Funksies

Bottelary Hills Wynmaker Middagete dek Langtafel by Mooiplaas

Buiten die vooruitsig van ‘n betowerende middagete by een groot tafel in die landgoed se geskiedkundige Kaaps-Hollandse herehuis wat dateer uit 1833, sal gaste ook die jongste kelderskatte van hierdie sub-roete van die Stellenbosch Wynroetes kan ervaar. In die hartlike geselskap van Mooiplaas, Kaapzicht, Goede Hoop en Hartenberg, sal die dag afskop met ‘n wynproe van ‘n keurspel Chenin Blanc, Riesling, Pinotage en Cabernet Sauvignon afkomstig vanaf hierdie erkende wynplase, gevolg deur ‘n sabrage seremonie en die luilekker Langtafel middagete. Gedurende die ete wat sal wat kreun van koesterkos wat met passie deur Mooiplaas se Dirk Roos voorberei is, sal die wynmakers ook met die gaste die fynere details en geheime van wynmaak deel. Die Bottelary Hills Wynroete wat noordwes geleë is van Stellenbosch – half weggesteek op die R304 en M23 – bied ‘n onontgonne wêreld van gehalte wyn aan skerpsinnige wynliefhebbers en diegene wat ‘n groot waardering vir die Kaapse erfenis koester. Die groot sjarme van die wynroete is seker die feit dat meeste van sy plase aan families behoort wat al vir generasies lank dit bewerk en bewoon. Die ryke geskiedenis en familiegees wat daar heers kom duidelik na vore in hul wyne. Die Mooiplaas feesmaal begin 12:30 en kos R250 per persoon wat ‘n wynproe, asook ‘n viergang-ete met ‘n glas wyn vir elke gang insluit. Voorafbesprekings is noodsaaklik siende sitplek uiters beperk is. Om jou plek te bespreek skakel Tel: (021) 886 8275 of stuur ‘n epos na marketing@wineroute.co.za. Mooiplaas is geleë op die M23 Bottelary pad, vanaf die R304 in die rigting van Stellenbosch.