Funksies

Delheim prut van pure Jazz & Kaasfondue genot op Sondae

Hierdie nostalgiese wintersbederf is jou toevlug om jou naweek op ‘n sielsverkwikkende, hoë noot af te sluit, wanneer Delheim se kookwater sjef, Christine Claasen, haar weergawe van ‘n eg tradisionele kaasfondue voorsit en letterlik ‘n stokkie voor mistroostige reëndae steek. Hierdie koesterende kaasbederf word verlekker met voetstamp vermaak in Delheim se gesellige proekelder waar die stomende potte Switserse fondue en bekroonde landgoedwyne die sintuie sal streel saam met die klanke van die bekende The REAL Wicomb Jazz Trio. “Hier by Delheim hou ons ons nie op met fynproewer-fieterjasies nie en bied ons eerder die ideale kuierplek vir families en vriende om gehalte, heilsame kos en goeie wyn te geniet. Gedurende die wintersmaande sorg ons nou ook vir ‘n ekstra lekker smelt-in-die-mond ervaring met ons watertand kaasfondue – gemaak volgens die eg tradisionele Switserse resep en bedien met plaasvars brood en crudités om die smullus te sus,” vertel Christine. Sy het laat in 2012 by Delheim aangesluit en vorige werkservaring van hierdie entoesiastiese sjef sluit in die 5-ster Cape Grace Hotel in Kaapstad. Vleisliefhebbers kan hulle kaasfondue verlekker met aartappel-en- prosciutto happies en buiten die fondue, kan voor- en nageregte – wat wissel van samoosas, patees en carpaccio tot Grappa met donkersjokolade truffels – addisioneel bestel word by Delheim se Garden Restaurant. Die Delheim Jazz & Kaasfondue middagetes op Sondae kos R150 per persoon wat ’n groetglas Glühwein met aankoms; die kaasfondue, sowel as die musiekvermaak insluit (voor- en nageregte asook die vleiserige by-bederfies kos ekstra.).Die jazz-groep sal vanaf 12h30 tot 15h30 ritme aan die samesyn verleen. Besprekings is noodsaaklik! Skakel Delheim by Tel: (021) 888 4607 of stuur ‘n epos na restaurant@delheim.com om jou tafel te bespreek en skryf sommer nou dadelik die volgende datums in jou dagboek: 7 Julie, 14 Julie, 21 Julie, 28 Julie, 4 Augustus, 11 Augustus, 18 Augustus en 25 Augustus. Amper vier dekades gelede was Delheim die eerste wynlandgoed in die land wat ook kos aan sy gaste begin bied het, en vandag is sy familie-vriendelike Garden Restaurant met sy idilliese ligging, nog steeds ‘n gewilde wynlandbestemming en word dit gelief vir sy huislike atmosfeer en lekker koesterkos. Delheim is geleë op die Knorhoek Pad (wat afdraai uit die R44) en vorm deel van die Simonsberg subroete van die Stellenbosch Wynroetes.