moenie bang wees om raad te vra nie.
[box:full:grey:both]

Whitey: “Mari is gemotiveerd en gedrewe. Sy staan vroeg op en gaan slaap laat. Sy glo, soos ek, die kliënt is altyd reg, en wanneer jy sleg verkoop, is dit jou eie skuld.

“’n Belangrike lewensles wat ek haar geleer het, is dat jy altyd bo verdenking moet bly en eerlik moet wees teenoor jouself en die mense met wie jy in aanraking kom.”

[/box]

Hannah Borthwick oor haar akteur-pa, James Borthwick

“Jy kan jou nie kwel oor wat mense dink nie’

Hannah Borthwick, die akteur James Borthwick (van TV-reekse soos Erfsondes, Konsternasie oppie
stasie en Fees van die ongenooides) se jongste dogter, het in haar pa se akteursvoetspore gevolg, al het sy geweet werksaanbiedinge kom ongereeld en die bedryf is geldelik onstabiel. Sy is te sien in die toneelstuk Janneman saam met Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel. Hannah is ook besig met haar meestersgraad in drama aan die Universiteit Stellenbosch.

Altyd daar

“My ma, die aktrise Rika Sennett, het vir ’n ruk ophou werk toe ek en my suster, Kate, klein was omdat sy graag self haar kinders wou grootmaak. My pa het haar dit gegun. Hy moes baie werk en was gereeld weg van die huis af. Tog, as ek terugdink, kan ek nie onthou dat hy nie daar was nie.

Op ’n manier kon hy dinge balanseer sodat hy tyd saam met ons kon deurbring. “Een van my gunsteling-herinneringe is hoe hy my saans in my bed toegemaak het. Dan het hy in sy eie taal in so ’n hoë stem gepraat. Dit was snaaks.

“Ek bly in die Kaap en hy in Johannesburg, maar ons stuur gereeld vir mekaar ’n SMS om hallo te sê en op die hoogte te bly van wat in elkeen se lewe aangaan.”

Hardkoppig, nes my pa

“My pa kon nie glo ek wou ’n aktrise word nie omdat die omstandighede soms so moeilik is. Ons hele gesin is emosionele mense met ’n kunstenaarstemperament en hardkoppig. Gelukkig het ek die vryheid gehad om my eie besluite te neem. Regdeur my grootwordjare het ek gesien hoe die lewe gaan lyk as jy ’n akteur is – jy lewe soms van maand tot maand, die skedule onreëlmatig . . .

Ek het geweet waarvoor ek myself inlaat. “Dit het beslis in my guns getel dat my pa ’n akteur is. Ek dink mense het makliker van my kennis geneem. Maar ek weet ook as ek nie hard gaan werk nie en nie goed toneel gaan speel nie, gaan mense vinnig van my vergeet.”

Bars van trots

“My pa het nog altyd emosioneel geraak as hy my op die verhoog sien. Ná die tyd sal sy oë soms rooi gehuil wees. Hy’s nie noodwendig trots op my omdat ek ’n aktrise is nie, maar eerder omdat ek my hart op die verhoog uitspeel en iets doen waarvoor ek regtig lief is. “Dis wonderlik dat ons in dieselfde bedryf is. Ons gesels baie oor die uitdagings en dis lekker om sy insette te kry. Ek sal graag eendag saam met hom wil werk. Nou wil ek net eers my eie voete vind.”

Hannah Borthwick

WAT EK GELEER HET

  • My pa het nog altyd hard gewerk, maar hy het ook ’n gesinslewe gehad.
  • Ek hoop ek sal ook soos hy my vinger op die pols van albei kan hê.
  • ’n Ondersteuningstelsel is belangrik. Jou familie moet aan boord wees as jy ’n onderneming begin.
  • Met harde werk is enigiets moontlik.
  • Wees oop vir die opinies van mense wat meer ervaring as jy het. Moenie bang wees om raad te vra nie.

WAT EK GELEER HET

  • My pa het my geleer om nie te veel om te gee wat mense van my dink nie. Mense gaan veral ’n opinie oor jou hê as jy ’n aktrise is, maar as jy jouself daaroor kwel, gaan jy jou mal dink.
  • Jy moet empatie hê. Om ’n goeie akteur te wees moet jy jouself in iemand anders se skoene kan plaas en hul ervaring verstaan.
[box:full:both:grey]

James: “As Hannah besluit het om toneelspeel as loopbaan te volg sal haar passie en liefde vir die teater ’n groot plus wees. Jy kan nooit voorspel of iemand ’n sukses daarvan gaan maak nie. Ek is al 35 jaar in die bedryf en weet nog nie wat die definisie van ‘sukses’ is nie, maar ek was nog altyd
lief vir toneelspeel! Ek hoop Hannah het van my geleer om elke projek met toewyding aan te pak, maar terselfdertyd haarself nie te ernstig op te neem nie.”

[/box]

  • Ria

    Ja dit laat my terug dink aan my pa was baie hard werkend en ook baie fiks maar vandag dit is nou vadersdag is hy nie meer met ons, maar dit stek my gerus hy is op die ouderdom van 91 oorlede en het n goeie lewe gahad. Liefde vir PA Ria