stefan_seoul_1
Eie stories

Winter in Seoel

Dis mooi, maar skugter, skaam; so al asof die winter nog nie reg is om homself ten volle aan te kondig nie. Ek voel hartseer; dink aan geliefdes by die huis in die Kaap en verlang sommer na mense wat ek nie ken nie.

Buite waggel ’n kromgetrekte oumatjie met haar inkopiemandjie op wiele in die straat af. Sy dra ’n wolmus, handskoene, dik jas en serp. Net haar neus steek uit. Sy stap stadig. Ek voel jammer vir haar en wil haar help, maar bedink my dan. Dis nie ’n tyd vir uitreik nie, maar vir wegkruip.

Die koms van die winter bring altyd ’n klein geestestorm saam. ’n Regrukker wat alles omdolwe, net om my te herinner aan die skadu’s in my siel wat ek so maklik in die somer vergeet het. Die winter wikkel koue verlange uit my verlede los. Hartsere wat diep in my siel bevrore bly lê het. Ek is net nooit voorbereid op hierdie skimme as hulle so onverwags hul verskyning maak nie. Tog is hulle soos ou kennisse op Facebook; sodra jy weer kennis maak dan raak hulle weg in die gedrang van alledaagsheid.

Dis middag en ek sit in Starbucks naby Sinnonhyung-stasie in Gangnam se hoofstraat. Dit sneeu steeds. Vlae sneeu bedek motors ingepak langs mekaar, ses lane breed. Mense skarrel-skaats oor sypaadjies na deure, busse, taxi’s en warmte. ’n Magdom mense. Ek kan hul oë nie peil nie. Ek wil weet of storms in hulle ook woed. Net vir nou, vir ’n paar dae terwyl Vader Tyd die ratte van die lewe versit. Die geskarrel voor die venster maak my lighooftig. Ek kan nie fokus op my heimwee nie. Ek wil dit koester en vertroetel. Ek koop nog ’n koffie en verskuif my sitplek na ’n rusbank teen die muur waar ek gou in ’n goedkoop gedagtegang wegsak.

Die verlange lê diep na die winters van die Kaap, na die onheilspellende Suidoos wat aanhoudend om hoeke fluit en groot reëndruppels hard teen ruite piets. Cumulus, cumulo-nimbus, nimbo-stratus, cirrus – ’n kaleidoskoop van dreiging, misnoeë en uiteindelik breek as die Kaapse wintersonnetjie sy weg in die laatmiddag deur die grysheid baan.

Ek stap uit op straat en systap ’n paar mense terwyl ek my jas styf om my trek. My droë, skilferneus trek saam teen die koue poolwind wat oor die Siberiese vlaktes na my toe aangewaai kom. Ek draai in die rigting van Gangnam-stasie, op soek na ’n dieper troos.

By die Kyobo-gebou sak ek af na ’n enorme kelderverdieping waar warmte en die geur van boeke my met ope arms ontvang. Hier maak die miernes-parade minder saak. Hier deel mense die liefde vir die geskrewe woord. Hulle sit in paadjies, op klein rusbankies en rakke. Dit lyk soos eksamentyd in die J.S Gericke Biblioteek op Stellenbosch. Ek vroetel hier, vat daar na ‘n boek, terwyl my winternostalgie stadig smelt. Die grys dag maak plek vir ’n verligte nag.

Wandelpad

Buite tref die koue my weer en die droefheid wil-wil net weer pik. Ek stap verder, al hoe dieper die inkopie-paradys van Seoel binne. Wolkekrabbers skiet die lug in, versier deur die neon van handelsmerke en Koreaanse skrif. Die geur van gebraaide inkvis en sywurm-larwes vul die lawaaierigheid om my. In ’n systraat peul mense by kroeë en restaurante in om die koue te ontsnap.

Gebraaide hoender en bier, sojo saam met ’n binnenshuise braai of ’n stomende pot, rissie-warm sop; alles staan reg om die koue ’n les te leer. Mense lag uitbundig. Wolklossies bop op en af op popgesiggies. Ek marsjeer in gelid saam met die menigte oor die zebra-strepe. Aan die ander kant van die pad wag nog grimeerwinkels, restaurante, koffiewinkels en ander geldtruuks.  

Op pad huis toe loop ek verby ’n troeteldierwinkel. Agter die bevrore glas lê bolle wol ineengestringel op soek na ’n bietjie warmte. En ek kan maar net glimlag.

So 100 m verder gly ek en val op my agterstewe. ’n Paartjie giggel verleë vir my ongemak en help my dan opkom. Hul groet gemoedelik voor hulle verder aanstryk. Ek loop verder, skielik met ’n ligter tred in my stap. Daardie een verbintenis, daardie een blykie van warmte maak die grootste verskil. En ek verstaan. Môre sal ek weer kan verder gaan, die winterspook vir eers verdryf, want die reën, die sneeu en die wind is ook maar deel van my.

Stefan Lotz, Seoel

 

 

 

  • http://oocwukomdybt.com/ ykgtunjuba

    h7AkDG zojhrxjxbgrs, [url=http://lhskxljgyjkk.com/]lhskxljgyjkk[/url], [link=http://piumokqmfsuq.com/]piumokqmfsuq[/link], http://besibubdxadv.com/

  • Mandy

    Is daar ‘n groot storie (= This is a beautiful story)

    Although cold weather of Seoul makes people want to stay indoors and avoid those windy and freezing weather, for some reason, I feel very warm at winter despite of its coldness. I felt likewise this years – perhaps, those sharing made me felt nice and warm.

    p.s. Special thanks to Google Translator.

    Your fan, Mandy