langtafel_web
Funksies

Cultivaria kunstefees

Vanjaar se Cultivaria skop weereens af op ‘n glansryke noot met die tradisionele Bovril buitelug langtafel. Hierdie swierige geleentheid is deur die TV-program Glitterati aangewys as een van die top tien glansgeleenthede in Suid-Afrika en die sonderlike atmosfeer skep ‘n onvergeetlike ervaring van uitmuntende musiek,’n fynproewerspyskaart en bekroonde wyne. Befaamde aktrise Sandra Prinsloo is die gasvrou vir die aand en Myra Maud, Cristiaan Mangano, die Gugulethu Tenore sal saam met die Frank Petersen simfonie-orkes sorg vir musikale vermaak uit die boonste rakke. Die amfiteater huisves die Moir’s hoofarena met van die top produksies by die fees wat elke aand op die imposante verhoog aangebied sal word. Mega-produksies soos Tydloos, Drie van die Bestes, Chris Chameleon, Afri-Talia sowel as die Sondag skemerkonsert met Mango Groove sal almal in die hoofarena aangebied word. Die Cultivaria feesterrein spog ook met ‘n verdere vier luukse, lugverkoelde produksieteaters, waar van die beste komedie, dramaproduksies en musiekvertonings in die land daagliks vanaf 09h00 tot 17h00 op die planke gebring sal word. TV sjef Sonia Cabano kook weer ‘n storm los in Bokomo kombuis met feestelike resepte vir elke geleentheid en deel raad en resepte met feesgangers tydens lewendige kookdemonstrasies. Die buitelug kuierterras teen die hange van die Paarlberg is die ideale ontspanplek vir feesgangers en talle kosstalletjies en wynprodusente sal sorg vir innerlike versterking, terwyl feesgangers die asemrowende uitsig oor die vallei kan geniet. Vir die jongspan sal die Liqui-Fruit kinderteater weereens sorg vir hope pret en plesier met vele buitemuurse avonture en gepaste kinderproduksies. Vir die volledige feesprogram, besoek www.cultivaria.com. Aanlynbesprekings kan per kredietkaart gedoen word.