villiera_lr_4
Funksies

Bottelary Hills Wynmaker Middagete vonkel by Villiera

Hierdie elegante al fresco fees beloof gastronomiese genot deur Sjef Christophe Dehosse van Joostenberg Bistro; hartlike, ongekompliseerde gasvryheid, en ‘n ruimhartige keurspel van somerswyne van Goede Hoop, Hartenberg, Kaapzicht, Mooiplaas en Villiera. Met laasgenoemde – een van ons land se vernaamste Cap Classique produsente – as gasheer van die dag, kan jy jou maar regmaak vir ‘n elegante, vonkelende Wynland-ervaring soos min. Die Bottelary Hills Wynroete wat noordwes geleë is van Stellenbosch – half weggesteek op die R304 en M23 – bied ‘n onontgonne wêreld van gehalte wyn aan skerpsinnige wynliefhebbers en diegene wat ‘n groot waardering vir die Kaapse erfenis koester. Hierdie onbekende ‘juweel’ van die Stellenbosch Wynlande wat skitter met ‘n ryk geskiedenis, is die tuiste van van die oudste wynplase in ons land, insluitende Beyerskloof, Bellevue, Goede Hoop, Groenland, Hartenberg, Kaapzicht, Mooiplaas, Stellenrust en Villiera. Die Bottelary heuwels dra by tot die komplekse terroir van die area wat bekend is vir bekroonde rooiwyne, terwyl die hange van die heuwels gelawe word deur seebriese vanaf Valsbaai en Tafelbaai, wat weer gunstig is vir wêreldklas witwyne en Méthode Cap Classiques. Die groot sjarme van die wynroete is seker die feit dat meeste van sy plase aan families behoort wat al vir generasies lank dit bewerk en bewoon. Die ryke geskiedenis en familiegees wat daar heers kom duidelik na vore in hul wyne. As jy hou van die idee van ‘n lui-lekker Sondagmiddagete in die Wynland, met goeie kos, gehalte wyn en hartlike geselskap by stylvolle tafels waar vreemdes vriende raak, is die Bottelary Hills Wynmaker Middagete by Villiera net die regte doepa om jou naweek op ‘n hoë noot af te sluit. Die feesmaal begin 12h00 en kos R250 per persoon wat ‘n wynproe, asook ‘n viergang-ete met ‘n glas wyn vir elke gang insluit. Voorafbesprekings is noodsaaklik siende sitplek beperk. Om jou plek te bespreek skakel Tel: (021) 886 8275 of stuur ‘n epos na marketing@wineroute.co.za. Villiera is geleë 40km vanaf Kaapstad, 20 km vanaf Paarl en 10 km vanaf Stellenbosch, op die R304.